Koos. Weereens vir oulaas.

  • 1

Koos is mos as kleine kind aangeneem deur Oom Wol. Lank voor die dae wat dit die polities korrekte ding was om te doen. Want Koos was mos 'n Bruin weggooikind. Die ouers het hom heel waarskynlik iewers gelos in die hoop ... Want sien, Koos was mos maar nie helemal normaal nie. Mal soos 'n haas soos die mense destyds beduie het maar ons praat nie meer so nie. Dis nie dat iemand snaaks gekyk het na Oom Wol en antie Lenie se Bruin kind nie. Niemand sou dit durf waag het nie. Want soos die ou manne was was hulle mos maar harde manne wat sommer gou 'n spul moeilikheidmakers op 'n hoop gejaag het.

Ek het hom maar so hier kom kry. Soms straataf gestap as hy gestuur is iewers heen. Middelpaadjie netjies gekam en elke haar op sy plek. Kettingroker. Life was sy handelsmerk tot BAT Life ophou maak het want te min mense het dit gerook. En toe, na lang verduidelik enigiets solank dit 'n pakkie rooi sigarette is. Op 'n dag kry Koos iewers 'n ou spietkop of poliesiepet in die hanne en vir jare daarna was Koos baie paraat. Lank "opgelees" hoe 'n spietkop moet beduie en staan en hoe hy moet optree. En eendag is Koos weg. Tot die Boere opdaag met Koos agterin die geel vangwa. In trane en aan’t beduie dat hulle hom stop om sy werk te doen. Die poliesman beduie dat dit lang spook moes kos om Koos te oortuig dat 'n padblokkade nie so gehou word nie. Want sien, Koos het dit in sy kop gekry dat die N2 sy patrolliewerk nodig het. Bloot op die snelweg gestap en beginne voertuie stop tot die punt waar die verkeer ver oor die Pontshoogde opgedam het.

Elke bestuurder hoflik gegroet en ewe waardig om die voertuig gestap en bande, ruite en lisensies ondersoek. Uitgevra oor waarheen die reis nou is en wat die bestuurder nou eintlik in Uniondale of Knysna wil maak as alles hier is. En so het Koos Spietkop met gereelde klokslag die snelweg geblokkeer en die Boere wat hom huistoe bring. Moet sê, dit was in die vorige era maar hulle het hom maar verdra soort van.

Tot die dag wat Oom Wol die tydelike met die Ewige verwissel het. Na die begrafnis het Koos 'n streep by die hek getrek en hy het nooit weer oor daardie streep getrap nie. Die enigste manier wat hy ooit uitgekom het was as hy gery is by die hekke uit. Altyd agterin gesit want hy het geglo hy word rondgery so hy sit waar vername mense altyd sit in 'n kar. Verseg om uit te klim as die deur nie oopgemaak is vir hom nie.

Die nuwe generasie het maar vir Koos versorg soos wat gedoen moes word en Koos het die tuin in 'n lushof omskep. Want antie E het hom as jong dogter as broer leer ken en aanvaar. Homself verder besig gehou met sy beeldjies en ruimtetuie en sy kommunikasie-ontwerpe want Koos was mos nie regtig van hierdie wêreld nie. Tot Koos begin olik voel het en beginne hoes het. Onbedaarlik. Daagliks dokter toe en kliniek toe. Lang ure se sit in nog langer toue van vroegoggend af om laatmiddag gehelp te word deur 'n ongeduldige staatsdokter wat wil klaarkry. Want daar’s nie medies nie. Antie E beduie hoe die dokter vir Koos beduie het dat hy die sigarette moet los en Koos die dokter vloek omdat die dokter fokkol met sy goete uit te waai het. "Los my goed. dis my goed en vlieg in jou moer" sê jy nie vir 'n staatsdokter as jy uitloop nie. Dit het lang smeek gekos om hom weer vir opvolgbesoeke daar te kry.

Ek vra annerdag vir antie E, toe sy hier insukkel met die steekhaar aan haar bors vasgeklem hoe dit met Koos gaan want ek sien hom nie sit nie. "Ai, my kind. Ek rou nog. Dis hoekom julle my so lank laas gesien het. Koos is dood. Ek het hom versorg en sy hand vasgehou en vir hom beduie dat Pa Wol en Lenie lankal langs die vuur sit en wag vir hom. Hy moet nou gaan en nie bekommerd wees nie."

Sy beduie dat Koos probeer praat het en haar lank aangekyk het met iets soos 'n glimlag in sy oë. Want die kanker het sy keel opgevreet lat daar nie meer praat oor was nie.

Sy beduie dat sy vir hom gevra het of hy reg was om die ou mense weer te sien en sy beduie dat dit soort van gelyk het of hy uitsien na die weersiens.

"Ja, maar hoekom het julle niks laat weet nie? Koos was mos maar hier ook soos 'n ouer broer, antie."

"Ek moes eers klaar rou. Hier’s 'n leë kol hier," en sy beduie na waar haar hart moet wees. "Ek sukkel. Ek voel hom as ek in die tuin werk en as ek moet opskep. Ek praat met hom en skel hom lat hy nie die bleddie sigarette wou los nie. Maar jy weet mos, hy was moeilik oor sy sigarette."

"Is hy al begraaf?"

"Ons het hom veras. Want ek wil hom nie daar bo op die kop laat lê nie. Ek wil hom hier hê. Ons gaan in die feëtuin vir hom plek maak. Jy moet kom as ons sy as langs die kleinkinders se feetjies gaan bêre. Hy sou wou hê jy moet kom koebaai sê. Hy was so lief vir die plante en die fonteintjies."

oester

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top