... Amore! Sy het ’doen’ as onoorganklike werkwoord gebruik, soos die Engelse! Sy’t gesê: "Mense dink dr Viktor kom van Jamaika af maar hy doen nie." Juffrou moet tog dat sy haar matriekgrammatikaboek vat en bietjie hersiening doen.
Daar is ander kinders in die klas wat juffrou ook fyn moet dophou. Daar is van die verslaggeefstertjies wat snaaks praat, hulle sê ’universitaait, beslaait, ondaaidelik, ooggetaaies, iets het gelaai tot ’n ongeluk, nie genoeg taaid nie, daaidelikhaaid, terselfdertaaid, aainaars, munisipalitaait, aaitdôgings, iemand word getaaister’, die soort van ding. Ek stel voor juffrou kry mense soos Bettie Kemp, Lynette Francis, Marietta Kruger en miskien Amore ook om bietjie elokusielesse te gee. Mens moet mos reg praat as mens vir ’n Afrikaanse stasie werk of hoe?
Juffrou moet ook die nuusskrywers en –lesers onder hande kry. Ek hoor hulle praat gereeld van tenders wat toegeken word. Is daar ooit so-iets? Mens tender mos vir werk en ’n kontrak word toegeken, dan nie. Ook hoor mens gedurig " ... kyk uit vir ..." Is dit ooit reg; moet dit nie wees ’let op na’ of so-iets nie. Gereeld kry mens ook dat omroepers na bote, skepe en karre verwys asof hulle vroulik sou wees. Ek stel voor juffrou kry ’n prof of ’n ding om bietjie gehaltebeheer toe te pas. Netnou is daar buitelanders wat Afrikaans wil leer en dan word hulle heeltemal van die wal af gehelp as hulle RSG luister as deel van hulle kursus.
Dink aan daardie burgemeester van New York wat die plek reggeruk het met sy ’zero tolerance’-beleid. Dis die klein vossies wat skade maak en laat mens hulle kattekwaad toe is die volgende ding programname wat woorde soos ’chill’ insluit.
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap, dankie daarvoor dat jy die verslaggeefsterjies so by Juffrou verklap. Ek hoop hulle word oor die vingers getik en kry skaam vir hulle uitspraak.
Maar, nou is dit tyd dat Jan Rap ook geraps word. Hy sê: "Mens moet mos reg praat as mens vir 'n Afrikaanse stasie werk of hoe?" Dit is 'n Anglisistiese konstruksie na aanleiding van bv. "One should know where one is going."
Die konstruksie van die generiese voornaamwoord is " 'n mens" gevolg deur "jy" en "jou", daarom : " 'n Mens moet mos reg praat as jy vir 'n Afrikaanse stasie werk of hoe?" (Dan moet jy let op jou uitspraak.)
Indien "mens" as naamwoord gebruik word, lyk dit so: "Die mens moet weet wat hy doen."
Angus, wees bietjie genadig oor die uitspraak, ek meen, wat van al die arme Transvalers?
Soos in "Aek blai ihn Preetohriah"
Duitswester
Jan Rap,
Goeie skrywe,maar jy moet mooi kyk na jou sinskonstruksie."Daar is ander kinders in die klas wat juffrou ook fyn moet dophou."Moet die kinders die juffrou dophou,of moet die juffrou hulle dophou?
"Gereeld kry mens ook.." moet mos,"'n Mens kry ook gereeld.." wees.
Derdelaaste en tweede laaste sinne:Die werkwoorde,"luister" en "reggeruk het", kom mos aan die einde van die sinne,of hoe?
Ons maak almal basiese taalfoute,vanweë ons verbintenis met Engels.Ek stem egter heeltemal met jou saam en terg jou maar net 'n bietjie!
Groetnis,
Perdebytjie
Jy's reg Perdebytjie (of sal ek sê 'jy het gelyk ...'), ek moes gesê het ' ... vir wie juffrou fyn moet dophou." Wys jou wat gebeur as mens nie meer naamvalle het nie.
Duitswester, dis nie net sommige Transvalers wat so praat nie, gaan loop maar bietjie rond daar op Maties en Kovsies se kampusse en luister. (Miskien kom hulle almal uit die Transvaal?)