Dit is met groot huiwering en versigtigheid dat besluit is om die inhoud van hierdie onverwagte histories-foutiewe gegewens oor die onlangs-gestorwe John Kannemeyer bekend te maak.
Na ’n verbintenis van 45 jaar met Kannemeyer wat begin het met gedeelde akkommodasie in 1957 in Dagbreek, die eerstejaarskoshuis van die Universiteit Stellenbsoch, glo ek dat hy die bekendmaking van die gegewens sou verwelkom in die gees waarin dit gedoen word en ter wille van die selfrespek vir sy eie navorsing en werk.
Tydens die skryf van die biografie oor C Louis Leipoldt is ek deur Kannemeyer genader om besonderhede te verskaf aangaande die Knobel-Leipoldt-familieverbintenis. (Verwysing: hoofstuk 1, nr 59: "In ’n brief van 13 Junie1969 lê prof Deon Knobel vir my die familieverband uit.")
Kannemeyer is onmiddellik verwys na twee gesaghebbende historiese bronne: die geskiedkundige boek deur JB Knobel, The Knobel Family and its relationships as far as known to me in 1894 deur JB Knobel (Private publication, Pretoria, South African Republic, 1894) en Vintage Cape Town, historic houses and families in and around the old Cape deur C Pama (Tafelberg 1973).
’n Aantal gebeurtenisse sedert 2010 het daartoe gelei dat ek die hoofstuk oor die Knobel-Leipoldt-familieverwantskap vir die eerste keer intensief bestudeer het en met eie kennis en dié in die twee naslaanboeke vergelyk het.
In 2010 word ek versoek om ’n vergadering van die Cape Town Family History Society in Kaapstad oor die geskiedenis van die Knobel- en verwante families te kom toespreek. Ter voorbereiding het ek desperaat na my eie kopie van C Pama se Vintage Cape Town gesoek. Ten einde raad skryf ek die volgende e-brief aan Kannemeyer, in die hoop dat hy my ’n kopie sou kon leen.
----- Original Message -----
From: deon knobel
To: john kannemeyer
Sent: Tuesday, September 21, 2010 12:37 PM
Subject: C PAMABeste John,
Ek het jou skrams gesien by die VERSINDABA maar jou nie weer raakgeloop om te gesels nie.
Ek stuur graag vir jou my praatjie aan, wat ek net ná Marius Crous gelewer het.
...
Verder wou ek net vra of jy dalk 'n kopie van C Pama se Vintage Cape Town het? Ek kan myne gladnie vind nie, en nou wil die Cape Town Family History Society my vra om met hulle oor die Knobel en van Buchenröder geskiedenis te kom praat. Dalk kan ek net uit jou kopie kom notas maak, een of ander tyd, as jy dalk 'n kopie het.
Groete
Deon Knobel
Tot my absolute verbasing ontvang ek die volgende antwoord per kerende e-pos op 21 September 2010 waarin alle kennis van Pama se boek ontken word, maar dat hy wel ’n kopie van Regency Cape Town aan my ter plaatse vir aantekeninge sou kon beskikbaar stel. Met later naslaan in die Leipoldt-biografie word teenstrydig heelwat verwysings na C Pama se Vintage Cape Town gevind.
----- Original Message -----
From: john kannemeyer
To: deon knobel
Sent: Tuesday, September 21, 2010 8:13 PM
Subject: Re: C PAMABeste Deon
Dié boek van Pama ken ek nie, maar ek het wel 'n kopie van Regency Cape Town. Ek vertel die geskiedenis van (sic, instede van von) Buchenröder taamlik volledig in my Leipoldt-biografie. Ek is daar egter seker van indien jy Vintage Cape Town wil raadpleeg, jy dit kan doen in die Africana-afdeling van die JS Gericke-biblioteek. Jy kan net Marina Brink of een van die ander personeellede van die Dokumentesentrum bel en hulle sal toegang vir jou verleen.
Ek hoop jy kom reg. Jy is natuurlik baie welkom om hier by my aantekeninge uit Regency Cape Town te kom maak.
Vriendelike groete
John.
Op 9 Januarie 2012, twee weke na Kannemeyer se dood, is Regency Cape Town, ook deur C Pama (Tafelberg) in die leeskamer van die Nasionale Biblioteek in Kaapstad uitgeneem. Daarin kon geen enkele verwysing na Von Buchenröder, Knobel of die historiese grafte op die hoek van Bishoplea- en Feldhausen-strate gevind word nie. (Dit moet egter genoem word dat alhoewel die verhaal van die sloping van die eerste Groote Kerk en die bou van die huidige gebou wel goed bespreek word, daar in die indeks die naam “Groote Kerk” nêrens gevind kon word nie.)
Die enigste en naaste verwysing wat moontlik na die Knobel-verhaal kon lei, was die naam Veldhuyzen, in die Nederlandse vorm gespel en nie Feldhausen in Duits nie. Hier verwys Pama na die aankoop van die huis en landgoed Veldhuyzen deur sir John Herschel, die sterrekundige wat in 1834 in Kaapstad arriveer en sy teleskoop op sy nuut-aangekoopte landgoed oprig “from where he swept the Southern Skies with his telescope”. Op die naasliggende gronde van die Grove Primary School in Claremont is ’n obelisk wat ter herinnering aan Herschel en sy werk opgerig is en vandag nog daar besigtig kan word.
Ook op 9 Januarie 2012 is Kannemeyer se biografie van Leipoldt vir die eerste keer nagegaan, en wel hoofstuk 1, waarin die vroeë geskiedenis van die Von Buchenröder/Knobel-families uiteengesit word. Hier verskyn nou talle verwysing na Vintage Cape Town van C Pama, en nie ’n enkele verwysing na Regency Cape Town nie.
Hierdie skynbare verwarring deur Kannemeyer oor sy eie bronne is kommerwekkend.
Na die soektog in 2010 na my eie kopie van Vintage Cape Town van C Pama is ondertussen ’n pragtige tweede kopie daarvan raakgeloop en by ’n antikwariese boekwinkel in Langstraat aangeskaf en is ook die oorspronklike kopie weer gevind.
Ook in 2010 word Kannemeyer genader vir raad ter voorbereiding van die beoogde versamelbundel van Wilhelm Knobel wat ter herdenking van sy 75ste Geboortedag op 26 Oktober 2010 beplan is.
Totaal onverwags word op 24 Junie 2010 ’n e-brief van Kannemeyer ontvang met die volgende verstommende stelling:
Original Message -----
From: john kannemeyer
To: deon knobel
Sent: Thursday, June 24, 2010 3:55 AM
Subject: Re: Dagsê en raad oor Wilhelm se nagelate werkeBeste Deon
Dit is goeie nuus dat jy so 'n uitgawe van Wilhelm se gedigte oorweeg. Ek dink beslis dit sal die aandag weer opnuut op hom vestig as digterlike herout van Sestig nog voordat Ingrid Jonker en Breyten met hul vrye verse gekom het.
John Kannemeyer.
Hy volg die stelling later met ’n meer kompakte sin op wat op een van die flaptekste van die versamelbundel, As die woorde begin droom, gedruk is: “Hierdie versamelbundel van Wilhelm Knobel sal beslis die aandag weer opnuut op hom vestig as digterlike herout van Sestig nog voordat Ingrid Jonker of Breyten met hulle vrye vers gekom het” (eie kursief).
Ter verfrissing van Kannemeyer se afbrekende en selfs vernederende opinie oor Wilhelm Knobel se werk in Die Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur Deel Een (H&R Academica 1983) is Deel Een nadergetrek en was dit weer verstommend hoe negatief sy oordeel was. Veral ook sy ontleding van Wilhelm se aangrypende gedig “Verhaal”, ’n gedig wat universele waarhede en lewenslesse bevat, en die “verseksualisering” daarvan as dat die “pyn” geïnterpreteer kan word as “die mens wat verligting soek deur die homoseksuele daad”, het soos tevore gegrief en vraagtekens oor wedersydse seksuele oriëntering laat ontstaan.
Lees mens weer sy oordeel in die Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur klink sy latere uitspraak aangaande die “herout van Sestig” en Ingrid Jonker teenoorgesteld en weersprekend. Hy skryf: “Met die gebruik van die vrye versvorm en die assosiatiewe beelde toon hy (Wilhelm Knobel) ’n verwantskap met die Nederlandse Vyftigers en swaai hy weg van die meer kompakte, gekonsentreerde vers in Afrikaans, alhoewel Ingrid Jonker in hierdie opsig sy voorloper is …” (eie kursief) (GAL, bl 493).
Dan kan mens nie help om te wonder of Kannemeyer op sy oudag dalk ’n Damaskus-ervaring ondervind het nie.
Kannemeyer eindig sy hoofstuk oor Knobel (bl 494) met die volgende opsommende gedagtes: “In die laaste instansie is die wêreld van sy poësie beperk en eenselwig, al was hy in staat om enkele suiwer en intense gedigte te skryf.”
Hierdie kommentaar het Phil du Plessis, vriend, digter en medestigterslid, saam met Wilhelm, van Pretoria se digtersgroep in die jare sestig, genoop om die pen op te neem en die volgende kommentaar te lewer in ’n huldigingsartikel oor Wilhelm Knobel ter herdenking van sy sestigste geboortedag op 26 Oktober 1995: “Ek vind hierdie finale oordeel, liewer as Wilhelm Knobel se digterskap, uiters beperk” (Die Burger, 26 Oktober 1995, ’n artikel deur Phil du Plessis: “’n Digterskap buite die hawe – Wilhelm Knobel se reise oor chaos onderskat).
Dat elke deskundige die reg het op ’n eie opinie, moet aanvaar word. Maar tydens hierdie herlees van Kannemeyer se kommentaar oor Knobel word twee uiters onverklaarbare en onverskoonbare feite-foute gevind. Hy noem Wilhelm Knobel se geboortedatum as 5 Oktober 1935 in stede van die korrekte 26 Oktober 1935, en verder dat Wilhelm Knobel se “veels te lywige” Nagelate Gedigte in 1975 by Perskor verskyn het, in stede van in 1976, die korrekte publikasiedatum.
Hierdie twee foute het kommer laat ontstaan oor die akkuraatheid van Kannemeyer se inligting oor die historiese gegewens van die Knobel-Leipoldt-familieverbintenis in sy biografie oor C Louis Leipoldt.
(In bespreking met Danie Botha en Alida Potgieter op 12 Januarie 2012 oor hierdie tekortkominge is ek ingelig dat in die tweede uitgawe van Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur (? 2005) slegs die geboortejaar van skrywers en nie die presiese dag van geboorte nie, aangedui word. Ek het ook verstaan dat die “homoseksuele daad”-verwysing in verband met die gedig “Verhaal” van Wilhelm Knobel uit die jongste uitgawe weggelaat is. Van hierdie feit het ek my nie persoonlik vergewis nie.)
In Oktober 2011 word ’n versoek van Kannemeyer ontvang om een van sy literêre toere (inderdaad die laaste van sy soort voor sy skielike dood op Kersdag 2011) op die spoor van Boerneef en C Louis Leipoldt by die dubbele historiese familiegrafte in Claremont, waar twee Knobel- en Leipoldt-voormoeders begrawe is, te ontmoet en kortliks oor die historiese feite toe te spreek.
’n Tweebladsy-dokument waarin die verwantskappe en historiese feite uiteengesit is, is vir elke toerlid opgestel en by die grafte uitgedeel. Dit het ingesluit die aankoms in Simonstad in 1803 van ene baron Alexander Wilhelm Ludwig Friedrich von Buchenröder saam met sy vrou, die barones Friederike Charlotte Louise Johanette (gebore Meyer van Hanau), hulle twee seuns, Wilhelm Ludwig, die oudste, en Friedrich, en een dogter, Maria Therese Eleonore Wilhelmine. Die baron was leier van ’n groep voornemende nedersetters, uit Nederland gefinansier deur ene Van Hogendorp om verarmde Nederlanders ná die Napoleontiese oorloë ’n nuwe heenkome te bied.
Tussen die baron en sy vrou ontstaan tydens die seevaart van vyf maande op die Nederlandse vragskip Die Vrouw Alida Theodora, skynbaar groot onenigheid. Dit lei tot vervreemding en in 1803 tot ’n wettige egskeiding.
Die 16-jarige Maria Therese was reeds in Duitsland verlief op ene Johann Balthazar Christian Knobel. Weens haar jeugdigheid wou haar ouers nie toestemming gee dat sy by hom in Duitsland agterbly nie en Knobel sluit as sekretaris by die voornemende koloniste aan en vertrek saam as deel van die baron se geselskap.
Beloftes aan die baron van grond vir die nedersetting het skynbaar weens argumente en misverstande nie gerealiseer nie en Von Buchenröder word aangeraai om self ’n verkenningstog na die Suid-Kaap tot by Plettenbergbaai te onderneem. Koppig en arrogant soos hy skynbaar was, wou hy nie aanvaar dat die tog net met ’n wa en osse onderneem kon word nie. Hy het sy Europese koets met ’n paar osse en ’n klein geselskap helpers vir die taak ingespan. Hiermee het hy skynbaar sonder moeite byna die hele toer voltooi, behalwe die laaste gedeelte, wat hy weens die digte bosse te perd moes aandurf.
Weens omstandighede het ’n nedersetting nooit plaasgevind nie. Die geskiedenis vertel dat al sy besittings met sy terugkeer van sy ontdekkingstog deur die staat “geannekseer” of vervreem was en hy word in 1804 deur generaal Janssens met ’n uitsettingsbevel bedien. Hy verlaat die Kaap op ’n Amerikaanse skip wat op daardie tydstip in die Kaapse hawe vasgemeer was. Die baron het nooit weer teruggekeer na die Kaap nie en het sy familie nooit weer gesien nie.
Altesaam het die baron in Nederland drie boeke oor sy ervarings en indrukke tydens sy kort verblyf in die Kaapkolonie geskryf en laat uitgee.
Oor sy ontdekkingstog na Plettenbergbaai word sy eerste boek in 1806 by uitgewers in Nederland gepubliseer as Reize in de Binnenlanden van Zuid-Afrika gedaan in den jare 1803 (Amsterdam Mortier Covens en Zoon; Den Haag in kommissie by B Besanger in het Lang Achterom No 347).
Die tweede boek verskyn ook in1806 by dieselfde uitgewers en heet Beknopt berigt nopens de volksplanting de Kaap de Goede Hoop en handel oor sy kolonisasiepogings in die Kaap.
Volgens Pama het die baron in Nederland weer gedeeltelik op sy voete gekom en ontvang hy ’n militêre pensioen ter vergoeding vir verliese wat hy in die Kaap gely het.
In 1813 is hy een van die Revolusionêres – wat ook Van Hoogendorp insluit – wat planne beraam het vir die terugkeer van die Prins van Oranje.
Pas na die suksesvolle terugkeer van die Prins, en die nuwe regime oorgeneem is, is Von Buchenröder skynbaar as kolonel aangestel om te help om ’n nuwe Nederlandse leër op die been te bring. Op praktiese gebied was hy in bevel van die beleg van Ieperen, waar 1 600 Franse soldate gevange geneem is (Pama, Vintage Cape Town, bl 133).
Pama skryf dat Von Buchenröder nou onverwags weer in die kollig was, en hy publiseer in 1816 ’n derde boek: Verhandelingen over den handel en scheepvaart op landbouwende koloniën, aan die einde waarvan hy skynbaar ’n sterk pleidooi lewer vir die beginsel van vrye handel (Pama, Vintage Cape Town, bl 133).
Hier volg nou nog ’n belangrike historiese weglating, deurdat Kannemeyer nie die derde boek noem nie. Met die toergroep in Oktober 2011 is Kannemeyer wel gevra of hy bewus was van hierdie derde boek, maar hy het kennis daarvan ontken.
Volgens Pama het Friedrich, die jongste seun, skynbaar ná die egskeiding van sy ouers geregtelike beskerming gevra teen sy vader weens dié se wreedheid en sy kwaai humeur.
Hier volg nou nog twee van die groot wanvoorstellings in Kannemeyer se biografie. Hy skryf dat Friedrich ná die baron se vertrek saam met sy moeder in die Kaap agtergebly het en dat hy, soos sy vader, skynbaar skryftalent gehad het en die Simon van der Stel-geskrif (soos dit later genoem sal word ) in Engels vertaal het.
Dit is heeltemal foutief. Friedrich besluit inteendeel om Batavia toe te gaan en word ’n luitenant in die Nederlandse leër. Op 7 Oktober 1807, kort voor hy as kaptein aangestel sou word, verdrink hy tydens ’n militêre oefening met hulle aankoms by ’n rivier (Pama, bl 134). Kannemeyer noem nou korrek dat Friedrich geen nageslag gelaat het nie en dat die Von Buchenröder-naam om dié rede uitgesterf het.
Kannemeyer verwar dus nou totaal Friedrich se geskiedenis met dié van Wilhelm Ludwig, wat na die Oos-Kaap uitbeweeg het. Wilhelm Ludwig word deur Pama beskryf as ’n geleerde man en was lid van The South African Institute. Dit was Wilhelm Ludwig, en nie Friedrich nie, wat skryftalent gehad het en in 1829 die verslag van Simon van der Stel oor sy beroemde besoek aan Namakwaland in Engels vertaal het wat in die South African Quarterly Journal (1826) gepubliseer is. Teen die tyd van hierdie vertaling en publikasie deur Wilhelm Ludwig in 1826 het Friedrich lankal reeds, in 1807, sy waterdood gesterf.
Wilhelm Ludwig werk eers in die landdroskantoor van Uitenhage waar ook sy swaer, Johann Balthazar Knobel, werksaam is en later as goerwermentslandmeter aangestel word. Met die koms van die 1820-setlaars het Knobel se werk en inkomste aansienlik vermeerder.
Wilhelm Ludwig koop die plaas Perseverance aan die Swartkopzrivier, waar hy later sterf. Die amptelike geskiedenis (en ook dié van Kannemeyer wat na Friedrich se kinderloosheid verwys), kom nou tot die gevolgtrekking dat omdat Wilhelm Ludwig nooit getroud is nie, hy kinderloos gesterf het (“died without issue”) en dat die Von Buchenröder-familienaam dus in Suid-Afrika met sy dood uitgesterf het.
Met die restourasie deur Knobel-nasate van die historiese grafte in 2004 word onthou dat ’n vrouestudent met die van Von Buchenröder in die laat ’80’s in die Jamesonsaal van die Universiteit van Kaapstad haar graad ontvang het. Na afloop van hierdie gradeplegtigheid kon sy en haar familielede nie opgespoor word nie. Twee weke voor die inwydingseremonie van die grafte in 2004 is daar in die plaaslike telefoongids gesoek en is die name en telefoonnommers van vyf Von Buchenröders opgespoor. Kon ’n biograaf van Kannemeyer se status nie dieselfde gedoen het, of verkieslik die Departement van Binnelandse Sake gekontak het, om vas te stel of daar wel persone in Suid-Afrika is met die van Von Buchenröder nie?
My kontak met William von Buchenröder van Bellville het gelei tot die verrassende ontdekking dat Wilhelm Ludwig, alhoewel hy nooit getroud is nie, wel drie kinders by twee verskillende vroue gehad het, en “that he was an honourable man who had all three his children baptized in church”.
By die inwydingseremonie van die herstelde grafte in 2004 lewer William von Buchenröder ’n kort historiese oorsig oor sy voorvader, Wilhelm Ludwig.
Hy vind ook later in die Kaapse Argief die testament van Wilhelm Ludwig waarin hy sy groot vriend, William John Fairbrigde, die dokter van Uitenhage, as voog aanstel indien hy sou sterf terwyl sy kinders minderjarig is. Wilhelm Ludwig se seun, William Gordon, word vernoem na die dokter en ontvang geen Von Buchenröder-familiename nie.
Wat het geword van Johann Balthazar en sy geliefde Maria Therese Eleonore Wilhelmine? Hulle tree in 1809 in die huwelik, waaruit binne 16 jaar van huwelikslewe 12 kinders gebore word. Maria sterf kort na die geboorte van haar twaalfde kind terwyl sy en haar gevolg, na ’n kort rusperiode by ene dr Liesching in die “platteland” by Constantia, hulle terugreis na haar woning in Kaapstad weens verslegtende gesondheid onderbreek het. Hulle gaan tuis by ene Schönberg, die eienaar van die Feldhausen-landgoed, in vandag se Claremont. Daar sterf sy binne ’n dag of twee na die geboorte van haar 12de kind en word net daar, op die hoek van die landgoed, begrawe, in ’n bogrondse Nederlandse sogenaamde bakoond-tipe graf.
Toe haar moeder, die barones, vier jaar later sterf, word sy, soos tydens haar lewe versoek, langs haar dogter begrawe. Hierdie grafte bestaan steeds en is, soos reeds genoem, in 2004 deur lede van die Knobel-nageslag gerestoureer. Die grafte is geleë op die hoek van Bishoplea- en Feldhausen-weg in Bo-Claremont en die gronde is nou deeglik omhein, met ’n tuin wat aangelê is en nou as geheel by die grond van die Grove Primary School geïnkorporeer is.
In Kannemeyer se biografie word in die hoofteks korrek geskryf (bl 20) dat die twee dames, Maria Therese (oorlede 31 Maart 1827) en haar moeder, die barones (oorlede 11 Junie 1831), langs mekaar daar begrawe is.
Net na bl 46, waar ’n foto-afdruk verskyn van die marmertablet op die grafte, word nog een van Kannemeyer se ernstigste foute begaan deurdat die identiteite van die twee dames wat daar begrawe is, verwar word. Die teks lees: “Graftes van Barones Friederike Charlotte Louise Johanette (gebore Meyer) en haar dogter, Catherina Wilhelmina Knobel … die oumagrootjie van die digter Leipoldt.”
In die eerste plek word Catherina Wilhelmina, die 8ste kind van Johann Balthazar en Maria Therese, op bl 15 korrek deur Kannemeyer beskryf as Leipoldt se ouma van moederskant (en nie, soos hier bo beweer, die oumagrootjie van Leipoldt nie).
Kannemeyer verwys hier ook na C Pama waar hy skryf oor baron Von Buchenröder ten spyte van die persoonlike brief aan my waarin hy beweer dat hy hierdie boek glad nie ken nie.
Op bl 14 skryf Kannemeyer dat Louis Esselen en Catherina Wilhelmina Knobel op 18 Februarie 1845 in die St Stephen’s kerk in Kaapstad getroud is, dit wil sê onderskeidelik 18 en 14 jaar na die sterfdatums van Maria Therese, Catherina se moeder, en die ou barones. Dat Kannemeyer nou verkeerdelik aandui dat Leipoldt se “oumagrootjie” langs die barones begrawe lê, is onverklaarbaar.
Die ooglopende foute: Catherina Wilhelmina Knobel was nie die dogter van die barones nie, maar van Maria Therese; sy is nie langs haar moeder of grootmoeder begrawe nie; sy is nie Leipoldt se oumagrootjie nie.
Die barones is op 11 Junie 1831 oorlede. Volgens Kannemeyer se eie biografie is Catherina Wilhelmina in 1905 oorlede. Vermoedelik het sy haar lewe langs haar sendeling-eggenoot deurgebring en kan dus glad nie een van die twee dames wees wat daar begrawe lê nie.
Heeltemal korrek skryf Kannemeyer dat C Louis Leipoldt se eie bewering dat hy deur die Bedford-familie Engelse bloed in hom het, ’n fout gemaak het.
Johan Ludwig, die 9de Knobel-kind van die Knobel-egpaar en die ouer broer van Catherina Wilhelmina (Knobel) Esselen, het wel met Clara Bedford getrou. Nou volg weer eens een van die onakkurate stellings van Kannemeyer, dat Wilhelm Friedrich Knobel, ’n seun van Johan Ludwig en Clara Bedford, die vader was van die latere volksraadslid, Gideon Jacobus Knobel, op sy beurt die vader van Wilhelm Knobel (en van my). Die seun van Johan Ludwig en Clara Bedford was egter nie Wilhelm Friedrich gedoop nie, maar waarskynlik op aandrang van sy Engelse moeder, William Fredrick. Hierdie naam in Engelse vorm, saam met dié van sy eggenote, Agnes Sophia Johanna (Rousseau) Knobel, is duidelik leesbaar op die marmerplaat van hulle granietgrafsteen in die historiese begraafplaas van Maitland.
Opsommend dalk die volgende foute in Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur (H&R Academica) en die talle foute, na my oorwoë mening en soos in sy eie woorde oor Wilhelm Knobel se Nagelate gedigte, “die veels te lywige” biografie oor Leipoldt.
1, 2. Die verkeerde geboortedatum van Wilhelm Knobel en die foutiewe publikasiedatum van sy Nagelate gedigte in die eerste uitgawe van Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur.
3, 4. Die verwarring tussen Friedrich en Wilhelm Ludwig, die twee seuns van baron von Buchenröder.
5. Die verkeerde feite aangaande die skryftalent en die vertaling van Simon van der Stel se joernaal.
6, 7. Die dubbele verkeerde inligting dat Catherina Wilhelmina die oumagrootjie en nie ouma van Leipoldt nie langs haar moeder, die barones, begrawe lê in die historiese grafte in Claremont en nie Maria Therese nie.
8. Die feit dat Kannemeyer slegs twee van die drie boeke wat deur Von Buchenröder geskryf en in Nederland uitgegee is, vermeld.
9. Die verkeerde name van Wilhelm Knobel se oupa, William Fredrick.
10. Die stellings dat die Von Buchenröder-naam met die dood van Friedrich dus “uitgesterf” het.
Die kommer wat ek hier uitspreek, is dat aangesien daar in die beperkte hoofstuk van ses bladsye oor die Von Buchenröder-Knobel-Leipoldt-verbintenis, verkry uit ses bladsye van C Pama se Vintage Cape Town (en nie Regency Cape Town nie), soveel foute gemaak is, hoe sou die res van die Leipoldt-biografie, en dalk ook ander biografieë uit sy pen, ’n streng historiese sifting deurstaan?
Onwillekeurig ontstaan die vraag of Kannemeyer ’n reeks medenavorsers aangestel het om hom met die opspoor van die talle historiese feite te help, en veral ook met die nagaan van die akkuraatheid van die gegewens. In huldigingswoorde by die pas afgelope Woordfees in Stellenbosch, en ook in enkele koerantberigte wat ná Kannemeyer se dood verskyn het, onder andere deur Wium van Zyl en Hermann Giliomee, is pertinent beklemtoon dat “akkuraatheid vir John Kannemeyer on-onderhandelbaar” was. Daar is selfs vertel dat hy as skoolkind aan DJ Opperman ’n brief geskryf het om te wys op setfoute in die Groot verseboek.
Of het Kannemeyer met sy "geweldige en ongeëwenaarde werksvermoë” grotendeels op sy eie gewerk en dus soms verward geraak met al die inligting?
Hopelik sal hierdie skrywe die positiewe effek hê dat toekomstige nagraadse studente in Afrikaans dalk sou kies om biografieë deur erkende skrywers as navorsingsmateriaal te bestudeer.
Tydens die skryf van die pas-voltooide biografie oor JM Coetzee het Kannemeyer my weer genader om te help met die opspoor van inligting insake die dood van Coetzee se seun, Nicholas Talbot Coetzee. Daar kan slegs vertrou word dat die inligting, wat ná ’n uitgebreide soektog en met groot moeite ingewin is, korrek aangedui sal word in die biografie.
Deon Knobel
Emeritus professor van regsgeneeskunde, Universiteit van Kaapstad
Kaapstad 8–13 Januarie 2012; 8 Februarie 2012; 4 April 2012
Verdere opmerkings
1. Die spelling van Balthazar word deur JB Knobel as Balthasar aangedui, terwyl die spelling van die voorname van Knobel se eggenote ook varieer en die laaste letter van die voorname met óf ’n a óf die letter e geskryf word – Marie of Maria, Therese of Theresa, Eleonore of Eleonora, Wilhelmine of Wilhelmina. Ek sou aanneem dat weens die stoere Duitse agtergrond waaruit sy kom, dit aanvanklik waarskynlik altyd op die letter a sou eindig wat later in die sosiale gebruik daarvan tot die sagter e-klank verander is. In die huweliksberig tussen Johan en Maria Therese word Johan met een n, Balthasar met ’n s en slegs Maria met ’n a aan die einde gespel.
2. Die volledige Von Buchenröder-van word nou aangedui met die byvoeging van Von Buschenrad aan die einde, dus Von Buchenröder von Buschenrad.
DK 4 April 2012

