In transit

  • 1

Ek reis baie. My reise neem my na plekke waarvan min mense weet of al gehoor het en slegs 'n aks van hierdie kundiges trap ooit die grond daar.

In Uchkuduk val die kwik tot dit taaierig op 26 grade onder die Celsiusvriespunt vassteek; in Geulb Moghrein word staal gevaarlik warm in die 53-grade middagson … Ek het al maanskyn op 'n yssee gesien, 'n elektriese storm in 'n oerwoestyn oorleef, onder 'n waterval (wat op geen kaart voorkom nie) gestaan en in 'n stad waarin veertien miljoen mense se rommel rondhoop, gebly. Ek is ook deur gewapende magte uit 'n mynkamp gered, het gesien hoe die vlieënier van ons tiensitplekvliegtuig aan sy instrumente tik-tik in 'n poging om hulle te laat werk en in vyfsterhotelle gewag om huis toe te gaan.

Ry vorm die grootste deel van my reise en ook hier ervaar ek die hele spektrum omstandighede: van vyfbaan-hoofweë waar spoed nie 'n grens het nie tot mynpaaie wat so sleg is dat dit jou ses uur neem om 110 kilometer ver te sukkel terwyl jy vertrou die voertuig is taai genoeg.

Rondreis in Afrika is nie vir sissies nie.

Maar soms gebeur daar iets onverklaarbaar, iets waaroor ek net kan wonder en peins en vir gekose vriende - die wat nie sal dink ek is mal nie - sal vertel …

Soos 'n keer toe ek Barberton toe is. Die bekende pad oor Machadodorp was te bekend, toe draai ek by die Wonderfonteinstasie regsaf, Carolina toe. Hierdie gebroke pad, wat later die R38 word, is maar nou en kronkelrig en mens moet wakker bestuur.

Ver anderkant die Buffelspruitbruggie, waar die plantasies al begin, kry ek hulle: 'n man met 'n waentjie soos die ou spoorwegtrollies op Parkstasie, hoog gepak met goed en lappe. Hy peuter aan een van die wiele en sien my nie, maar sy hond sit hoog en draai sy kop soos ek verbyry.

Hierdie beeld spook in my kop, al die pad deur Badplaas, myn toe, met die omdraai en ook waar ek net buite Barberton stilhou vir kos.

Die maaltyd bestaan uit drie worsrolle en twee koeldranke, maar ek eet en drink net een van elk.

Ek bestuur verder soos een wat verdwaal het: ek kyk die heeltyd rond of ek hulle iewers kan sien, maar ek kry hulle nie en my onvermoë maak my gek. Ek vra vrae oor wie hulle is, waar hulle vandaan kom, natuurlik waarheen hulle op koers is … of hulle op koers is …

Verby Badplaas was daar padwerke en ons moes wag dat die stop-go-bord onderstebo omgeswaai word voor ons kon voortry. 'n Jong ventertjie met 'n mandjie warm koeldranke op haar kop het naby die werkershut gestaan. Dit was duidelik dat haar bedryfie maar sukkel, want niemand was dors genoeg om verdagte, louwarm stroop te drink nie. Ek het teen die tyd opgehou hoop om my reisigers raak te ry, die worsrol in my maag was sooibrand en sy het honger gelyk. Toe ek my venster laat sak, draf sy nader met 'n verleë glimlag, maar frons toe sy die pakkie sien wat ek by die opening uithou. Sy het dit gevat en haar knieë effens geknak in 'n gebaar van dankie-sê.

Die man het sy bord omgeswaai en ons het gery.

Toe, buite Carolina, kry ek hulle weer. Daar is 'n lang, reguit afdraende buite die dorp waar die kante van die pad redelik verspoel het. Hy was vooroor gebuig soos hy die trollie teen daardie genadelose bult opgebeur het, maar hy het opgekyk en my met sy kop gevolg in my verbyry. Die hond het my, soos vroeër, ook so dopgehou.

Ek het geswets, op die remme gestaan en teen die vinnigste moontlike snelheid omgedraai na hulle toe. Hy en sy dier het my glimlaggend gestaan en inwag terwyl ek nader geskud het.

“Ek het jou gesoek,” het ek sommer so deur die oop venster gesê toe ek langs die waentjie stop.

“En ek het vir jou gewag,” het hy geantwoord.

Ek het uitgeklim met die kos in my hande, vies dat ek daarvan weggegee het.

“Ek is Michael,” het hy hom voorgestel (met 'n ‘g’, nie die Engelse k-klank nie), “en dit is Zeus.” Die sê van sy naam van blykbaar toestemming om te groet en die Jack Russel het teen my opgestaan en oopbek vir my gelag.

Zeus was springbly oor die worsrolletjie, tog het hy dit rustig met klein happies opgeëet terwyl hy kort-kort vir sy baas gekyk het.

Hulle reisstorie het in Middelburg begin. Michael het sy welvarende besigheid verkoop, die trollie uit sy kop gebou, proviand gekoop en sy avontuur begin. Die detail was verstommend: hy het beplan om van Middelburg af tot in Durban en dan kuslangs tot in Kaapstad te loop, trollie, hond en al.

Ek het gevra waar die idee vandaan gekom het en hy het geantwoord dat hy een nag dit in sy kop gekry het. Dit was blykbaar iets wat hy moes doen, sonder om te veel daaroor te mag wonder. Hy het meer ondersteuning as kritiek by sy familie en vriende gekry en dit was wonderlik om te ervaar hoe mense help en kos gee en blyplek verskaf.

Ek het hom voorspoed toegewens, sy hand geskud en gery.

Toe tref dit my.

Ek het hulle die oggend anderkant Carolina gekry, in Badplaas se rigting, maar nou was hulle hierdie kant, omtrent 40 kilometer daarvandaan. Hulle kon nie so ver loop in die tyd nie.

Hulle was die oggend tussen bome, nou, op oop grond.

Hy het nie geëet nie.

Niemand in die motors wat by ons verbygery het, het in ons rigting gekyk nie, amper asof ons onsigbaar was.

Sy naam is die van 'n engel, sy hond s’n een van die gode.

Hy het vir my gewag, op 'n plek waar hy nie kon wees nie.

En ek het omgedraai om sy storie te hoor.

Ek het in trane weggery, want sy reisverhaal was myne. Die verskil was dat hy geweet het waarheen hy op reis was, ek nog nie ...

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Stephan Jones

    Hierdie het net so gebeur soos ek dit vertel het. Ek brand om te weet of iemand anders hom raakgery(?) het en of hy sy bestemming/doelwit bereik het...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top