Klanke van die see

  • 1

Foto: Canva

Klanke van die see

Van die seestrand se kalm uitsig,
wanneer aandskemering nader
waar die ronding van die horison
die see se verste sigveld vorm

wanneer dag na nag omswaai,
en die aarde se jongste draaihoek
laaste lig en duister laat ontmoet.

Dán skyn die son nog oor die horison se lyn,
ver op die einder waar dit stadig vervaag,
en die glans van sonlig uit sig verkwyn,
tot waar dit heeltemal verdwyn.

Steeds ruis die see se golwe
met ’n kalme dreuning –
’n dreunsang wat nooit vergaan,
vol rustige vrede,
in ’n deurlopende,
ewige refrein.

Golwe se kruine buig en breek,
met rûe krom val hul om,
met hul trefslag klots die water,
skuimend wit met ’n held’re klater.

Elke breekslag hou ’n ritme,
elke bries skep nuwe note.
Elke brander dreun en rol,
elke plofslag bring ’n bruising.

Herhaling hou die reëlmaat;
elke ruising soos ’n tromslag –
dit is die ritme van die see,
die natuur se simfonie,
dit is ’n watermelodie
en die stemme van die see
vorm ’n bruisende harmonie.

Skulpe in die vlak waters,
en op die strand se sand,

kry stemkrag in die sproei van skuim.

Stemme in verhale,
gaan oor tye lank verby.

Met ’n fluisterklank van heimwee
vertel hul stories van gister,
maar ook van gelukkig wees,
wat hul gemoed verbly.

Hul praat oor die diepsee-oseaan,
sy diepste geheime en harmonie.
Seemeeue roep, hul krete skerp en vry
in hul vlug oor deinings van die see.

In die werweling van watervoue
ewigvloeiend en vol begrip,
lê daar ’n ewigheid van kennis ...
in seewater se valleie.

In die deinings spring dolfyne,
elke sprong ’n krom lyn na omhoog,
vorm die kurwe van ’n boog;
dis ’n spel met vreugde ...
’n vrylating van ekstase.

Maanlig bons op golfkruine,
verhelder elke kruin se rand.
Waterdruppels dans en sprei
soos juwele wat flikker en skitter.
Wit spatsels skuim
styg op en val weer neer
soos blinkende juwele ...
sonder keer.

Skakerings van lig en donkerte
huppel ritmies oor die water
waar diepe donker heers.
Ritme gee ’n hartklop aan die see
waar kalmte en chaos
elke oomblik saam bestaan.

Van vervloë tye bly daar in die see
verborge wonders ingesluit –
waar geheimenisse van die verlede
gister se fluisterspore is ...
wat in die see se waters stroom
en vloei in gesange
oor die verledetyd,
uit toeka se dae.

Die stemme van die see
skryf ’n ewige gedig.
Dit word geskryf in die sand,
gewas deur die gety.
Dis water wat dreun, vloei en breek –
elke breekslag spat en suis.

Dis ruisende stemme
wat tussen die rotse klots.
Dis ’n ode aan die lewe,
met ’n klankrefrein
wat ewig bly.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top