Die vraag 'wie se Afrikaans?' is al klaar 'n onsinnigheid. Taal kan byvoorbeeld nie gekaap word nie (soos dikwels die gebruikers van Standaardafrikaans beskuldig word) want as jy iets, sê maar 'n motor kaap, het jý die motor en die ou van wie dit gekaap is, het niks. Taal het nie kaart en transport nie en 'behoort' dus aan niemand nie. Taal is abstrak, kan wel nageboots word maar kan van niemand weggevat word nie.
Die hoog-opgee oor die sogenaamde basterskap van Afrikaans is net so ’n klomp tjol. Waar is daar nie ’n taal waarvan die ontstaan en ontwikkeling nie beïnvloed is deur ander tale nie? Engels, byvoorbeeld, se basterskap is sodanig dat mens nie eers mooi weet of dit ’n Romaanse of Germaanse taal is nie. In 1066 het Engels ’n geweldige Romaanse inspuiting gekry en, alhoewel die taal nog as Germaans geklassifiseer is, is die ‘Romaansheid’ so opvallend dat studente byvoorbeeld gedurig vertel hoe Engels hulle met Latyn help en Latyn is allesbehalwe Germaans. Aanspraak op hibriditeit en ‘verbasterdheid’ is nóg goed nóg sleg; dis niksseggend, onbeduidend want dit kom oraloor voor.
Die woord ‘inklusief’ lyk dit my het ook baie blootstelling gekry. Ek sê ‘woord’ want die begrip ‘inklusief’, soos deesdae gebruik, is vaag, byna niksseggend. In ’n bespreking oor taal, wat beteken ‘inklusief’? Wie moet dmv taal ingesluit word en hoe? Wie was in elk geval uitgesluit deur taal en hoe? Beteken inklusief dat, as jy jou onder ’n klomp mense bevind wat ’n ander dialek as jy praat, hulle jou dialek moet naboots om jou nie uit te sluit nie? Het Janine van Rooy dus eksklusief opgetree toe sy gesê het “ons is ’n bastertaal en proud daarop”? Moes sy die woord ‘trots’ gebruik het in plaas van ‘proud’ om die sprekers van Standaardafrikaans in te sluit?
Die absurde stelling is ook gemaak dat, solank jongmense Afrikaans praat, die taal nie sal doodgaan nie. Dit is natuurlik ‘n mite. Daar het al baie tale uitgesterf – en is nog besig om uit te sterf – en ek kan met redelike sekerheid sê dat baie min van hierdie tale dood is omdat al die sprekers eensklaps deur ’n ramp tot hulle einde gekom het. Die oorgrote meerderheid van hierdie uitgestorwe tale is omdat hulle deur ander tale oorheers en uiteindelik vernietig is. Die feit dat mense nog die taal praat vrywaar hom nie van vernietiging nie want die meeste tale wat dood is, is dood terwyl mense hom nog gepraat het maar al hoe swakker totdat hy nie meer gepraat word nie. Afrikaans is op die oomblik in daardie posisie.
Afrikaans is onder beleg; anderstalige studente (nie Engelstaliges nie) protesteer, dikwels met geweld soos nou in Stellenbosch, teen Afrikaans. Hulle wil hê Afrikaans moet heeltemal afgeskaf word ten gunste van Engels (nie eers hulle eie taal nie). Die regering val ook nie oor hulle voete om lede van ‘Vriende van Afrikaans’ te word nie, inteendeel, hulle doen nie eers moeite om hulle vyandigheid jeens Afrikaans te verdoesel nie. By openbare instansies is die afkeer wat hulle van Afrikaans het maar te duidelik.
Met dié dat Engels nou die amptelike taal is (is daar ooit nog mense wat glo hier is elf amptelike tale?), praat Afrikaanssprekendes Engels by die werk, by openbare instansies soos munisipaliteite ens, so al waar hulle Afrikaans praat is in die huis en, weens hulle gedurige gebruik van Engels, praat hulle al hoe swakker Afrikaans. Selfs Afrikaanse omroepers se taal laat niks te wense oor nie; mens hoor gedurig goed soos ‘ek hou van dit’, ‘hy’s nogal bekend vir dit’, ‘mees interessantste’, ‘ek hardloop gou deur die lysie’ ens ens. Ek sien op my vrou se facebookblad taalgebruik wat jou hare sal laat rys; dis nie swak nie, dis pateties.
Terloops, dit is opvallend dat, met al hierdie soort samekomste, die sprekers van mengel-Afrikaans (Mengelfrikaans?) se houding uitdagend is, hulle is onvergenoegd en word geskuld. Die sprekers van Standaardafrikaans, aan die ander kant, se houding is skoorvoetend, verskonend, so al asof hulle in die skuld is. Dit is mos totaal waansinnig; hoekom is jy kwaad en uitdagend as jy mengel-Afrikaans praat en op die agtervoet as jy gewone Afrikaans praat?
Die onderwerp van bespreking, naamlik ‘Wie se Afrikaans?’ was sinloos, net soos ‘wie se suurstof?’ of ‘wie se sonskyn?’ sou wees. Aangesien Afrikaans deur Engels bedreig word, sou ’n meer sinvolle onderwerp wees ‘Hoe vrywaar ons Afrikaans van oorheersing deur Engels?’ Vir my is dit logies dat een van die belangrikste aspekte van so ’n bespreking sou wees die vermyding van mengeltaal. Hoe kan jy nou Afrikaans red van Engels deur Afrikaans met Engels te meng? Maak nie sin nie.
Jan Rap

