Dit is met groot verbasing en geamuseerdheid dat ek Hambidge se resensie van Bennet se Kodeks gelees het. Verbaas oor die giftigheid waarmee sy Bennett se styl aanval (gedog sy't iewers genoem in ’n onderhoud met La Vita dat sy nie regtig meer bundels resenseer nie), en dan geamuseerdheid oor die insinuasie dat Bennett kwansuis beter by ’n skryf/slypskool sou gebaat het. Ek het Bennett se bundel ’n ruk gelede aangekoop en is aangenaam verras juis oor die emosionele trefkrag waarmee sy skryf. My belewenis van die “Sheldean”-gedig is presies die teenoorgestelde van me Hambidge s’n. Ek mag nie ’n literator wees nie, maar glo dat digkuns ’n intens persoonlike ervaring vir die leser self is. Woordknapheid of gestrooptheid mag tegnies geprys word, maar uiteindelik is dit die leser self wat ’n oordeel oor die bundel moet vel. Daar is juis so ’n skaarste aan mense wat deesdae nog digbundels aankoop. Dit is juis hierdie soort oordrewe en rigiede formalistiese sienings wat my ’n pyn gee en veroorsaak dat die handjievol wat nog digbundels lees, by die dag krimp. Maar laat ek myself korrigeer as ek noem dat ek verbaas is oor Hambidge se giftigheid: Nee, ek is nie verbaas nie, dit is mos nog altyd haar styl. En ja, die grootste digters van die afgelope paar eeue het geen skryfskole gehad nie ...
Marinda Esterhuizen

