Tonele uit ons dorp: verrykende, leeservaring vir dié met uithouvermoë

  • 0

 

 

Thomas Francois Burgers (1834–91), predikant en eerste president van die ZAR en klippie in die ortodokse sinode se skoen, was ’n kleurvolle karakter. Deel van sy nalatenskap is ’n aantal sketse wat tussen 1866 en 1869 onder andere in Het Volksblad verskyn het onder die algemene titel “Toneelen uit ons Dorp, of Schetsen uit ons Dagelijksch Leven”.

Alhoewel dit twee keer in verskillende vorme tydens die laat 19de eeu gebundel en herdruk is, was dit tot nou toe grootliks verlore vir die (Suid-) Afrikaanse verhaleskat, en het dit net bestaan in sydelingse verwysings in proefskrifte en boeke oor die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde. In 2004 word dit as deel van die Griffioenreeks van Atheneum – Polak & Van Gennep, ’n Nederlandse uitgewersmaatskappy, gepubliseer as Dorp in het Onderveld. Zuid-Afrikaanse verhalen, met Olf Praamstra as samesteller. Nou is daar ook ’n nuwe Suid-Afrikaanse uitgawe onder redakteurskap van Wium van Zyl, wat die verhale in Afrikaans vertaal het sodat dit vir meer lesers toeganklik is.

Tonele uit ons dorp is ’n goedversorgde teks uitgegee deur Africana, met die hoop dat dit Brugers se plek in die Afrikaanse literêre kanon in ere sal herstel. Dit is ook een van die min Suid-Afrikaanse Nederlandse werke wat vandag nog gepubliseer word.

Die verhale is sketse uit die alledaagse lewe op ’n "Onderveldse" dorp, waarskynlik gebaseer op Graaff-Reinet of Hanover, Burgers se enigste gemeentedorp. Dit bevat hope staaltjies oor belangrike gebeure op so ’n dorp – nagmaal, vendusies, katkisasies. Die verhale is veral deurweef met Burgers se godsdienstige sieninge; en met ’n bietjie grawewerk (indien mens so ’n aanslag tot die boek wou neem) kom sy idealistiese persoonlikheid wat sy presidentskap sou kenmerk, na vore.

Dis nie besonder sinvol om ’n estetiese beskouing oor die verhale op sigself weer te gee nie, aangesien hulle waarde, soos die redakteur self ook in die Verantwoording uitwys, eerder gesetel is in die spesifieke kultuurhistoriese konteks van Tonele uit ons Dorp. Die bundel is dan ook van waarde vir studente en akademici op die gebiede van geskiedenis, erfenisstudies of Afrikaanse en Nederlandse letterkunde wat in dergelike tekste belangstel.

Puriste in hulle ivoortorings mag dalk seur oor die Suid-Afrikaanse Nederlandse idioom wat moes swig voor die vermoderniseerde "makliker" Afrikaans. Die verhaal “Nachtmaal” is juis in die oorspronklike taal aan die einde van die bundel geplaas om hiervoor te vergoed. Dit is ook gedoen met die hoop dat dit luier lesers sal oortuig dat 19de-eeuse Suid-Afrikaanse Nederlands nie so ontoeganklik is as wat hulle mag vrees nie. Verder gee die Nederlandse teks Eugène Marais, Gustav Preller en kie, wat die afsterwe van die imperfektum in Afrikaans luidkeels betreur het, in een opsig gelyk: die imperfektum maak lang 19de-eeuse sinne baie makliker om te lees.

In Suid-Afrika, soos elders ook maar, is dit raar maar verblydend dat tekste ook in hulle hoedanigheid as primêre bronne vir die breër publiek gepubliseer word. Die (wanhopige) voorwaarde is natuurlik dat dit studente en belangstellendes sal dwing om krities daarna te kyk, aangesien geskiedenis, en veral erfenisstudies, (wat mekaar soms kruisbestuif, maar nietemin twee verskillende spesies is) so maklik en blatant vir nasionalistiese doeleindes gekaap word.

Die boek en die heruitgawe is ook in ’n mindere mate relevant in ons huidige kultuurhistoriese konteks. Burgers word, soos sy skrywersgenoot Olive Schreiner, beskou as deel van die erfenis- (“heritage”) goedere van Hanover. In hierdie hoedanigheid mag dit die aanhangers van die Pam Golding-fenomeen van (her)ontdekte “kunstenaar-dorpies” – wat gepaard gaan met ’n hernude middelklasnostalgie na die platteland en die plaas – interesseer, maar daarvoor sou dit meer koffietafel-kitsch en minder akademiese noodsaaklikhede soos voetnotas moes bevat. Hierdie tipe "koffietafelgeskiedenis", wat baie keer slegs ’n knipoog in die rigting van wetenskaplik-opgeleide akademici gee, het die voordeel dat dit in ’n era van massamedia en inligtingskonstipasie, belangstelling in geskiedenis en literatuur tog lewendig hou vir mense vir wie dit net ’n aardigheid is, of deel van hulle spesifieke erfenisidentiteit-matriks. Dit is dan seker ook veelseggend dat ’n Google-soektog na Burgers ’n menigte genealogiese webwerwe tussen die Burgersponde oplewer.[1]

Die inhoud van die teologiese debatte in die teks klink verrassend bekend as mens hedendaagse godsdienspolemiek met ’n halwe oor volg. Kommentators klink gereeld meer diepsinnig en byderwets as wat hulle in werklikheid is. Die voetnotas wat die debatte en opinies in histories-teoretiese konteks moet weergee, is egter nie altyd voldoende nie, en sou kon baat by bietjie meer detail, veral as die bundel by ’n breër publiek wil aanklank vind. Die meeste voetnotas is egter nuttig en verhelderend.

Net omdat die bundel se metanarratiewe waarde voorop gestel word, beteken dit nie dat Burgers se sketse op sigself noodwendig saai en irrelevant is nie. Sy spitsvondige waarnemings is vloeiend neergepen, en die dialoog kom eg en lewendig voor, ten spyte van die feit dat hy sy karakters menigmaal sonder veel verdoeseling sy eie argumente laat weergee. So kan mens byvoorbeeld die vrome Marie in “By die Sterfbed” haar melodramatiese sterwenswoorde hoor sug. Die karakterbeskrywings van argetipiese dorpsbewoners is eweneens geslaagd wat visuele trefkrag aanbetref. Die opmerking is egter seker nodig dat Burgers, alhoewel vir die tyd besonder simpatiek teenoor kleurlinge en swart mense en hulle sosiale omstandighede, nietemin paternalisties en neerbuigend is in sy rasgefilterde beskrywings van “hulle” karaktertrekke en aksies. As mens die anachronisme tersyde stel, is sy beskrywings egter nie veel anders as die beskrywing van president Burgers op die ANC se amptelike webwerf nie.

Soos reeds genoem, mag die lang sinne vir lesers wat nie gewoond is aan 19de-eeuse literatuur nie, aanvanklik moeilik wees om te volg (die bundel sal nou nie juis deur stoere "De la Rey"-koorsangers verslind word nie). Die bietjie uithouvermoë wat dit verg, word egter weldra met ’n interessante, miskien selfs verrykende, leeservaring beloon.

  • Wium van Zyl gaan met John Kannemeyer in gesprek tree oor Thomas Francois Burgers by die Woordfees op 8 Maart, 12:00 in die Ou Hoofgebou, Lokaal A (1028). Toegang is gratis.

[1] Burgersponde is die ouboet van die meer bekende Krugerrande.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top