Dit is markdag in Ibiza. Dit is Woensdag. Ek en my man ry agter die tou motors aan, stadig en geduldig, want hierdie mark wil ek sien. Dit is immers die wêreldbekende Hippy Market!
Die mark het in 1973 ontstaan toe die eienaars van Club Punta Arabi besluit het om ? afsetgebied te skep vir die vasbyt-hippies om hulle produkte te verkoop.
Toe ons by die hek instap van die groot Hippy Market wat soos ? boog bo die ingang hang, tref kleure en geure my en onmiddellik is die atmosfeer aansteeklik. Naby die hek staan almal alreeds tou vir kos en koffie, asof hulle hulself uitgehonger het vir hierdie geleentheid.
Die stalletjies lyk asof ? reuse reënboog bo hulle ontplof het en al sy kleure met fyn poeier oor almal en alles uitgestort het. Daar is tuisgemaakte klere en juwele en breiwerk en alles waaroor jy kan dink om by ? mark te kry en nog vele meer.
Ek stap by ? wit standbeeld verby wat soos ? pilaar staan en skrik toe die “standbeeld” skielik langs my beweeg! Ek verkyk my aan die mense wat die stalletjies beman.Baie het lang Rasta-lokke en dit is asof die hippie-geslag van die sestigs halsstarrig aan hulle kultuur vasklou. Die meeste is ouer mense, sestigers wat nou seker naby sestigjariges moet wees, maar Hippies het hulle gebly. Hulle dra lang Josefsklede en juwele wat klingel om die arms en groot oorringe en sommer ringe oral anders ook deurgesteek. Tatoeëermerke met drake en ankers en soms heel “skilderye" versier die meeste lywe, soms al bietjie gekreukel, maar dit is daar!
Hier staan ? Indiaan met vere in sy ore wat soortgelyke vere in die vorm van oorbelle en hangers verkoop, daar staan iemand wat waterpype en klein sakkies met alles wat gerook kan word verkoop. Ek is seker ek het dagga geruik. Seker medisinaal … Die oorverdowende geluid van tromme wat geslaan word, klein kleurvolle trommetjies en iemand met ? lang pyp, wat jy gewoonlik in Australië sien, speel saam met die klik-klik geluide. Daar doer sing iemand “Delta Dawn, what’s that flower you have on...”.
Daar is botteltjies konfyt en alles wat ingelê kan word. Droomvangers, vrugte, lekkers, koeldranke en kos - oral word kos by stalletjies verkoop. Daar is lampe en skilderye by die dosyne. Die kunstenaars is soms meer kleurvol as hulle werke. Ek koop ? olieverfdoek van ? harlekyn met hartseer oë en ? Mona Lisa glimlag.
Daar is om en by 500 stalletjies en die mark word elke Woensdag deur tussen 12 en 14 duisend mense besoek. Dit is ? heeldag-affêre wat 10 uur soggens begin en aanhou tot 8 uur saans.
Na hierdie ongelooflike dag by die mark ry ons terug na die woonstel wat ons huur net buite San Antonio. Ons kyk uit op ? klein strandjie waar ons elke dag gaan swem. Op die strand is ? sinkgeboutjie wat in ? kroeg omskep is en wat die heerlikste Hamburgers bedien wat jy oor kan droom. My stapelvoedsel is ? Hamburger wat ek afsluk het met Gin en Tonic vol ys.
Later die aand het ons ingery San Antonio toe om die bekende Ibiza Clubs te gaan beleef. Ons het hier en daar ? drankie of koeldrankie gedrink, net om na die mense te kyk wat daar opdaag. Die klubs begin eers hier van elfuur saans lewe kry en dan stroom die jongmense in. Ek het iemand gesien wat lyk asof sy met swart verbande aangetrek is, meer vel as verbande en hoë stewels daarby, meisies met minirokkies wat my laat terugverlang het na my jeug. Mense met Punk-haarstyle en kettings en hardeware oral op en oor en deur hulle lywe. My mond het oopgehang.
Ek het die indruk gekry dat dit nie saak maak wat die jongmense aanhet nie, solank dit net skokkend en anders is. Hare met verskillende kleure, priesters en nonne en baie byna kaal lywe.
Baie sekslose mense en ook dieselfde geslag paartjies wat presies eenders aangetrek is. Ek het skoon vergeet om aan my konserwatiewe glasie wit wyn te teug! Daar was eksotiese danseresse en sangers en laserstrale. Die mengsel van kaal lywe en klank en drank en dwelms, ongetwyfeld, het my baie bly gemaak dat my kinders nie meer tieners is nie!
Die ritmiese rockmusiek het die skare jongmense ingesluk en almal het beweeg en rondgedans op die meesleurende ritme asof hulle almal vasgevang was in dieselfde musikale baarmoeder, styf teen mekaar ingedruk tot die dag breek en hulle bedwelmd uitgespoeg word om die son te gaan aandurf in die kleinste “carefully designed topless swimsuits”, soos die liedjieskrywer sou sê.
Die son het die volgende dag almal begroet en die blou water het die nuwe aantrekkingskrag geword in San Antonio. Daar was bote oral waaragter mense kon ski en hoog in die lug kon sweef met valskerms agter bote aan. Gillende en laggende mense is agter bote aangesleep op drywende vorms of ski’s. Die mense wat nie die water wou aandurf nie, het braaf en versigtig die pretpark gekies om gillend onderstebo rondgegooi te word op al die “rides”, asof die vorige nag se opwinding nie genoeg was nie!
Ek en my man het Ibiza Town aangedurf. Dit is die grootste dorpie op die eiland. Die kultuur van Ibiza is, soos Spanje, ingekleur deur die agtergrond van Roomse, Moorse, Islamitiese en Christen-regerings. Ons het op die nou, klipperige paadjies geloop en na die Dalt Vila Kasteel gaan kyk.
Om die dag af te sluit, het ons by La Cava Tapas Bar in die hartjie van Ibiza gaan eet. Mens kan nie in Spanje wees en nie die heerlike Tapas geniet nie! Ek was mal oor die Jamon, gerookte varkboude wat oral hang en elke Suid-Afrikaner laat dink aan ons eie biltong.
Ibiza is die derde grootste Baleariese eiland uit vyf eilande in hierdie groep. Geen wonder daar is al soveel liedjies oor die eiland geskryf nie! Dis heerlik, anders en onvergeetlik!

