Ek dink ek het al beduie oor Piet Gif en sy ontydige beëindiging van alle skuldgevoelens. Hoe hy mos homself loop ophang het in Niekie Voete se waenhuis en hoe Niekie vir die tyd wat hy nog oorgehad het nooit sonder ’n lig aan geslaap het nie.
En sowaar as vet stap hier ’n mannetjie in en gee hand asof ek sy eie oom is en hy beduie dat dit lank laas was en ek vra hom wie hy nou eintlik is en hy se hy is Piet Gif so klong. Klein Gif soos ons hom destyds genoem het. "My fok, Klein Giffie, is dit jy?" en skielik sien ek vir Piet om die oe en ek hoor vir Piet Gif in die lag. "Dit was jare laas wat ek jou gesien het, man! Kom sit lat ons ’n dop kan drink" En die ys klingel in die glas.
Jy weet mos maar hoe dit gaan as jy so ’n weersiens het. Jy praat en dan hou die praat op. Want jy het destyds met Piet lang stukke gepraat om die glas en bottel maar hierdie is anders. Ons praat oor Niekie Voete en ons lag oor die Groot Beer wat nou onder die Witsand se wit klippe le en ons praat oor skuite en groot kabeljoue en ons raak stil oor daar nie meer vis en bote is nie. Hy vra oor die vis hier in Oesterland se Brak rivier en ons wonder oor wanneer die mond weer eendag gaan oopmaak dat hier behoorlik kan vis inkom. Want mens wil mos nie elke dag net Grunter eet nie. Ek vir een hou nie van die vis nie. Op sy beste ’n lelike donner en hy proe vir my alte veel na modder. En ons raak stil toe ek beduie hoe sy pa vir my die perekuile ingele het. Jambottels vol. En ek vra hom of hy ook Gif spuit en wat van Piet Gif se ou Renault geword het want ek het mos detyds al my oog op daai ding gehad. En hy beduie vir my dat hy sy pa mis en ek kan hom bloot antwoord dat Piet ’n cool dude was en ’n fout gemaak het. En ons "Ja...." daaroor.
’n Kleine mensie kom kerm aan hom so tussen ons praat deur dat sy nou wil huistoe en ek sien Klein Gif het goed geleer by Piet Gif. Hy hou maar by die sagte vleisies. Ek vra vir hom waar die huis dan nou is en hy se hy loseer by die byeboer hier onner langs die rivier en ek maak ’n nota om nie die huis of waenhuis sleutels onner my oe te laat uitgaan nie.
Jy weet mos maar hoe dit met ou kennisse en weersiens werk. Later het die ou gesprekke hulself so herhaal dat jy bloot net "hallo" sê en hoop jy het nie nodig om dop te gooi nie. Tot die dag wat die kleine mensie hier inkom en beduie dat sy nie verder weet nie. Ek luister maar en ignoreer die rokkie wat probeer om niks toe te maak nie en sy beduie dat Klein Gif weg is. Dae al. Sy moes, so beduie sy die sielkunde so aan haarself, lankal agtergekom het dat Klein Gif dwalende oë het en of ekke nie dalk weet van iemand wat ’n geleentheid het na Worchester toe nie. Ek het, toevallig ’n ou kliënt daar, maar ek moes stilbly want as my kennis hierdie kleine mensie sou moes geleentheid bied sou hy binne ’n week voor die skeihof gestaan het want niemand sal hom ooit glo dat hy so ’n sawwe stukkie vleis bloot ’n geleentheid gebied het op my versoek nie.
Ek stop haar drie bloues innie hand en beduie vir haar dat ek wel weet van die bus wat doer van Voorbaai af vertrek. As sy pak en die sak regkry sal ek vir Maltuisie stuur om seker te maak sy haal die Interkaap. Ek reël vir haar met J wat altyd maar hier stop vir sy Seegoete dat hymaar moet plek maak vir die kleine mensie en lat hy moet sorg lat sy warm is al is dit nie so ver nie. Hy lag en beduie dat daar darem koffie bedien word op die bus. Sy beduie vir my dat sy gedog het sy ken vir Klein Gif en toe sy so wegstap antwoord ek haar so in my binneste: Dank jou kaal stere dat jy nie vir Piet Gif geken het nie.
oester

