Beste Raed-na-Gael (waar kom hierdie naam vandaan?)
Jy sê “soms is Afrikaans in die gewone omgang lomp.” Dis nie waar nie; GEEN taal is lomp nie. ‘n Persoon wat grootgeword het met taal X gaan nie sy gedagtes beter uitdruk as hy later taal Y aanleer nie. Wanneer hy hom wel beter in taal Y gaan uitdruk sal wees wanneer hy sy eie taal versaak en taal Y aanhang; hy kry geen oefening meer in sy eie taal nie en sy bedrewenheid neem af en neem terselfdertyd toe in taal Y wat hy elke dag praat.
Dit is op die oomblik aan die gang ten opsigte van Afrikaans en Engels, nou dat Engels die enigste amptelike taal is en Afrikaans oral heeltemal op die agtergrond geskuif word. Mense wat Afrikaans lomp vind is bloot mense wat nie meer bedrewe is in hulle eie taal, Afrikaans, nie.
Kyk maar na die sepies – daardie sogenaamde Kaapssprekers se taal is so deurspek met Engelse woorde, idiome en sintaksis dat daar met sekerheid gesê kan word hulle kan nie goed Afrikaans praat nie. Om die waarheid te sê, daar is Engelssprekendes wat Afrikaans as tweede taal beter praat as sommige van die karakters in die sepies.
En dit is nie net die sepie-karakters vir wie Afrikaans ontoereikend geword het om hulle gedagtes mee uit te druk nie; hierdie verskynsel is baie algemeen en vererger by die dag. Die aartie faarties praat al lankal hierdie geradbraakte Afrikaans, selfs ouens wat al pryse vir die bevordering/handhawing vir Afrikaans gekry het soos Anton Goosen (indien Anton nog nie so ’n prys ontvang het nie vra ek om verskoning en trek my woorde terug – dit ís egter so dat hy ’n baie irriterende Afrikaans praat).
Daar word soms as verskoning vir die gebruik van Engels in Afrikaans aangevoer dat die Engelse woord korter is, of dat die Engelse manier van sê korter is. Dit is onsin; die Engels word gebruik omdat, deur konstante Engelse gebruik, die Engelse uitdrukking of woord na vore spring wanneer die spreker sy gedagtes wil oordra. Baie Afrikaanssprekendes praat byvoorbeeld van die web, (www), as dabbeljoedabbeljoedabbeljoe in plaas van weeweewee wat baie korter is. Daar is tallose gevalle waar die Afrikaans korter is maar die Engels nogtans gebruik word (distribution box ipv verdeelkas, distributor ipv verdeler, radiator ipv verkoeler, reverberation duration ipv naklankduur, cleaning eye ipv steekoog om nou maar net ’n paar te noem) so die verskoning van ‘korter’ geld nie.
Jy kan enigiets in enige taal oordra maar nie deur noodwendig die ekwivalente woorde soos in die woordeboek weergegee te gebruik nie. Om die waarheid te sê, dit is taamlik dikwels dat mens juis nie die ekwivalente woorde gebruik om ’n begrip oor te dra nie. Dit is juis hoekom sommige mense beweer Afrikaans is lomp (in sommige opsigte) omdat hulle só aan die Engels gewoond is dat hulle direk uit Engels vertaal wanneer hulle praat en dan is dit definitief lomp.
Die omgekeerde, naamlik dat sekere Afrikaanse sinne moeilik in Engels vertaalbaar is, is net so waar (trouens, die meeste goed vanuit enige taal na enige ander taal is bykans onmoontlik wanneer direk vertaal word). Kyk maar hoe moeilik vertaal die volgende na Engels toe:
Kom sit hier by oupa in die sonnetjie.
Jy moet onthou; hy’s darem jou broer.
Roep vir Koos – dis die ou wat Rooies genoem word – en sê daar is ’n oproep vir hom; dis al die derde keer wat daardie persoon hom bel.
Die hond vlie met ’n vaart weg en hardloop om die ronde tafel terwyl die kat rustig sommer onderdeur stap.
Sy is wel klein maar het ‘n geweldige stem.
Sy’s nog baie klein maar het ’n stemmetjie wat skrik vir niks.
Die plekkie is weliswaar klein dog baie gesellig.
Dit lyk my daardie ou kan maar toe oë skiet en dis raak; hy tref die kol keer op keer.
Hy kon nie die paar glase deur sy bril sien nie.
Hy’t die stoel nogal vernis ook, sommer verniet.
Die eindvraestel het gevra om uit te brei oor die feit dat die witskrif op groen papier geskryf was en hoekom dit soveel opslae in die oggendkoerant gemaak het.
Gaan bêre julle speelgoed.
Gaan bêre jou speelgoed.
Jy moet julle kos gaan haal, nie joune nie.
Vertel my, was dit ek wat so gesê het?
Sy nuwe broek is groter as sy ander broek maar kleiner as sy broer se broeke.
Steek die brood weg vir jou suster en dan gaan kruip jy weg vir jou broer.
Die res van jou kursus sal jy op die baan moet voltooi.
Hier moet jy skuins oor die rivier swem om aan die ander kant te kom.
Lig jou rok om by die hysbak in te klim.
Hy’t jou kaart gaan staan en verloor en nou het julle verdwaal.
Hy’t julle kaart gaan staan en verloor en nou het jy verdwaal.
Ek soen sommer ‘n krokodil.
Ek kan ‘n krokodil soen.
Dis nogal ‘n verleentheid dat die brand so naby ons vuur begin het.
Proe daaraan dan beskryf jy die smaak vir my.
Dok, ek’s mos nie ’n pilleman nie.
Piet eet mos nie kool nie.
En so kan mens aangaan. Ek weet net so is daar tallose soortgelyke uitdrukkings wat moeilik is om uit Engels na Afrikaans te vertaal maar bogenoemde is om te wys dat, anders as die algemene opvatting onder baie Engelssprekendes en sommige Afrikaanssprekendes, dat die omgekeerde ook geld. Trouens, dieselfde probleem geld vir enige vertaling van taal X na taal Y. Al bogenoemde sinne kan wel in Engels vertaal word maar om die regte nuanses te kry sal 'n groter omhaal van woorde nodig wees.
Dus, die persoon wat beweer ’n taal is lomp sê eintlik sy kennis van daardie taal is gebrekkig; die taal is nie lomp nie, die persoon se taalvaardigheid is lomp. As die liedjies waarvan jy praat ‘verkrag’ word wanneer hulle in Afrikaans vertaal word lê die fout nie by die taal, in hierdie geval Afrikaans, nie maar by die vertaler. Neem nou byvoorbeeld “Ek Is Lief Vir Alles Hier” wat deur Andre Schwartz gesing word – klink dit vir jou of daardie liedjie verkrag is? Jy kry wel swak vertalings in Afrikaans maar netso kry jy swak vertalings in Engels van baie anderstalige liedjies.
Groetnis
Jan Rap

