Kommentaar vir Angus oor sy kommentaar

  • 3

Dagsê Angus

Ek lewer kommentaar op jou brief van 7-6-2013.

Jy maak vir die hoeveelste keer die fout om te dink dat ek nie wil hê Afrikaans moet nie verander nie.  Dat die taal, soos ALLE ander tale op aarde, gaan verander is onvermydelik.  Wat ek nie wil hê nie is dat Afrikaans deur Engels oorgeneem word nie soos reeds besig is om te gebeur; luister maar na die radio en kyk na die voorbeelde wat ek al hier genoem het.

Jy hou vol dat 'n sin soos 'usually as ek my goals geset het achieve ek hulle' vir jou 'n voorbeeld van aanpassing is (om te oorleef) maar vir my is 'n duidelike teken van 'n onvermoë om Afrikaans te praat en dit sluit dan jou huishulp en die eienaar van bogenoemde sin in.  Sou iemand wat nie Engels magtig is nie hierdie sin in, sê Arabies, moet vertaal sal hy nie kan nie; die sin is gewoon nie Afrikaans nie, dis geradbraakte Afrikaans en tegelyk geradbraakte Engels.

Wat my bring by 'geradbraak'.  As 'n spreker met moedertaal X sy tweede taal Y praat en, waar sy bedrewenheid in taal Y tekortskiet, hy dan terugval op sy moedertaal, hetsy met woorde of sintaks, dan praat hy geradbraakte Y.  Moedertaal sprekers van Y gaan sukkel om hom te verstaan; hy kommunikeer swak want slegs Y-sprekers wat ook 'n kennis van X het sal hom kan verstaan.

Jy hou aan om my te vra om hierdie soort gogga in 'suiwer' Afrikaans te vertaal waardeur jy, lyk dit my, te kenne wil gee dat dit nie gedoen kan word nie.  Maak nie saak hoe ek die sin vertaal nie (en daar sal honderde maniere wees om dit te doen), jy sal steeds sê dit beteken nie presies dieselfde nie.  Maar gestel nou iemand wat nie Engels magtig is nie vra my wat die ou gesê het sal ek bloot aan hom verduidelik dat die ou beweer dat gewoonlik, as hy hom iets ten doel gestel het, hy dit bereik.  Die feit dat dit nie vir jou vertaal hoef te word nie is omdat jy Engels kan praat.

Jy sê as " ... Afrikaans nie sterk genoeg is om te kan aanpas nie ... (my vetskrif)".  'n Taal is 'n abstrakte ding en het op sigself geen krag nie.  Wat gesien word as krag in 'n taal is die sprekers.  'n Groot hoeveelheid sprekers (Spaans, Engels), of die intellek van die sprekers (antieke Grieks) maak die taal sterk.  Afrikaans is besig om te verdwyn is dit is omdat sy sprekers hom verwaarloos.  Mens kan wel aanvoer dat die heksejag op Afrikaans grootliks verantwoordelik vir die agteruitgang is maar dis net 'n verskoning; ONS laat dit toe, help ook nog in sommige gevalle (soos RSG) mee aan die agteruitgang.

Het jy al daaraan gedink dat mens hierdie Engfrikaans, hierdie geradbraakte taal, baie moeilik in 'n ander taal kan vertaal?  Gestel mens wil dit na taal P toe vertaal dan moet jy nou eers kyk of daar 'n taal Q is wat deur die sprekers van P as superieur beskou word (of, anders gestel, 'n taal Q teenoor wie se sprekers P-sprekers minderwaardig voel).  Nou vertaal mens hierdie soort Afrikaans in taal P maar elke keer wanneer jy op 'n Engelse woord afkom word hy vertaal in taal Q.  Waar in die wêreld gaan mens soortgelyke toestande kry behalwe al die voormalige kolonies (inheemse taal teenoor die koloniale taal)?  Waar in die res van die wêreld?  Pools teenoor Russies?  Vlaams teenoor Frans?  Miskien Nederlands  teenoor Engels, soos hier; die Hollanders vrek mos oor Engels.

Jy sê tale verander gedurig omdat hulle in aanraking met ander tale is.  Dit is wel so maar hulle verander nie ten goede nie, hulle is dus nie besig om te 'evoleer', soos jy sê nie, maar te verbaster.  Dit lyk vir my of tale, wat in noue kontak is, uiteindelik oorgeneem word deur die taal van die meeste sprekers of, in sommige gevalle, dié van die oorwinnaar.  Tale, reken ek, verander wel weens 'n soort van evolusie sonder om in kontak te wees met ander tale. 

Jy kan byvoorbeeld die sprekers van taal A in twee deel en op twee verskillende onbewoonde eilande plaas (ver genoeg sodat hulle geen kontak met mekaar het nie).  Binne so 500 tot 'n 1000 jaar, reken ek, sal die twee groepe se tale onderling onherkenbaar wees.  Kyk maar na die verskillende dialekte in 'n gegewe land, selfs in klein landjies soos Holland of Engeland; daar is mense wat mekaar nie verstaan nie en hulle is maar deur 'n paar kilometer geskei.

Terloops, so van die os op die jas, interessant wat vertaling betref:  Woordeboeke gee verskillende vertalings vir 'n gegewe woord omdat daar verkillende vertalings ís maar selfs al gee hulle net een vertaling is dit nie te sê mens kan hom in 'n vertaling gebruik nie.  "Daar's hy" word vertaal deur "there you go" maar "there he is" en "daar jy gaan" het geen betekenis nie. 

Op dieselfde manier is "een klein stappie vir 'n man, een reusesprong vir die mensdom" nie die vertaling vir "one small step for a man, one giant leap for mankind"  nie.  Ek sou dit eenvoudig vertaal as "een (of 'n) tree vir 'n mens, 'n sprong vir die mens", dis vir my beter as "'n enkele treetjie vir 'n mens, 'n reusesprong vir die mensdom", selfs beter as die oorspronklike Engels.  Maar soos ek sê, dit net so terloops.

Nou ja, tot hiertoe dan

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Jan, dis net my mening maar ek dink jy is besig om Angus te vermoei.

    Jou kommentaar oor die eerste maanlanding is stimulerend. Hier is my vrye vertaling: "My eerste tree op die maan verteenwoordig 'n groot sprong vir die mensdom". (Dis nou nie ek wat praat nie, maar Armstrong!)

    George

  • Chris Dippenaar

    Ek glimlag gereeld as party Kapenaars "Is dit?", of "Izit?" soos meeste van ons dit uitspreek, oorsit in Engels as "Is it?", uitgespreek as "Eezeet".

  • Beste George,

    Man, ek hou van  jou vertaling. In my geestesoog kan ek  Armstrong so uit die ruimtetuig sien kom, en as sy voet so die maan tref, sê hy (op dramatiese wyse): "My eerste tree op die maan..........verteenwoordig..... 'n groot sprong.....vir die mensdom."
    Groete
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top