Kaaps

  • 1

Ek verwys na Jan Rap se brief aan my van 28 deser.

Jan, beweer dat ʼn mens Kaaps (wat hy as ʼn mengeltaal beskryf) alleenlik kan verstaan indien jy Engels en Afrikaans magtig is. Dan beweer jy dat jou bewering niks met taalkunde of linguistiek te make het nie. Verkeerd! (Ek kan sê dis verkeerd, want ek het die bewys dat dit verkeerd is.)

Dit raak juis een van die kernprobleme van linguistiek aan, want dit het te make met die aanleer van taal, wat al deeglik deur taalkundiges nagevors en oor gefilosofeer is. Een so ʼn teorie (Chomsky) is dat uit die karige geluidstroom wat die kind hoor, kan hy ʼn uiters ingewikkelde taalstruktuur baasraak, wat hom in staat stel om taal te genereer. (Ek het al so iets in die verlede oor generatiewe grammatika geskryf.)

Die werklikheid wat soos ʼn paal bo water staan, is dat die taal wat aan die Kaap gepraat word en bekend staan as Kaaps, die moedertaal van duisende mense is. Babas, Kleuters en kinders leer dit aan deur na hulle ouers en ander gespreksgenote te luister. So raak hulle ʼn taal met sy ingewikkelde struktuur baas. Hulle leer nie Engels en Afrikaans by ander mense om hulle eie moedertaal te verstaan nie, en hierdie Kaaps kan hulle verstaan en praat voordat hulle kan lees en skryf.

Kaaps het feitlik saam met Afrikaans sy ontstaan. Daar is al geskrifte gevind in Kaaps wat so ver terug as 1700 dateer. Navorsing mag dalk een van die dae bewys lewer dat Afrikaans sy ontstaan onder andere te danke het aan Kaaps.

Dit is bewys dat moedertaalonderrig die beste resultaat bied. Kinders wat op skool deur ʼn tweede taal, anders as hulle moedertaal, onderrig ontvang, het ʼn agterstand. Kinders wie se moedertaal Kaaps is, het ook ʼn agterstand, want hulle word deur die medium van όf Engels, όf Afrikaans onderrig. Hieraan moet beslis iets gedoen word, en volgens die 1996-grondwet mag leerlinge kies in watter taal hulle onderrig wil word.
Kaaps is nie Engels of Afrikaans nie. Struktureel kom dit baie ooreen met Afrikaans, met ʼn hoofsaaklik Engels/Afrikaans/Oosterse woordeskat.

Kaaps het, soos enige ander taal, ʼn ingewikkelde struktuur, en dit is seker nou tyd dat iemand dit moet beskryf deur middel van ‘n grammatika. ʼn Woordeboek, veral verklarende woordeboek, sal ook nogal handig te pas kom, so ook ʼn woordelys en spelreëls. Ek het nie getel nie maar ek skat so ʼn 100 of miskien 200 Kaapse woorde is in die Afrikaanse woordelys en spelreëls opgeneem. Hier is so ʼn paar: asser, bai, deen, djannat, halaal, iblies, imaam, kafier, kanalla, aspris.

Ten slotte wil ek herhaal: ek verdedig nie Kaaps nie, maar beskrywe slegs wat reeds bestaan. Niemand kan ontken dat dit die moedertaal van baie mense is nie, en dan sluit ek af met wat Adam Small daaroor te sê het.
Ek sê ek praat met djou in Kaaps
Here some van my critics
het nog never in allie djare
my taal hierso geperform nie
ek sê ma net weer net soes lank gelede
die’s g’n Gamat-taal nie.
’n straight en diep taal vannie mense
waar hulle in gebore word en eerste kwyl
en dan allie transactions van hulle lewe in beklink
hulle bietjie maybe baie liefde soek, en haat
en dan, daa' byrie final beacon vannie dood,
in sterwe
en, dja of course djy moet dit sing

Jan, voordat jy weer met jou sirkelargumente kom, laat ek verduidelik. Ek en jy verstaan bogenoemde as gevolg van ons kennis van Engels en Afrikaans, want Kaaps is nie ons moedertaal nie. Diegene wie se moedertaal Kaaps is, verstaan bogenoemde nie omdat hulle Engels en Afrikaans ken nie, maar omdat elke woord daarin deel is van hulle Kaapse woordeskat.

Angus

  • 1

Kommentaar

  • Hei Angus,

    My broe my brie my bra! Djy gat djou vasloep hiesa. Daai Djan laaik 'ie Kaaps 'ie cause why issie Coloureds oppie flatse se lengwhitch.

    Cheers my bra.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top