Kortliks: Post-postmoderne/-moderne

  • 7

Ek vind dat ek eenvoudig nie meer met sekere mense sinvol kan kommunikeer nie. Hoekom? Ek het tog ook so gedink. Wat het gebeur?

Êrens oor die afgelope paar jaar het my wêreldbeskouing en paradigma geskuif. Wat gebeur het is dat my pogings om komplekse dinamiese stelsels te verstaan my denke radikaal geskuif het. ’n Kop-skuif. Ek het komplekse dinamiese stelsels (soos die werking van die brein) as my onderliggende metafoor aangeneem.

So, onderliggend aan ’n wêreldbeskouing lê daar metafore. ’n Kort storie oor dinge. Hierdie storie word weer gebruik om sin van ander dinge te maak. Dis die hermeneutiese sleutels wat ongesiens rondlê en ons idees oop-en-toesluit.

Die moderne se metafoor was die meganiese klok.  Ratte, kragte, draai en beweeg. Dit dryf die proses. Die beste metode om alles te verstaan was analise. Haal uitmekaar en ondersoek elke element. Vooruitskatting, beplanning en beheer is moontlik. Nie net moontlik nie, maar nodig – die goeie. Idee-fabrieke vervaardig die konsepte wat gebruik word om alles onder beheer te kry – standaardisasie is die wagwoord. Onderwerp aan normatiewe gedrag. Die moderne seëvier.

In die middag daag 'n kind op. Hy kyk na die klok. Haal dit uitmekaar en wys vir almal dat die ratte wat draai en die kragte wat speel nie noodwendig is nie en ook nie waarheid verteenwoordig nie. Waar is die primêre rat? Waar is die primêre krag? Hierdie horlosie kan nie vertrou word om die tyd aan te dui nie. Miskien is dit voor of miskien agter. Ons misverstaan alles! Daar is dit nou. Die moderne is dood. Ons sit in angs en kyk na die klok en ons weet nie hoe laat is dit nie. Post-klok. Post-modern.

Terwyl die mense sit en stry oor wie se misverstaan van hulle eie horlosie se tyd die belangrikste is en hoe die ander een se aandrang op die geldigheid van sy tyd geweld is, stap ander mense aan. Nuwe horison. Nuwe verstaan. Nuwe metafoor.

Die meganiese klok is net 'n ding en die tyd wat dit aandui is relatief. Maar dinge en hul goed maak saak, is verstaanbaar, is kommunikeerbaar en is betekenisvol as deel van die stelsels waarbinne dit op 'n praktiese manier plaasvind. Die nuwe basis-idee is komplekse aanpasbare stelsels, met gerigtheid, met ontluikende patrone. Dit hef die debat tussen die moderne en post-moderne op. Hulle perspektiewe is albei gebonde tot die meganiese heelal. Die ou metafoor is nie meer van toepassing nie. Die nuwe metafore vir ons tyd is die werking van die brein, ’n miernes of  ’n epidemie.

Die verbrokkeling van die ou paradigma word al hoe erger. "Julle verstaan nie!" skree hulle. "Ons moet beheer!" "Ons is nie irrelevant nie!" Maar die realiteit is dat al daardie ‘tekereganery’ die stuiptrekkings is van 'n sterwende paradigma, van 'n sterwende wêreldbeskouing, van 'n sterwende metafoor. Beide die moderne en post-moderne se tyd is verby.

Hierdie is nie net stelseldenke nie. Die verstaan van komplekse aanpasbare stelsels is ’n nuwe wêreldbeskouing, gebaseer op nuwe metafore, wat ’n nuwe paradigma skep en eiesoortige verstaan moontlik maak. Dit maak nie analise, metafisika of dekonstruksie ongedaan nie, maar kontekstualiseer dit en plaas dit in perspektief.

Die waarheid bestaan, maar dit is stelselgebonde!

Sommige van die gidse op my reis:

Biomatrix: A Systems Approach to Organisational and Societal Change deur Elisabeth Dostal

Complexity and Postmodernism: Understanding Complex Systems deur Paul Cilliers

Embracing Complexity: Strategic Perspectives for an Age of Turbulence deur Jean Boulton, Peter Allen, Cliff Bowman

Gödel, Escher, Bach: An Eternal Golden Braid deur Douglas Hofstadter

Scrum: The Art of Doing Twice the Work in Half the Time deur Jeff Sutherland

The End of Alchemy: Money, Banking, and the Future of the Global Economy deur Mervyn King

Johns Hopkins’ MOOC oor Systems Thinking in Public Health

Groete,
Johannes
Gumpoldskirchen
16 Mei 2018

  • 7

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Twee wolwe en een skaap bespreek wat daar vir middagete gaan wees?
    Dis tirannie van demokrasie, massas wat regeer. Jy moet verlore raak in oglokrasie.

  • Flavius Untermensch

    Interessant dat al sy 'gidse' Engels is. Is daar nie gidse in Afrikaans, Duits of Portugees nie?

  • Hans Richardt

    Flavius Untermensch, miskien verstaan hy nie dat politieke korrektheid ideologieë vinniger uitfaseer tans, met kunsmatige intelligensie ontwikkel. Die sg tegnologie gaan vele mense oorbodig maak, meer kanonvoer vir oorlog. Kunsmatige intelligensie-robotte in nuwe weermagte wat reeds ontwikkel.
    Feit is, SA se verwysingsmodel is nou agterlik teenoor res van sg ontwikkelende lande en eerste wêreld lande. In die platteland ry mens nog op ou smal voos geryde paaie uit 1960's en 1970's. Riool loop orals. Water is op. Post moderne beteken vir regressie in ontwikkelingsproses en denke. Vir lande wat leidende rol speel in wêreld beleef ultra-moderne tydperk.

  • Gits Johannes ek gaan nie eers probeer voorgee ek verstaan alles wat jy sê nie en probeer ook nie voorgee daar is geen waarde daarin nie.
    My verstaan van die wêreld waarin ons leef en die se waarheid behels eenvoudig die observasie van die natuur. Wat my ervaring daarvan is sal natuurlik verskil van 'n ander se ervaring. Al hoekom - volgens my - die waarheidstelsel gebonde voorkom is omdat ons dit so omvorm en dan "buy into it". Ons het byvoorbeeld die "geld-waarheid" van die Amerikaners, die "militêre-waarheid" (of hero worship) van Noord-Korea en die "vry-waarheid" van die ou wat iewers in 'n bos in die trope 'n bestaan voer sonder kontak met enige van die vorige genoemde twee (doodgelukkig in sy onwete om sonder daardie twee gemeenskappe se waarheid klaar te kom).
    Uiteindelik is ons produkte (en dalk ook slawe) van ons stelselgebonde waarheid en verknog daaraan; as ons dit natuurlik toelaat.

  • Hans Richardt

    Zhi, mense is slawe, omdat hul die emosionele plakkery verkies.
    Ons buite gevangenisse kies ons vryheid of gebondenheid binne sisteem. 'n Sisteem is nie 'n persoon, mens of regspersoon nie. Dis 'n entiteit.'n Sisteem onderskryf wel 'n waardesisteem, goed vir een, sleg vir ander.

  • Ek kan sien wat Johannes Heyl se probleem is: Daar is en was geen paradigmaskuif nie - al wat gebeur het is dat Johannes, soos hy groter en ouer geword het wyer begin lees en dink het en agtergekom het dat, wat tot op daardie stadium in sy kop ingeprent was, baie subjektief was. Daardie konflik, tussen breinspoeling en rasionele denke, is wat Johannes deurmekaar maak.

  • Joh! Great artikel. Terwyl ek lees hoor ek Sting: "... everyone saw the big clock ticking, nobody knew, nobody knew the time ..."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top