Klein Klaas en Groot Klaas – deel 4

  • 0

ʼn Sprokiesvehaal deu Hans Christian Andersen vetaal en uitbreiding deu Olivia M. Coetzee

Klein Klaas het toe weerekee op die sak getrap en dit het ʼn harre gil gegie.

“Wat het hy nou gesê?” vra die boer.

“Niee, hy sê dat daa drie bottels langsie stoof staan en wag vi ôs,” sê Klein Klaas. Die boer se vrou moet maa gan kyk het, en vi Klein Klaas en die boer die wyn voogesit het. Die boer het gedrink tot hy lekke dronk was.

Hy sal soe ʼn towenaar wil hê soes Klein Klaas in sy sak in die ronte dra, dink die boer.

Kan hy die duiwel tower?” het die boer gevra. “Ek sallit nogal likes om te sien soes wat hy lyk.”

“Oe, ja!” sê Klein Klaas. “My towenaar kan ienige iets doen wat ek hom vra, of hoe my towenaar?” vra Klein Klaas soes hy die selle tyd op sy sak trap tot dit wee ʼn harre gil gie. “Het djy gehoo? Die towenaar het ja gesê, maa die towenaar is bang dat ôs sallie hou van wat hy gan towerie.”

“Ag, ek issie bangie,” sê die boer. “Soes wat sal dit lyk?”

“Ek wietie, miskien lyk dit soes ʼn Engelsman.” sê Klein Klaas.

“Wat?” lag die boer. “Dan moet hy sieke baie lielik lyk. Wiet djy ek kannie ʼn Engelsman vedra voo my nie. Maa dis okay, wan nou sal ek wiet soes wie dit gan lyk, sal ekkie omgie wat jou towenaar gat towerie. Soe, as hy gereed is kan hy dit maa doen, wan ek is gereed, maa moet toggie lat hy naby my kommie.”

“Wag ees, ek moet die towenaar vra,” sê Klein Klaas. Hy’t toe op die sak getrap, en sy oor op die sak gesit om te luiste.

“Wat sê hy?” vra die boer.

“Hy sê djy moet in groot houtkas wat in die koebuis staan gat kyk en djy sal die duiwel daa in sien sit. Maa djy moet die deu van die houtkas styf vas hou, anners gat hy uitglip.”

“Sal djy my asseblief kô help?” vra die boer, soes hy nader stap an die houtkas waa sy vrou die Engelsman in weg gestiek het.

Die boer het die houtkas se deur ʼn klein bietjie oepgemaak en daa ingeloe.

“Oe-hel!” skrie die boer soes hy trug spring. “Ek het hom gesien, en hy lyk net soes die Engelsman van ôs. Sies, ek is ienik naar!”

Die boer wat siek gevoel het op sy mag het wee die bottel wyn gegryp en tot laat in die nag gedrink.

“Djy moet jou towenaar an my vekoep,” het die boer vi Klein Klaas gesê. “Sê my hoevel djy soek en ek sallit betaal. Ek sal jou ʼn groot sak goud gie, as dit is wat djy soek.”

“Nog nooit kan ek my towenaar vekoepie!” het Klein Klaas gesê. “Dink net hoe baie ek kan maak met my towenaar.”

“Maa ek wil hom baie graag by jou koep.” sê die boer soes hy vi Klein Klaas soebat.

“Sien dat djy soe goed vi my gewies het,” sê Klein Klaas na hy vi ʼn tyd stil gewies het. “Sien dat djy my ʼn plek gegie het om te slaap en te iet sal ekkie vi jou niee kan sê nie. Djy kan maa die towenaar kry vi ʼn groot sak goud, en niks minnerie.”

“Dis reg met my,” sê die boer. “Maa djy moet asseblief die houtkas oek saam jou vat. Ek wil daai kassie vêder hie in my huis hettie. ʼn Mens wiet nooit of daai ding nog in die kas kan wiesie.”

Dis hoe Klein Klaas vi die boer sy sak met die droë pêrrevel ingegie het. En die boer het vi Klein Klaas ʼn groot sak goud gegie, en niks minnerie. Die boer het oek vi Klein Klaas die houtkas en die groot sak goud op ʼn waentjie gesit.

“Larrit goed gan!” het Klein Klaas vi die boer gesê, soes hy met sy groot sak geld en die groot houtkas met die Engelsman in daa weggeloep het.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top