Koersvas
krampagtig baan hy op die weg
’n digter gebrei uit oorvloedigheid
van gewetenskrete en eerbaarheid
om ewigdurend teen duisternis te veg
sy glorie – sy helderste blomkelk – verwelk
infrarooigolwe ontbloot menslikheid
die slingerpad in ’n koue naaktheid
en hy drink die dood uit ’n bitter kelk
maar die digter haal asem met elke vokaal
smag na elke klinker- en diftongmoment
totdat druppels wat dofsag skyn in punte
neerslag vind met ’n kniebuig in sy verhaal
hy lê sy lewe af in sinne en letters
woorde span styf tussen twee lyne
die verlede en die hede se misgordyne
word ingeploeg tussen al sy karakters
Kommentaar
Hierdie is 'n ongelooflike diep en raak skrif, ek voel hom aan my eie bas ook, moet nooit ophou nie Marius, jy is 'n ster wat ver verskiet my broer.
Baie dankie Johan. Waardeer.
Enige tyd iets in die gedig laat my nogal aan myself dink, jou woordkeuses is fenomenaal en ek is gek daaroor...
'n Sterk gedig sonder tooisel.
Sterk, sonder fieterjasies. Mooi Marius: "hy drink die nood uit 'n bitter kelk" . Pragtig. Roerend.
Waardeer opreg Paula.
Dankie Anne-Marie!
wow! Baie mooi bewoord