Petrovna Metelerkamp was teen die berg in Kaapstad klein en het daarna in Pretoria skool en universiteit toe gegaan. Toe is sy via Parys terug Kaap toe. Haar eerste skryfwerk was as joernalis – aanvanklik by die Departement van Inligting destyds, daarna jare en jare by Huisgenoot en die meningstydskrif Insig.
In 2000 het sy die uitgewery Hemel & See Boeke in Vermont gestig. Die eerste publikasie was Gesprekke met God, haar vertaling van Neale Donald Walsch se Conversations with God. Van daar het dit voor die wind gegaan en het sy ’n vennoot, Helga Steyn, bygekry.
Van die gewildste publikasies by Hemel & See is hardeband-boeke met briewe van Audrey Blignault, Peter Blum, WEG en NP van Wyk Louw, Uys Krige en Hennie Aucamp. Lewensketse deur Wilna Snyman, Fanus Rautenbach en Ollie Viljoen het hierop gevolg.
Een van die uitgewery se topverkopers was Annette Human se Nuwe, beter Kortpadkos. Hierna het Petrovna begin navorsing doen oor Ingrid Jonker. So verskyn Ingrid Jonker – Beeld van 'n digterslewe (2003), Gesprekke oor Ingrid Jonker (2006), Ingrid Jonker – a Poet’s Life (2012), Ingrid Jonker – ’n Biografie (2018, Penguin Random House) en ’n Nederlandse vertaling, Het kind is niet dood (De Kaneelfabriek, 2023).
Vir Ingrid Jonker – ’n Biografie ontvang Petrovna in 2019 ’n ATKV-Veertjie en haal die kortlys van drie finaliste vir KYKnet-Rapport se prys vir nie-fiksie.
In 2020 publiseer Hemel & See ’n versameling van Jeanne Goosen se Los gedagtes, ’n bundel van haar ongepubliseerde verse, Het jy geweet ek kan toor?, ’n biografie deur Petrovna, Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne en twee novelles in een band: Sneeu in die Karoo, deur Jeanne Goosen en Agnes Morao.
Die nuutste Hemel & See-publikasies waarop Petrovna trots is, is Beurtelinge deur Pirow Bekker en Twee lewens deur Elise Bishop. Laasgenoemde is die uitsonderlike verhaal van die skrywer se “eerste lewe” as ’n seun/man en “tweede lewe” as ’n vrou. Die reaksie op dié boek is een van die hoogtepunte in die bestaan van dié uitgewery.
Petrovna glo sy sal nooit ophou boeke maak nie.