Inkluissindroom

  • 1

Ek sit in die voorportaal van die skool voor twee deure. Die een deur is oop. Dis Liesbet, die sekretaresse, se deur. Die ander deur is toe. Dis die skoolhoof, meneer Moffat, se deur. Gelukkig is die dubbeldeure van die hoofingang oop en ek kan die kinders buite hoor rumoer.

’n Rou gil laat my vervaard opkyk. Die kinders op die muurtjie by die oorkantste klaskamers sit heeltemal rustig, maar ek is nie geflous nie – in graad vyf het ’n beduiwelde tweeling genaamd Boelie en Moerie my agter ’n muur platgesit en grond in my mond geprop.

Ek wag dat iemand inhardloop met die nuus van ’n ongeval. Maar niks. Hulle dreig seker die kind: “As jy klik, gaan ons jou kop in die toilet druk. Ons gaan jou toesluit in die besemkamer. Ons gaan vir almal vertel jou pa is ’n sissie.” Sê nou dis Adele? Maar nee, sy’s op ’n toer. Ek oorweeg dit om Liesbet se aandag te trek. Of miskien moet ek aan die personeelkamer se deur klop.

Sê nou die kind is met die vuis geslaan? Ek staan op, stap na Liesbet se deur. Sy praat op die foon. Daar is ’n gelamineerde kennisgewing op haar lessenaar:

          GUN ANDER DIE PRIVAATHEID WAT U VIR USELF EIS:
          SLEGS EEN PERSOON IN DIE KANTOOR.
          OOK ’n GESPREK OP DIE FOON IS PRIVAAT.

Miskien lê die kind buite in die son en haar neus bloei. Ek is by die dubbeldeure toe iemand weer gil. My oë trek agter my ore aan: Net links van die klaskamers is vier kinders besig om ’n tennisbal met hulle hande vir mekaar te slaan. Terwyl ek vir hulle kyk, slaan een meisie die bal raak en kreet haar oorwinningsgil uit.

Die klok vir die einde van die pouse lui oorverdowend. Die deur agter my gaan oop en onderwysers stroom uit die personeelkamer soos bloed uit ’n wond. Die skoolhoof loop by my verby sonder om links of regs te kyk en sy kantoordeur gaan agter hom toe. Deur die oop dubbeldeur sien ek die kinders in rye aantree.

Op dertien is ek weggestuur. Dit wás beter by die kunsskool, want niemand daar dink daar’s fout as jou pa skilder nie. En hulle is nie daar so kwaai oor in rye loop nie.

’n Paradysvoël verskyn skielik in die dubbeldeur: lang donkerbruin hare met ’n flambojante verekam vasgevang. Rooi lipstiffie wat haar donker oë nog groter en weerloser laat lyk. Ferm ronde borsies onder ’n sagte wit kaasdoekbloes en ’n syserp in gifgroen en brandweerwa-rooi en blinkblou.

Ek kyk weg. Ek het die lang bene in die stywe denim al voorheen gesien – voor die ingang van die huis waar die sielkundiges praktiseer.

“Praat met jou pa hieroor,” het die raadgewer gesê.

Die paradysvoël staan voor my. “Is daar iemand by hom?” Sy beduie na die hoof se kantoordeur.

Ek skud my kop. “Maar die sekre–.” Die kantoordeur is al agter haar toe.

“Dora,” het my pa gesê toe ek hom konfronteer, “ek het jou nie vir ’n halwe dág in ’n sak aan die dak opgehang nie – jy was skaars ’n halwe minuut daarin!”

Liesbet praat nog op die foon. “... laat ek net die adres neerskryf ... totsiens.” ’n Papier skuif, toe die klank van ’n koppie op ’n piering. “Dora?” Sy trek ’n gesig toe ek binnekom. “Ek weet nie hoekom ek nog bodder om tee te maak nie. Ek kry nooit kans om dit te drink voor dit koud is nie.”

Ek voel hoe ek rooi word. “Ek is jammer, jy kan gerus eers jou tee drink. Ek sal wag.”

Sy lag. “Dis nie jou skuld nie. Maar ek moet my bloeddrukpille drink. As jy wag, maak ek vir ons vars tee.”

“Dis regtig nie nodig …”

“Nonsens, jy het ’n koppie verdien.” Sy is al uit by die deur.

Deur die venster vang my oog ’n motor wat teen ’n ongehoorde snelheid by die oprit opry. Daar gaan moeilikheid kom – meneer Moffat se kantoorvenster is aan dieselfde kant en hy verduur nie ’n gejaag by sy skool nie.

Die motor hou met skreeuende remme voor die dubbeldeure stil. ’n Vrou klim vervaard uit. Dis mevrou Moffat, sien ek: mollig, met kort reguit blonde hare, ’n wipneus en ’n dubbelken. Vandag lyk sy verbete, sonder lipstiffie, en die maskara trek strepe op haar wange. “Die motor ...” sê ek dringend. Maar sy ruk eenvoudig haar man se kantoordeur oop en gaan binne. “Waar’s die fl–?” Die deur klap toe. Die klein rooi Franse motor luier nog, die deur aan die bestuurder se kant wawyd oop.

Liesbet sal weet wat om te doen. Liesbet is besig om behendig kookwater by teesakkies te gooi, die foon tussen haar skouer en oor vasgedruk. My hande bewe so dat ek skaars die sleutel in die aansitter gedraai kan kry. Die geluier word stil.

Liesbet kom by die personeelkamer uit toe ek weer in die voordeur staan. “Kom,” sê sy, “ons verdien ’n koppie tee.” Sy het ’n skinkbord met twee koppies tee, melk en suiker en die koordlose foon daarop. Ek hou die zip-beursietjie met die kraaines van sleutels uit, maar die foon lui al weer. “Kom in,” sê sy oor haar skouer, skuif die skinkbord op die lessenaar neer, en tel die foon op.

“Hoërskool Rotsvas,” sê sy. “Liesbet wat praat. Hoe kan ek help?” Sy luister ’n oomblik. “Hou aan, ek skakel deur.”

Sy sluk behaaglik haar warm tee. “Kom betaal jy vir Adele?”

“Ja. En ek het haar vorms nodig. Sy gaan mos volgende jaar Bloemfontein toe. Hulle het kuns as ’n vak daar.”

“Reg, ek sal dit gou by Meneer Moffat gaan kry. Ek weet hy het dit vanmôre ingevul.”

“En die sleutels …” Ek hou hulle na haar uit.

“Wat is dié sleutels?”

“Mevrou Moffat het haar sleutels in die kar vergeet …”

Liesbet lig ’n wenkbrou. “Is sy hier?”

“Ja, terwyl jy in die personeelkamer was. Ek is jammer, ek wou nie voorbarig wees nie, maar sy was baie haastig en sy het ingehardloop sonder om haar motor af te skakel of die deur toe te maak. Ek was bang iemand peuter met die kar as ek dit daar los ... ” My stem raak weg.

“Ag, dis reg, sit maar neer. Drink jou tee, Dora, terwyl ek die kwitansie skryf.” Sy buk oor haar kwitansieboek, die note in haar linkerhand. “Mmm ... ingehardloop, sê jy?”

“Ja.”

“Sal my nie verbaas as ... ”

Meneer Moffat steek sy kop om die deur. “Ek neem gou my vrou huis toe met my motor,” sê hy vir Liesbet. “Sy voel nie lekker nie.”

“Reg, Meneer,” sê Liesbet.

“Ek ...” sê ek, maar hulle is al by die deur uit.

Liesbet sluit die geldnote in ’n trommeltjie toe. “Oe-oe, party mense se hoendertjies gaan hok toe kom … Hier’s die kwitansie.”

“Watter hoendertjies – o, dankie.” Ek neem die kwitansie met my linkerhand, die handsak oor my arm. Maar die handsak gly ondertoe, en klap die koppie in my regterhand van die piering af. Ek keer onwillekeurig, maar toe stamp ek die skinkbord om. Die suiker en melk trék oor die vloer. Uit my handsak – nie op knip nie – stort lipstiffie, snesies, dagboek, pen en motorsleutels. Die beursie met kredietkaarte suig die melk op.

“Ek is jammer,” sê ek, knielend op die vloer, “so jammer ... ”

“Om hemelsnaam,” sê Liesbet. “Hou tog óp om so vir alles jammer te sê.” Sy skakel die interkom aan. “Josef ... ? Bring die skoppie en ’n mop.” Sy kom hurk by my en help my om die goed terug te sit. “Daar, Dora, niks om oor opgewonde te raak nie. Daar’s mense dood in die oorlog.”

Ek lag ten spyte van myself. “Hoe dóén jy dit?”

“As jy eers eenmaal ’n koppie tee op jou rekenaar omgekeer het, is niks daarna meer ernstig nie.”

Sy staan op toe Josef inkom. “Dankie Josef.” Sy draai na my. “Kom saam, dan kry ons sommer jou vorms.” Sy stoot die hoof se deur oop, en stap om sy lessenaar. “Hier is dit.” In die verbygaan stoot sy die kluisdeur toe, sluit dit en gooi die sleutel in die lessenaarlaai. “Hy’t die laaste twee periodes af; ek weet nie of hy weer gaan terugkom nie.” Die deur knip agter my toe.

Terug in die motor kry ek nie my donkerbril raakgevat nie. Ek ry verby die supermark – sien nie kans om nou stil te hou vir brood nie. Ek ry huis toe, nog steeds na aan trane. Ek word lomper by die dag. Ek het gedurig blou kolle van vasloop in tafels.

In my ateljee lê die pastel waaraan ek werk, maar dis baie moeilik om te konsentreer as ek om een of ander rede ontsteld is. Josef-met-die-mop moet baie vies wees oor die ekstra werk. Die agtergrond kort ’n bietjie geel.

“Ek het jou in die sak opgehang om jou ’n les te leer,” het my pa gebroke gesê. “Jy was vyf en jy het aanmekaar gefoeter met die soldeervlam. Ek was bang jy brand die huis af. Kan jy dit onthou?”

Die paradysvoëlvrou het nie uitgekom toe mevrou Moffat ingegaan het nie. Die pastel ... miskien ’n bietjie meer blou op haar vel ... ? Ek werk nie met akrielverf nie. ’n Mens moet vinnig werk, weet wat jy wil doen.

Mevrou Moffat is ’n baie private mens. Snaaks dat sy voor die ander vrou ...

My pa is nie ’n man wat huiwer nie. Hy weet wat en waar en wanneer. Sy akrielverfskilderye hang in teaters en bankhoofkantore. Hy aanvaar portretstudies net van mense wat hy interessant vind. Hy vra ’n huisvrou wat sy kan bekostig en laat miljoenêrs lenings aangaan om hom te betaal.

Die vrou moes agter my en Liesbet verbygeloop het terwyl ons besig was om my goed op te tel.

Die verstikkende donker geur van sak is óm my.

Staan op. Strek arms. Haal stadig asem. Trek trui uit. Venster oop. Die deur is oop. Daar’s met opset nie bome in die tuin nie, net ’n horison. Ver kyk. Asem in. Uit.

Terugflitse word geaktiveer deur soortgelyke tonele, het die berader gesê.

Trui op hanger. Pastelkryte langs mekaar: wit, dan skakerings van rooi, oranje, geel ... Ek begin stadiger asemhaal. Handsak oorpak: suurmelk-beursie uitskud en in die asblik. Note en munte en kaarte onder die kraan afspoel. Diep asemhaal. Nuwe pakkie snesies insit. Sleutels ...

Die zip-beursietjie met sy kraaines sleutels lê in die verste vakkie, onder my donkerbril-huisie. Ek krap die motor se trurat, maar die vertroude roete skool toe verloop gladder as wat ek verwag. Mevrou Moffat se rooi Franse motor staan nog net so. Die dubbeldeure is toe.

Haal diep asem.

Ek en Liesbet sou nie die paradysvoëlvroutjie sien loop het nie. Ons was aan die opruim.

Asem in. Asem uit. Stadig. Weer: Asem in. Asem uit.

Ek het die kat aan die stert beet. Ek jaag spoke op. Ek krap waar dit nie jeuk nie. Soos die gillende kind vandag. Ek gaan aan my pastel gaan werk – die blou en miskien ’n bietjie groen op die vel bysit.

En môre sal ek die vrou in die straat sien en weet ek was belaglik. Maar wat om met die sleutels te maak? Ek bewe so dat ek skaars die sleutel in die dubbeldeur-slot kan kry.

Ek sluit die skool se voordeur oop. Ek sluit die hoof se kantoordeur ’n bietjie makliker oop. Ek haal die sleutel uit die lessenaarlaai en ek sluit die instapkluis sonder enige huiwering oop.

“Toemaar,” sê ek vir die bewende bondel vertoiingde vere in die denim en kaasdoekhempie wat op die vloer sit, “toemaar, toemaar.”

En ek weet, my pa het my amper dadelik uitgehaal.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top