Kaapse keuses

  • 1

April se wisselvallige weer staaf gesoute Kapenaars se stelling dat hulle vier seisoene in een dag kan beleef. Die heerlikste oggend kan verander in reën, dan kom die suidoos weer op en waai die wolke en reën Gauteng toe sodat ’n rosige sonsondergang later oor die see verskyn. So, haar staptye langs die Promenade moet Celeste mooi kies.

Een so ’n koel herfsdag gaan sy na Seepunt se biblioteek en besluit op die kort wandeling na Drieankerbaai. Hier is vandag geen roeiers wat dit die see in waag nie en sy staan stil om te kyk na die twee duikers op die rotse wat hul vlerke oopsprei in die yl son, en na die klompie kelpmeeue wat op die see dryf.

Dan word sy bewus van die jong vrou wat met haar hande om die reëling geklem ’n paar treë verder staan. Sy het lang blonde hare en staar uit oor die see, vee trane af met haar mou, haar neus al rooi. Spontaan sit Celeste haar arms om die vrou en voel hoe die stywe rug teen haar verslap. Deur die Skandinawiese-patroon trui voel die vrou klam van die huil en hartseer. Ná ’n ruk tree sy terug en sê: “Sorry, I wet your jacket”. Celeste sê dis niks, en sy hoef nie te praat nie, maar as sy wil, sal sy luister.

Gaandeweg vertel sy dat sy vanmiddag hierheen gekom het om totsiens te sê aan Kaapstad. Sy’s van Denemarke, het vir twee jaar hier by ’n NGO gewerk, gaan môreoggend Johannesburg toe en volgende week terug huis toe. Sy’s mal oor die Kaap en sou graag hier wou bly. Sy het Suid-Afrika toe gekom nadat ’n lang verhouding tuis beëindig is en sy wou nie sommer weer in ’n verhouding betrokke raak nie.

’n Suid-Afrikaner wat sy ontmoet het, het haar egter die hof gemaak: “I was not interested, but he pursued me, and I fell in love.” Ná ’n jaar het sy vir hom ’n trui gebrei, en gevoel dat hul verhouding stewig genoeg was om die kind te beplan wat sy so graag wou hê. Hy wou egter ’n verhouding hê sonder enige verdere verantwoordelikhede. “But for me . . . I love him and my work, but always, always I dreamt of having children, a family of my own.” Sy weet dat dié behoefte van haar hom waarskynlik weggestoot het, maar sy het nooit ’n geheim daarvan gemaak nie.

Die intieme ontboeseming van die vrou is vir Celeste ontroerend. Sy huiwer om raad te gee, maar hulle bespreek dan moontlikhede soos enkelouerskap en aanneming, en die impak van sulke besluite op ’n kind. Sy vertel ook van ’n vriendin wat so graag ’n kind wou hê, maar toe dié daar was, gevind het haar lewe het handomkeer verander op maniere wat sy nie verwag het nie. ’n Mens moet versigtig wees vir waarvoor jy wens.

“I think, maybe, I’ll just have a child on my own,” sê die vrou, en vertel haar ouers sal bly wees oor ’n kleinkind, en haar suster sal ook kan help. Sy maak eerder ’n kind op haar eie groot as in ’n verhouding waar een party nie kinders wil hê nie.

Toe hul afskeid neem, gee nie een kontakbesonderhede nie, net hul name, en goeie wense vir mekaar. Celeste kan Helena egter nie uit haar gedagtes kry nie en by die volgende middag se Canasta-spel vertel sy die ander van hulle ontmoeting. Sandra sê dadelik dis nou jammer sy was nie daar nie. Sy het juis ’n neef wat so graag ’n vrou wil hê wat by hom op sy Overbergse koringplaas sal wil bly en kinders grootmaak. Nou ja.

Die gesprek met Helena bly Celeste ontstem, want sy sukkel om haar van ander se probleme te distansieer. Sy is dus bly toe Sandra voorstel dat hulle die volgende sonskyndag om die Skiereiland ry en stop net waar hulle lus het. Die rit is op sy beste as die son die blou water en wit branders teen die ronde rotse verhelder en die lug se blou teen die groen en graniet van die berge laat uitstaan.

Twee dae later is dit oopgetrek en ry hulle vroeg verby die Twaalf Apostels en Llandudno af na Houtbaaihawe. Hulle stap al met die kaai af en bly staan om die aflaai van ’n vissersboot te aanskou. Dié was vir tien dae uit en vries die stokvis aan boord. Oranje en blou kratte word opgehys, op ’n vervoerband geplaas en dan per hand aangegee na die vriestrok waarin dit netjies gestapel word. Die vissers met hul geel, groen en rooi oliekleedbroeke en oranje handskoene is skilderagtig teen die helder blou lug en veelkleurige bote, die gekrys van die meeue en gesels van die vissers paslike byklanke.

By die Chapman’s Peak Hotel bestel hulle tee. Dit is so rustig op die stoep dat hul amper nie wil opstaan om verder te gaan nie. As hulle stadig al langs die see ry, is dit met waardering vir die vernuf van die ingenieurs en werkers wat so ’n asemrowende rit om Chapman’s Peak beveilig het. Bo trek hulle van die pad af en kyk uit na die Sentinel-bergpiek, die wagter oor die baai.

Ná Noordhoek besluit hulle om af te ry na Kalkbaai. Net voor Simonstad staan ’n klomp motors by die strand en mense tuur uit see toe. Celeste trek ook af en hulle sien ’n skool dolfyne wat maal en die silwer lywe wat lenig oor die water boog. Iemand gee ’n verkyker aan en sy skat daar is ongeveer 300. Hul het seker ’n skool visse vasgetrek waarop hulle feesvier, en dan beweeg hulle stadig al hoe dieper die see in. Vyftien minute later is hulle net ’n donker kol in die verte.

In Kalkbaaihawe blink die water diepgroen en glad, windstil. Hulle gaan sit by Kalky’s, buite onder die eens wit seildak. Van onder af lyk die pote en skadulyne van seemeeue wat op die seil rondtrap koddig. Hulle bestel by die toonbank en moet hand opsteek toe hul nommer geroep word. Die vrou wat bedien, huiwer nie om mense wat stadig reageer die kop te was nie: “Number fifty six! Is julle doof?!” Die snoek is geurig nadat die lang grate uitgetrek is en die slaptjips met sout en bruin asyn perfek. Hulle lek hul vingers stadig af en toe hul opstaan, hop ’n paar rooivlerkspreeus vinnig op die blou tafel.

Ná die ete stap Celeste en Sandra met die kaai langs. Vis soos geelstert, trossies silwervis, stompneus, rooi roman en engelvis word verkoop, en ’n ry gevlekte snoek hang op ’n draad om uit te droog. “Niks snoek v’dag’ie, die wind’t hulle weggewaai,” vertel die visverkoper. Sy sien hulle kyk na die engelvis: “Sy ma’t hom nie baie liefde gegee nie, dié dat sy bek so sad lyk!”

Die vissersbote dein liggies op en af waar hul vasgemeer lê. Name soos Marion Dawn, Ivy-Doreen, Melissa Kelly en Zay-Yaan getuig van familie en geliefdes. Heelwat bote is blou, maar ook rooi, groen of wit, met versierings in kontraskleure, en party het netjies gepakte oranje kreefkuipe of rooi en geel plastiekhouers op. ’n Vet natswart rob swem lui rond totdat ’n man visbinnegoed ingooi. Hy duik blitsig agterna en sluk dit met twee happe in.

Hierna na die Olympia om koffie en kaaskoek te eet voor hulle oor Muizenberg terug Seepunt toe ry. Hulle gaan sit by die toonbank teen die venster om die mense wat verbyloop, dop te hou, en sien die trein voor die see verbyry. Langs hulle sit twee mans, albei in jeans, die bruinkop dra ’n handgebreide groen trui met ’n geometriese ontwerp, die blonde ene ’n blou T-hemp, moue opgestoot tot by sy elmboë, klaarblyklik die ouboet. Groentrui sit koponderstebo. Ouboet hou aan karring, maar dis asof Groentrui hom nie hoor nie. Naderhand ontplof hy: “Dis jou eie skuld jy sit hier soos ’n nat snoek! Kannie jou mind opmaak voor’it te laat is nie!”

Groentrui se kop bly hang: “Ek was heeltyd bang ek word soos ou Fred, met twintig kleintjies en kla hy’t g’n lewe van sy eie nie. En die naweek toe ek jou met julle kinders sien . . . ek’s mal oor Helena, ek wil ôk ’n gesin soos julle s’n hê.”

“Is jy nou seker, helemaal seker?” Groentrui knik van ja, en stap uit, selfoon teen sy oor. Celeste, Sandra en Ouboet sit ewe gespanne en kyk hoe hy heen en weer stap op die sypaadjie, praat en luister. Toe Groentrui se gesig ophelder en sy glimlag alles sê wat hulle nie kon hoor nie, storm Ouboet uit. Sandra gee vir Celeste ’n papierservet aan en hulle lag en huil binne terwyl die manne mekaar buite high five.

Kan jy nou meer? Celeste hoop sy sien Helena en Groentrui sommer gou saam, miskien later selfs met ’n stootwaentjie op die Promenade stap. Sy wonder of die kind se trui pienk of blou gaan wees, maar weet verseker dat dit ’n handgemaakte trui met wit patroontjies soos die trotse ouers s’n sal wees.

  • 1

Kommentaar

  • Renee laat mens sommer lus kry om pad te vat Kaap toe! Dis 'n menslike storie, maar gewortel in ons land. Lekker gelees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top