Hierdie stuk van Heindrich, soos omtrent alles wat oor die Overvaalinsident gesê word, laat my dink aan ’n kar wat gaan staan het weens ’n gebreekte suierring en om hom weer aan die loop te kry stry die ouens oor hoe om die vergasser reg te maak.
In die eerste plek, ek wonder of daar ’n Engelse kind van ’n dag oud onder die 55 kinders was wat so graag - of liewer wie se ouers so graag - hulle wou inskryf by Overvaal. In die tweede plek wonder ek of daar ook so ’n bohaai sou wees as 55 kinders, bestaande uit Xhosa’s, Pedi’s en Swazi’s, by ’n Zoeloeskool sou opdaag en aandring om in Venda onderrig te word. Selfde storie, net ’n ander mengsel van die amptelike tale.
Buitendien, dis nie noodwendig die kinders wat in Engels onderrig wil word nie; dis die ouers wat dit wil hê. Dit is uiters onregverdig teenoor die kind om hom onderrig in sy moedertaal te ontneem en ook onregverdig teenoor sy eie taal – hoe sal daardie taal ooit hoër funksies ontwikkel as die kinders verengels?
Die argument dat Afrikaans gebruik word om die kinders uit die skool te hou is absurd. Hoekom kan dieselfde nie van Engels gesê word nie? Die rede is eenvoudig; die ouer verkies Engels en om aan sý keuse te voldoen moet Afrikaanse skole nou in Engels ook onderrig gee anders is die hel los.
Ek stem saam met Heindrich dat dinge anders kon wees as hulle daardie leerlinge verwelkom het MAAR bygevoeg het dat hulle net moet onthou die onderrig is in Afrikaans. Van die leerlinge sou dalk ingeval het – daar is baie swart leerlinge in Afrikaanse skole – en van die ouers sou dalk dan die onredelikheid van hulle versoek ingesien het. Die onredelikheid is tog duidelik – die Pedisprekende ouer se kind kan wel in Afrikaans in ’n Afrikaanse skool onderrig word maar hy verkies sy kind moet in Engels onderrig word. Daardie keuse is natuurlik sy reg maar hy kan nie verwag Afrikaanse skole moet agteroorbuig om hom te akkommodeer nie. Nou, omdat die Afrikaanse skool nie aan sy nuk wil voldoen nie (eintlik nie KAN voldoen nie) beskuldig hy die Afrikaanse skool van rassisme.
Dit bring my by Jonathan Jansen se stelling naamlik dat reg tot toegang uiteindelik swaarder sal weeg as reg tot moedertaalonderrig. Hoe kan hy so iets sê? Dit beteken hy is van mening dat ALLE skole eendag Engels gaan wees. Wat van die reg van die kind wat nie Engels is nie? Die reg van die kind weeg tog sekerlik swaarder as die gier of nuk van die ouer of hoe? Moet wees en, as dit nie in die grondwet is nie, is dit in die gemenereg.
Jan Rap


Kommentaar
Jan, ek wil net die volgende sê, daar gaan aan Afrikaans, die Afrikaner en enige ding wat dui op taal, tradisie, kultuur en wat ook al tot in lengte van dae gekarring, getorring en derms geryg word. Die vertolking van die grondwet word gerieflikheidshalwe geswaai, verdraai en verkrag om diegene te pas wat as hul argumente opraak, rassisme skree. Het voorheen al die voorbeeld van die voor-evolusie-skepsel gebruik. Hy sit op sy sekelstert, tuur die verte in. Langs hom is 'n klip. Aanvanklik voel, voel hy in die geweste. Naderhand krap-krap dan byt die skerpioen hom. Dan moet jy hoor wat se lawaai kom by daardie keelgat uit. Gou vergeet jy krap nie waar dit nie jeuk nie. Moenie aan goed neuk wat gelos kon word nie.