John Kannemeyer was ’n jare lange vriend en ondersteuner van Hemel & See Boeke. Ek dink met groot respek aan hom en het net goeie herinneringe aan die jare wat ons saam aan boeke gewerk – en saam lekker geëet en geskinder! – het.
Die eerste van sy publikasies by Hemel & See was Briewe van Peter Blum, wat hy en studente in edisiewetenskap saamgestel het. Hy het die stoute slimmighede van dié briljante brein baie geniet.
Te verstane, was die voorkoms van ’n boek vir Kannemeyer uiters belangrik. Hy was baie in sy skik met die omslag van Briewe van Uys Krige, asook Briewe van WEG en NP Van Wyk Louw, wat in September verlede jaar verskyn het. Februarie 2010 het Kannemeyer Hemel & See Boeke gevra om sy biografie van JM Coetzee in Afrikaans te publiseer – ’n grootse onderneming van meer as 800 bladsye, wat hy in een volume gebind wou hê. Onderhandelings oor die Engelse vertaling het later meegebring dat die publikasie van die biografie in 2011 aan ’n ander uitgewer oorgegee is. In ’n brief skryf Kannemeyer kort hierna: “Afgesien van die komende Van Wyk/WEG Louw-briewe gaan ons in die toekoms nog lekker saamwerk – dit wil sê indien ek ná Coetzee nog asem oor het.” Ongelukkig profetiese woorde. Ons by Hemel & See Boeke betreur die afsterwe van ’n reus in die Afrikaanse letterkunde.
Petrovna Metelerkamp
*
By die Dokumentesentrum van die JS Gericke Biblioteek op Stellenbosch het Kannemeyer deur die jare ’n groot deel van sy tyd deurgebring. Twee vakkundiges wat nóú met hom saamgewerk het, Marina Brink en Lynn Fourie, deel hulle herinneringe:
Op 19 Februarie 1963 skryf Gerhard Beukes in ’n brief aan WA de Klerk: “’n Tyd gelede het ek ’n skandalig-onhoflike 'resensie' van ’n sekere Kannemeyer (?) oor jou jongste Poens-verhaal gesien – en my tot in my siel vererg oor soveel hooghartige buffelagtigheid. Wie is die vent? Ook een van die bulletjies met meer viriliteit as talent, veronderstel ek. Nog nooit van dié groot gees gehoor nie.” (Vers 222, Dokumentesentrum, JS Gericke Bib, US)
Nou ja, Gerhard Beukes kon nie weet dat dié einste viriele bulletjie dié produktiefste Afrikaanse literator tot op datum sou word nie.
Dit was my voorreg om John se omvangryke, interessante versameling dokumente te orden en die agtdelige katalogus daarvan op te stel. Sedertdien het daar omtrent net soveel materiaal bygekom, waarvan ’n bykomende katalogus opgestel sal moet word.
John het byvoorbeeld reeds as 15-jarige skoolseun aan DJ Opperman ’n brief geskryf waarin hy sê hoeveel hy Opperman se poësie waardeer. Hy het ook kaartjies vir ondertekening ingesluit, wat hy voor in die digter se bundels in sy besit wou plak.
Dié brief en talle ander dokumente uit John se versameling gaan vanaf 6 Maart in die Dokumentesentrum uitgestal word om saam te val met die huldigingsprogramme ter ere van hom tydens die Woordfees.
John het ons soms kwaad gemaak en meesal baie hard laat werk, maar ons het heerlike en baie leersame tye saam gehad.
Ons mis hom.
Marina Brink
Manuskripvakkundige, Dokumentesentrum
JS Gericke Biblioteek
Universiteit Stellenbosch
*
3 Januarie 2012, die eerste dag wat die Dokumentesentrum van die JS Gericke Biblioteek vir die nuwe jaar heropen het, was hier ’n leemte. John Kannemeyer, met sy enorme werkywer, het nie 08h00 oudergewoonte by die deur ingestap nie. Ons praat nou nog daagliks van hom, oor hoeveel ons by hom geleer het, wat hy vir die Dokumentesentrum beteken het en oor hoe lekker ons saam gelag het.
Terwyl hy aan sy vele biografieë gewerk het, het hy ons met allerhande interessante staaltjies vermaak. Hy was ’n puntenerige en passievolle navorser wat niks gemis het nie.
John was ’n gereelde besoeker en het tydens een van ons koffietye gehoor dat ek en Marina Brink op pad is om Jan Rabie se dokumente op Onrus te gaan haal. “Ek is in!” sê hy. Tipies John het hy hom nie gesteur aan ons verduidelikings dat hy nie in die universiteitsmotor mag saamry nie. Toe ons wou vertrek, staan hy langs die motor. Dit het ontaard in ’n heerlike uitstappie deur die Hemel-en-Aarde Vallei na ’n restaurant waarvan net hy geweet het.
Dit is hartseer dat hy nie die verskyning van sy grootste biografie, dié oor JM Coetzee, sal beleef nie.
Lynne Fourie
Manuskripvakkundige: Dokumentesentrum
JS Gericke Biblioteek
Universiteit Stellenbosch

