Intertekstuele gesprek vat Suid-Afrikaanse landskap vas

  • 1

Saamgestel deur Izak de Vries en Karen Simpson
Uitgegee deur Bateleur Books
Prys R69,00
ISBN 10: 1 86915 565 3
ISBN 13: 978 1 86915 565 0

'n Kortverhaalbundel van agtien eg Suid-Afrikaanse verhale wat intertekstueel met mekaar in gesprek tree en wat 'n breë oorsig oor die kortverhaalgenre gee – daarmee kan die samestellers (Izak de Vries en Karen Simpson) geluk gewens word. Die bundel vat, in 'n neutedop, die lewe van Suid-Afrikaners vas – soos in die Voorwoord geskryf word.

Die samestellers van die bundel se doel was om verhale op te neem wat stories vertel,  en daarin het hulle geslaag. Die verhale bevat, behalwe moontlik twee stories met sterk poëtiese eienskappe, naamlik "Vrydagaande praat jy in jou slaap" en "In 'n neutedop", duidelike storielyne.

Die kortverhale verwoord verskillende perspektiewe op die Suid-Afrikaanse landskap: van Kleinmond ("Al lê die berge nog so blou") tot 'n Venda-sprokie ("Die jong meisie en die sebra") tot Dover in die Verenigde Koninkryk ("Hittete") tot die virtuele ruimte van die rekenaar ("Game over, try again"). Die Suid-Afrikaanse landskap het deel geword van die "groter wêreld waarin ons nóú woon”, soos Abraham H de Vries skryf in sy teks "Ons dorp". Vooroordele word in sommige verhale uitgespreek en nie verdoesel nie, met die uiteindelike doel om versoening teweeg te bring. In "Al lê die berge nog so blou" kom sterk negatiewe politieke en godsdienstige kodes na vore wat aan die einde van die verhaal versoen word in die uitdeel van kos as nagmaalskode. Die sosiopolitieke agtergrond word uitgebeeld in verhale soos "Joy" en "Mutsuku".

 Die temas wat aangeraak word in die bundel, is onder meer die liefde (soos in "Die engelman"), opstand teen 'n gesagsfiguur (in "Agter die skerm,") die ekotema ("An act of union"), Vigs ("Joy"), geweld ("Damwal") en die eensaamheid sonder kinders ("Nog 'n asem"). 

Die samestellers skryf ook in die Voorwoord dat hulle "'n breë oorsig van die verskillende subgenres van die kortverhaal" wou gee. Daardie oorsig kom duidelik na vore in die bundel. Daar is 'n kunswerk wat neig na die poëtiese in "In 'n neutedop", 'n elegie vir Johannes Kerkorrel in "Al lê die berge nog so blou", liefdesverhale soos "Vrydagaande praat jy in jou slaap", 'n kontreivertelling in "Wanneer twee wêrelde bots" en selfs 'n metavertelling aan die einde van die bundel deur Abraham H de Vries.

Verskillende emosies word in die kortverhale verwoord: die opstand in "Agter die skerm", die hartseer oor die afwesigheid van kinders in die huis in "Nog 'n asem", die hartseer oor 'n ou hond wat sterf in "Mutsuku", die blydskap oor 'n orgaanoorplanting in "Een se dood ..." en die blydskap van 'n persoon wat in die hemel sy gunsteling-rocksterre ontmoet in "Rockhemel".

Wat die bundel waarskynlik onderskei van ander kortverhaalbundels, is die intertekstuele gesprekke wat die verhale onderling voer. Elkeen van die kortverhale lewer kommentaar op minstens een ander verhaal in die bundel. "Die engelman" se grootste interteks is "Hittete", aangesien Izak de Vries dit geskryf het nadat hy Cila Walters se blog gelees het. Behalwe dat die verhale met mekaar in gesprek tree, word ander intertekste in die verhale opgeroep. Musiek as interteks blyk uit verhale soos "Al lê die berge nog so blou", waarin die musiek van Johannes Kerkorrel as interteks voorkom. "Agter die skerm" kan saam met Anton Goosen se "Gatvol” gelees word en "Rockhemel" kan nie gelees word sonder om na die musiek te luister waarna daar verwys word nie. Ander letterkundige werke moet ook betrek word: "Damwal" voer 'n gesprek met onder meer Tot verhaal kom van Abraham H. de Vries; By Fakkellig deur Karel Schoeman kan betrek word as interteks by "An act of union" en Stephen R Covey se boek The 7 Habits of Highly Effective People is 'n interteks by "Agter die skerm". Ook die breë kunswêreld word betrek in 'n verhaal soos "Een se dood ...", wat verband hou met die films 21 grams en Meet Joe Black. Die spel met intertekstualiteit kan 'n interessante studie bied aan lesers wat belangstel in postmodernistiese tendense in die letterkunde.

Agter in die bundel is verskeie hulpmiddels wat spesifiek daar is om die leser te help met die interpretasie van die verhale. Addendum A is 'n nuttige hulpmiddel om die leser te help om kortverhale te hanteer. Met ander woorde, "riglyne" word verskaf oor hoe om 'n kortverhaal te ontleed, alhoewel die samestellers waarsku teen 'n "resep” om kortverhale te ontleed.

Addendum B bevat kort aantekeninge en vrae oor elke kortverhaal, terwyl Addendum C letterkundige terme verklaar. Dié lys is veral waardevol vir lesers wat meer belangstel in die teoretiese aspekte van die letterkunde. Die hulpmiddels lees maklik en word nie ingewikkeld aangebied nie, sodat van skolier tot letterkundestudent en boekklubleser tot akademikus dit nuttig behoort te vind.

Die kortverhaalbundel is goed saamgestel en slaag in die doel wat die samestellers beoog het. Selfs diegene wat nie tradisioneel kortverhaalbundels koop nie, behoort die bundel op te tel en te lees.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top