Krotoa Havgard, nog nooit as sodanig, sulks, erken,
ikoon van interbemiddeling, bymekaarbring, versoen,
nasie, volk, “ras”, oor alle grense heen, transkultureel,
fondamentlegger van formaat, dié Van Riebeeck-dogter,
patriot, pro patria, veeltalig, diplomaat, Kompanjie-lid,
post-katkisasie gedoop, ge-nxau, ingewy tot proses,
van voortteling, aanwas, stamvertakking, huwelik,
man vra vrou, vrou se pa, man betaal stuk lobola,
lat Khoi-kind toe só Kompanjie-kalklig kom en steel,
nuwe perspektief op vryheid werp, Khoisan-kultureel
Eva se plek nie in Kasteelstraat, in steeg, vuil,
soort van onaantreklik wandelgang, onromanties,
al haar hartseer op Robbeneilandrotse uitgehuil,
glo self nog nie Kaapstad-leiers is so spasties,
verstaan, begryp, weet nie, hoekom Stad,
mevrou Havgard se regte so lelik vertrap,
assittie so was, sou Mens dink disse grap
féít: “Hotnotmeid” is innie Kie se kerk getroud,
Kommandeur Jan’t haar, eg vaderlik, ingelei,
histories getranskribeer deur dagboek-outeur,
Havgard’t in Afrika na sy kind se ma kom soek,
gelukkig was Prinses Krotoa noggie uitgeboek,
kon sy sy Kreools half-’n-half vertolk, oortolk,
al was Krotoa se weergawe nie altyd so honnerd,
‘t sy rooihakskeenlik, Khoi-Nederlands, as Eva,
Eerste Vrou, eerste vlugteling uit Skeppersparadys,
geval virrie groot, ruwe Deen se Kaapse trieks,
toe ontketen sy semen rewolusie innie Kom,
voel hy hoe swel sy as hy diep in haar kom,
haar blou bloed in elk’ afstamling se vate,
baie weet nie eens hulle is haar nasate
hy’t skoonpa Jan altyd onnerrie tafel ingedrink,
lang ritte op Eva se ry-os langsie strand af,
liefde gemaak oppie strandsand, sononder,
saam gaan swem oppie Eiland, vis gevang,
bevrediging, satisfaksie, van dieper drang
vir patriotisme, loop Krotoa ver vooruit,
nie verniet ’n Pocahontas vannie Kaap,
nie suinig met haar twee wêreld-wysheid,
intiem vertroud met ubuNtu, umNtu se SiNtu,
wis sy, versoening nie in som’r enige se klere,
sommiges sit heel liewer heeltyd oppie draad,
eg egalig-neutraal, nie vóór, nie téén, net reg,
spaar liewer kragte vir hul finale stryd, geveg,
wil liewers nie erken Krotoa’s in hul are, bloed,
net so verward soos Hendrik Bibault, papsaklik,
dronk sy waarheid, wie hy werklik is, uitbasuin,
aan wye wêreld: “Mevrou Bibault het slawebloed,
g’n skande, lief vrind, ek’s haar heel eie kind,
nes Petronella Havgard, meer halfnaat, alleen,
haar weg deur Kompanjie se strate moes vind”
Krotoa Havgard had hierie heel spesiale visie,
sommiges sou’t selfs met ’n hoofletter spel,
kanti, Krotoa, sedert haar heel eerste kind,
eerste kind van Eerste Mens plus inkommer,
dronkverlief op Havgard, ultra-avonturier
mid-17-eeus Kaap was lekker rof, onbeskof,
moes Havgard maar mooi kyk na Krotoa,
hoewel sy altyd getrou, aan haar Eed,
vir hom, haar kinders bloed sou sweet,
soos ’n stammoeder haar stam in stand,
bymekaar, gehou, ver voort laat bou’t
uiteindelik’t Eerste Mens maar tog gewen,
moraliteit hou van gelyk speelveld, terrein,
straight forward, plein, Afrikaans, ordentlik,
van Gees, Vlees, van Boeke wat Mens lees,
van mede-Naasteskap, o ja, Mens en mede-,
vir iets soos oorlog geen g’fundeerd rede,
inne land so prastag, o Allah, o Magtig,
geseënd met kenners van ubuNtu,
almal uit Groot Knal-tyd, Paradys,
met heel eerste Eva op haar eie trip,
ver weg van Qhamatha, Skepper, Dali
“Duiwelspiek”-siekte diep gedraad in Mens,
is mos nou tyd van skuld, Millennium Drie,
aborigeen’t miskien grond, kultuur verloor,
kanti, eie imbali, storie, sowaar, toe nooit
kort voor lank verskyn ’n skrif,
leesbaar, op een of ander muur:
“Kanala, maak nou plek vir Eva,
vir Prinses Krotoa, Overberger,
Van Riebeeck se coy Khoi-kind,
mooi vrou, dié mevrou Havgard”
Jacobus Faasen

