Interstellêre reisgids

  • 1

Bron

Hoe eensaam moet dit daar diep wees?

Ons is almal reisigers op ons weg in die lewe. Nes die menstuie iewers op die buitenste rand van ons sonnestelsel, is party hier waarskynlik ook net digitaal met die res van die mensdom in verbinding.

Ja, wie sou dit alles 35 jaar gelede kon dink?

35 Jaar gelede was die mensdom se buiteruimtelike ervaring net 20 jaar oud. Niemand sou toe kon droom van iets so alledaags soos selfone vandag nie.

Maar dit kom ’n lang pad. Die uwe was al ’n laat-tiener toe die eerste toetspatroon op TV hier gebeeldsend is.

Op 5 September 1977 is Voyager 1 die ruimte in gelanseer. 16 dae voor dit, op 13 Augustus 1977, is Voyager 2 die ruimte in geblaas. Die tegnologie wat Curiosity onlangs op Mars laat land het en dit wat die twee Voyagers na die buitenste rand van ons sonnestelsel vandag laat vaar, verskil spreekwoordelik met ligjare. Al is die Amerikaners nie juis te goed met hul volgorde nie, vaar beide hierdie reisigers nou reeds ’n leeftyd lank groots vir biljoene kilometer en sonder enige insident van ons aarde af weg.

Terwyl jy hier lees spoed die Voyagers  teen ’n asembenemende 17 km/s, oftewel ongeveer 61 000 km/h die diepte van die ruimte in.

Die twee tuie is naby aan 33 biljoen kilometer uitmekaar. Voyager 2 vaar Suid by 15 biljoen kilometer vanaf die aarde weg en Voyager 1 so 18 biljoen kilometer in ’n Noordelike rigting van die aarde af weg. Data van die tuie neem omtrent 16 uur om die aarde te bereik.

Langs hul weg is daar toweragtige mooi ontdekkings gemaak; die vulkane op Jupiter se maan Lo, Saturnus se ringe, die geisers op Neptunis se bevrore maan Triton, die hoek van die magneetveld op Uranus ...

Daar wag nog menige ontdekkings op hul reis sodra hulle deur die buitenste rand van ons Sonnestelsel breek. Die energiebronne op die tuie word uiters spaarsamig benut. So word geskat dat beide tuie tot in 2025 nog data uit die interstellêre ruimte na die mensdom kan terugsein.

Oor 40 000 jaar behoort een van die Voyagers ’n ander sonnestelsel te bereik. Wie weet, miskien speel iemand daar dan die "goue oue" aan boord met liefde van Carl Sagan namens ons almal.

Hoewel al die oorweldigende kosmiese beroerings in ons bestaan skynbaar ongemerk by mens, vis, plant en klip verbygaan, is ons alles deel van ’n ewige, wentelende en allesinsluitende werklikheid.

God skep ’n nuwe wêreld vir elke generasie. Die wêreld waarin Adam gelewe het was baie anders as dié van Abraham. Moses se wêreld was weer heeltemal anders as toe Jesus Christus op die aarde geloop het.

Vandag verlaat ons die Sonnestelsel ...

Hoe verstommend dat ons kan terugkyk en ons reis kan bedink met die wete dat ons, ’n ieder en ’n elk, so intiem geweef is in die kleed van ons Kosmos. Ons is almal een as nog ’n produk van hierdie asemrowende reis!

Hoe fantasties is dit nie ook om vorentoe te kyk en te wonder oor wat daar vir ons beskik is nie. Dink net die insig en ontdekkings wat daar vir ons wag. Ons deel ons verlede in ’n gelyke maat met ons toekoms.

Daar is ’n gids om ons te begelei die oneindigheid in van ons bestaan en die oorweldigende eensaamheid wat dit kan meebring. Hierdie gids is ons hart. Dit maak nie saak hoeveel ons weet nie, saam met wie, en of ons selfs met ander saamkom nie. Ons Almagtige Skepper het aan elkeen sy eie hart gegee om direk met Hom in ’n verhouding te leef en so ’n wegwyser na bakens tot diep in die Kosmos vir ons te wees.

Namaste!

Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke, Boeddhistiese en Afrikaliefde,

Cornelius

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top