In my donkerste drome
In my donkerste drome in die fragmente van nagmerries iewers tussen freud
se id en ego in die gebroke skerwe van my dae bol-oog teen die voortspoedende
ruit tussen die stokman-skare en hulle skarrelende skarrelende spore iewers
in my donkerste drome en tussen die fragmente van vorige en toekomstige dae
blink daar letters in ’n vrot woordeboek skarrel ’n rot grinnikend oor ’n vuil
kombuisvloer met ’n bebloede bewende snorbaard flikkerend onder wiegende
lamplig iewers blom daar ’n huis waarvan die vloere kraak waarvan die vloere
na middernag kraak en die lang gange kronkel soos die are van slange iewers tussen
swart gange gorrel ek gorrel ek spuug ek bloed flits my skerp tande in die donker
tussen die bladsye van ’n woordeboek soos die afkop gebare van ’n skisofreen
terwyl die dak drup terwyl die dak drup terwyl die mure moorddadig skud sit ek kop
tussen die hande maar my tande flits skerp en blitsig in die donker en my woorde
skarrel soos ’n afkop rot oor die kombuisvloer skarrel my woorde soos ’n rot
![]() |



