Iemand wat ek nie ken nie
Vers
As ek eensaam is,
verlang ek na jou.
In hartseer dae
kruip jy in die hoeke van my kamer weg.
Op stormagtige dae
soek ek na jou tussen die windverwaaide blare
en sien hoe jy die doudruppels in my gesig sprinkel.
Op sonnige dae
kruip jy weg tussen die branders
en los jou voetspore tussen rotse in die seesand.
Koor
In hierdie verbeeldingsprokie
loop ek langs my eie skaduwee,
glo ek soos ’n kind en wag vir ’n teken.
In hierdie dogtertjie se nagmerrie
kom spyt veels te laat,
en is jy weg.
Vers
Ek voel gereeld hoe jy
my trane wegvee en hoe jy my rug warm hou
terwyl ek slaap.
Nou en dan verbeel ek my
ek sien jou deur ’n venster of agter tralies,
maar jou gesig is net ’n blur
met ’n gevoel van sekerheid dat jy daar is.
Koor
In hierdie verbeeldingsprokie
loop ek langs my eie skaduwee,
glo ek soos ’n kind en wag vir ’n teken.
In hierdie dogtertjie se nagmerrie
kom spyt veels te laat,
en jy was reg.
Brug
Jou naam is nou net ’n fluister
en jou stem net ’n duistere herinnering.
Ek ken jou nie meer nie,
maar ek verlang na jou
en wens jy was hier.
![]() |



