Sjalom.
Sinds my eerste belangstelling op die werf was dit my aanblik op die werf; vitterige, onbillike, kleinlike en onbevoegde kitsnaslaners teenoor ander se deurleefde belewenis en werklike kundigheid.
Kobus de Klerk het naïwelinge soos Erika Henn totaal oorbluf met sy rekenaar Soekbybel wat hom soos ’n verdwaalde juppie met ’n selfoon tussen die duine van die Kalahari na ’n god laat lyk - natuurlik tot groot vermaak van ateïste wat so ’n bietjie meer skepties tot Kobus se fenomenale spirituele intelligensie is en hom gereeld as strooipop in flarde blaas.
Dit het egter nie by die Bybel gebly nie en Kobus onderskei homself voorts in sy selfgemaakte kammahof op die werf waar hy sy Google bewyse as oneervolle regsverteenwoordiger, aanklaer, jurie en regter as die enigste "waarheid" voer teen enigeen wat hom nie eer nie - ongeag ’n ander se passie en ervaring in die onderwerp. Kobus is nie net berug as pararegskundige nie, hy’s ook para-ginekeloog, para-astroloog, para-fisikus, para... noem maar op - die werf se (mam)parra kén van ...
Menige paranimf soos Erika en Alie in Kobus se huiskerkbende het gekom en gaan, sommige regtig naïef; ander geslepe karikature wat met groot pret aan die werf se sepie hekel.
Een so ’n spotbeeld wat sy meester na aan die hart lê is die gebete kitsnaslaner "Wouter Ferns". Woutie het die ou grote Kobus de klerk lank probeer troef met sy gesaghebbende en uitgebreide rekenaar soekbiblioteek. Woutie het glo selfs toegang tot tersiêre navorsingswerk. Maar die ou grote Kobus is ’n vismot van staal en het Woutie se kitsnaslaan lankal tot niet gevreet.
Kitsnaslaan is een onding, maar kosbare empirie het in die slag gebly.
Ek onthou Jan Viljoen, prof Christina Landman, Lucas Maree, Steve Hofmeyer ... om maar net enkeles te noem wat onderrigtend hul hart met ons op die werf gedeel het. Nie een van hulle is deur die kitsnaslaanboewe gespaar nie. Woutie en Kobus is gedurig in kompetisie om te sien wie Wiki of Google iets wat die teendeel veronderstel - reg of verkeerd - solank dit iemand anders se hart verdag laat.
Ek dink daar kan gedoen word sonder die soort aprioristiese onderdrukking van kitsnaslaners. Ek kan eerlik nie onthou wat ek ooit uit Kobus of Woutie se bydraes geleer het nie, behalwe dat enige onderwerp spoedig ontstem kan word sonder die kennis van die ervaring. Hul vooraf opgevatte waan gee ook betekenis aan die waarskuwing om nie pêrels voor varke te strooi nie ...
Ja, dis hoe dit is.
Namaste!
Futuristiese Abrahamitiese Hindoe en Boeddhistiese katolieke liefde,
Cornelius


Kommentaar
Gereeld word Henn en De Klerk deur myself gelyk gestel. De Klerk het die bekende "spirituele intelligensie" wat as die finale arbiter vir De Klerk instaan, die metodiek waarvolgens waar en onwaar beslis word.
Wouter,
Ek moet erken, dis regtig moeilik vir my om die dramaties uitgesproke woordevloed van afkeuring in jou woernaal hierbo te volg. Ten einde wel 'n mate van sin daaruit te probeer maak, spoeg&blerts ek stuk vir stuk in antwoord daarop.
Jy tik: "Elders is die finale woord aan Henn gegun en soos gesien is dit die metode gekies deur Henn om daaraan uiting te gee."
Wouter, ek het nie eens die minste gedagte aan jou "vergunning elders" gehad of eens nodig toe ek hierdie bydrae getik het nie.
Jy tik: "Hierdie bevestig dus dat die volgende dus volkome gebaseer was op empiriese waarneming:"
Wouter, dit maak nie saak hoe ek jou sinnetjie hierbo lees nie, ek't nie die vaagste benul wat jy probeer te kenne gee nie. Na wie se "empiriese waarneming" verwys jy? Wat op aarde was of beteken die "empiriese waarneming" in ieder geval?
Jy tik: "Die onbeskikbaarheid (sic) van inligting, gratis vanaf uiniversiteite (sic) via Itunes, "spontane evolusie", die mallemeule hutspot waarmee Henn hier te koop loop, die gekkehede (sic) met Sagan, Green, Einstein en Stephen Hawking."
Wouter, al wat ek uit jou diatribe hierbo kan aflei is dat jy hewig ontsteld is oor elke bydrae wat ek al gelewer het. Jy verwar my ook duidelik met ander bydraers. Iedere naam en gedagte wat jy daarin noem staan behoorlik aangehaal in my bydraes en in hul korrekte redeverband. Jy't nes Kobus de Klerk jou eie veronderstelling daaromtrent en bloot weens jou bitter en onderdrukkende aard poog jy om dit verdag te maak.
Jy tik: "Die verwarring met induksie en deduksie en sommer die wetenskaplike metode ook en so ook Shekhina."
Wouter, ek's welonderleg in induksie, deduksie en ag die wetenskaplike metode. Waar het ek dit met mekaar verwar? Jy't weereens dalk iemand anders in jou waan beet. Ek leef met genade om gereeld in die Heiligheid van Shekhinah te aanbid hetsy saam met my Joodse, Moslem, of katolieke broers en susters. Dis regtig iets aardig om jou noëtiek van iets so heilig te lees. Hoekom gaan jy nie self 'n katedraal, moskee of sinagoge binne en gaan praat met 'n Iman, Rabbi of priester daaroor nie?
Jy tik: "Ook die Midrash wat Henn glo vind plaas in die Roomse Kerk en geen idee het dat dit 'n Joodse konsep is nie."
Wouter, Midrash vind nêrens plaas nie. Dis antieke Hebreeuse poëme - hoe kan dit "plaasvind"? Dis ook glad nie Joods nie. Die katolieke leer nes Jode en Moslems die begrip daarvan om so hul Heilige Skrifte soos byvoorbeeld die Bybel, anders as Angus en Kobus de Klerk en sy ge-aliede huiskerkbende te ken.
Jy tik: Met slegs bogenoemde beperkte lys is dit bevestig dat Henn VOLKOME buite die grense van erkende vakkundige werk funksioneer. Net soos Henn se broer in Adam. Hierdie laaste brief bevestig die "lunatic-fringe" wat nog altyd in Henn se briewe hardloop en daar is geen manier dat ek gaan poog om met Henn in "gesprek" daaroor en ander onderwerpe te wees nie.
Wel Wouter, soos enige ander redelike mens uit my antwoorde op al jou neerhalende ingenomenheid hierbo kan aflei, is my deelsaamheid op die werf eintlik maar taamlik gewoon en algemene kennis buite jou en Kobus de Klerk se verwysingsraamwerk. Jy is ook glad nie so outoritatief soos jy jouself verbeel nie - ook nie so oppermagtig op grond van jou "ingeskrewendheid" op als en oral nie.
Jy tik: "Vir 'n gesprek om te vlot moet daar 'n anker in die realiteit wees. Dit ontbreek volgens my in baie van Henn se briewe. "
Juis Wouter, die "anker in die realiteit" waarop jy aandring is natuurlik die "Googlebaarheid" daarvan. Dis presies hoe ek julle kitsnaslaners ook beskou; as jy en Kobus dit nie kan Wiki of Google nie, dan bestaan dit kwansuis nie. My onderwerp "Astrale Ruimtevaarders" is eintlik algemeen bekend. Nes my verhaling "Skeppingsleer". Daar is ongelukkig geen "anker in realiteit" op die Internet in hierdie onderwerpe soos julle dit vereis nie. Ek het wel Johan Heine, Michael Tellinger en Credo Mutwa in my bydrae "Astrale Ruimtevaarders" genoem. Hierdie mense is slegs enkeles uit baie wat hul lewe aan die onderwerp wy. Die kanse dat Credo Mutwa 'n webwerf of blog gaan bedryf, is NUL. Jammer vir almal wat kennis op die Internet so verafgod. Ek klim liefs in my kar en gaan deel, luister en koop direk uit hierdie wonderlike harte - hetsy Hindoe, Moslem, Jood, katoliek, Boeddhis of futuristiese Abrahamiet.
(Op hierdie noot is ek reeds oor seshonderd woorde. Ek vervolg voorts in 'n tweede kommentaar).
Wouter, in 'n tipiese Kobus de Klerk-aksent tik jy: "Og tog, wie kan Tau - letter T, wat die sprong na Daoism gemaak het vergeet."
Dis erg hoe absurd jou pogings raak om my te verkleineer Wouter. Taoïsme en Daoïsme het presies dieselfde betekenis. Lees gerus ook weer die eerste paragraaf in my bydrae "’n Wandeling na ons oorsprong". Die woord Thau, Dao, of Taw ..., in enige van die vele variasies daarvan, dui op Sjinese tot Hebreërs se aanroep tot GOD ons MOEDER. Wat ek wel baie spesiaal met jou en ander wil deel, is hierdie klankopname van dr Bevan Morris, president van Maharishi University of Management. Dr Morris het ’n leeftyd se kennis en ervaring omtrent die onderwerp. As jy op die skakel kliek sal jy ’n opsie kry om dit te luister of te "save". Dis absoluut die moeite werd om dit te "save" en nog menigmaal luister. Telkens wat ek die skakel vir myself toets, raak my gedagtes weer in rus en vrede weggevoer in die geesvervulde stem van dr Morris.
Jy tik: "Indien alles waarna verwys word gebaseer is op Henn se empiriese waarneming dan verg dit dat 'n magdom vakkundige werk herskryf moet word."
Wouter, ek maak nie "empiriese waarnemings" nie. Die woord "waarneming" maak wel sin as 'n innerlike aanskouing, appersepsie, ekstrospeksie, geestelike werksaamheid, proses of vermoë om te ken, te weet, kennis te verwerf, te begryp deur bewustelike verwerking. 'n Mens beleef empirie. Soos reeds aangedui is my onderwerpe algemene kennis buite jou en Kobus de Klerk se verwysingsraamwerk. Dis onredelik om my vir jul onkunde te verwyt.
Jy tik: "Hoe ervaar Henn, spontane evolusie, voel Henn die gene "pop" in sy DNS?"
Weereens jou gewone moedswilligheid Wouter. As jy oortuig is van iets (dit glo), dan kan jy dit in jou verbeelding deurleef. Vrees en vreugde is 'n werklikheid in jou gedagte. Jou plesier is my pyn. Psigosomatiek is die wetenskap wat sulke ervaring ondersoek. Dit het betrekking op beide die psigiese en die liggaamlike. Die mens is 'n psigosomatiese eenheidswese. Daarom het ons wetenskappe soos psigosomatiese geneeskunde; geneeskunde waarby sowel die geestelike as die liggaamlike faktore van siek wees verdiskonteer word. Wouter, jou seksuele oriëntering is heel moontlik ook so 'n psigomatiese toestand (nie dat dit hoegenaamd 'n siekte toestand is nie - bloot net jou as 'n psigosomatiese eenheidswese bedoel). Ervaring is inderdaad anders as jou parogiale intellektualisme.
Jy tik: "Hoe ervaar Henn dat midrash in die Katolieke Kerk as die norm aanvaar word?"
Wouter, dis so algemeen dat ek myself darem die moeite kon spaar om my katolieke lesings op te diep. Ek het gewoon "infancy narratives midrash catholic" geGoogle (nes jy en Kobus dit sou) en sommer 'n klomp verwysing daarna gevind. Maar lees gerus hierdie kosbare verwysing oor hoe midrash in die Katolieke Kerk as die norm aanvaar word.
Jy tik: "Hoe was die "gebruiklike ondersoek" deur astrale reisgers (sic) en kan Henn detail gee."
Wouter, op hierdie tydstip het ek al meer as 'n uur aanmekaar getik. Dit kos eerlikwaar baie moeite om op jou vergrype te antwoord. Ek is nou al 'n bietjie moeg en kry op geen manier sin gevorm uit jou stelling " Hoe was die "gebruiklike ondersoek" deur astrale reisgers (sic)" nie. Ek dink tog jy moet dit net terwille van billikheid herformuleer sodat iemand so eenvoudig soos ek dit ook kan verstaan.
Jy sluit af met jou gewone smaad: "Indien daar lesers is wat glo dat Henn se aanbieding van bogenoemde volgens sy "ervaring" korrek was en 'n akkurate aanbieding van die werklikheid is, dan word Henn en sy lesers in vrede gelaat met 'n glimlag van my kant af. Elke leser is maar op hulself aangewese."
Wel Wouter, al is ek so 'n bietjie moeg teen hierdie tyd is ek tog dankbaar dat jy jouself so uitgelaat het sodat almal wat belangstel kan sien hoe jy jou trant voer. Jy is uiters aanstellerig deur al jou spoeg&blerts. Ek hoop jy lees my antwoord met dieselfde respek as wat ek met moeite op jou wanopvattinge geantwoord het. Al staan net 'n gedeelte daarvan onbetwisbaar, bewys dit jou algemene ongegronde mening omtrent my bydraes.
Namaste!
Futuristiese Abrahamitiese Hindoe en Boeddhistiese katolieke liefde (met 'n glimlag),
Cornelius
'n Laaste nota oor die onderwerp:
... "wear the hat Woutie" ... ek generreer nie twyfel oor jou algemene kennis nie ... ek bied jou ook nie verkeerd aan nie ... jy is ook nie so wyd soos wat jy dink nie ... nee, jy IS die meesterkitsnaslaner van die werf!
'n Voorbeeld van "Hoe ervaar Henn dat midrash in die Katolieke Kerk as die norm aanvaar word?" kan hier beskou word -
http://www.catholicculture.org/culture/library/most/getchap.cfm?WorkNum=216&ChapNum=13
Wouter, dis soos 'n slim mens op 'n dag geseg het; "jy kan nie probleme oplos met die denke wat dit teweeg bring nie - verander liefs jou kleure". Ek hoop jy vind 'n nuwe hart om jou notas oor die onderwerp te kontinueer ...
Wouter, jy tik ook: "Henn het ook 'n enkele waarheid, die hutspot van alles is waar as 'n gemeenskaplike waarheid en het as onderbou die idee van Henn dat mite die onderbou van dit alles is."
Behalwe vir dat feit dit nie my enigste (enkele) waarheid is nie, moet ek erken ek vind nogals aangename aanklank by jou waarneming.
Groete,
Ekke
Wouter, jou vrywaring: "Die lys aangebied is nie volledig nie en die feit dat dit nie aangespreek is nie beteken nie dat dit voorheen deur my besigtig is nie of nou aanvaar word as "korrek" nie."
Ek dink jy moet met jou kornuit die ou grote pararegskundige Kobus de K gesels.
Iets lees net nie reg nie en ek sou aanbeveel dat jy liefs maar jou volledige lys plaas sodat ek billikheidshalwe 'n geleentheid gegee word (iets soos my demokratiese reg - of so iets).
Ekke
Die klankopname van dr Bevan Morris, president van Maharishi University of Management se lesing oor die Tao (Doa) kan hier geluister word -
http://www.mum.edu/multimedia/consciousness/tao.mp3
Dis beslis die moeite werd om te "save" en weer te luister.
Geen verdere kommentaar. Die laaste woord was aan Henn "gegun".