Stoffel in Afrika: Nadine Petrick gesels met bosbefokte Christiaan Bakkes

  • 0

Titel: Stoffel in Afrika
Skrywer: Christiaan Bakkes
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151290   
Prys: R160

 Jou vyfde boek oor jou alter ego Stoffel Mathysen, Stoffel in Afrika, het pas verskyn. Het jy verwag dat die eerste boek so suksesvol sou wees dat dit uiteindelik ’n reeks sou word?

Skryf het vir my ’n wegholperd geword. Ek het nooit kon dink dat dit so ver sou gaan nie. Daai perd het nog nie ophou galop nie en die rit is wonderlik.

Sal Stoffel (of Christaan eerder) se avonture ooit opdroog?

Nee

Wat is dit van die bos en die natuur wat jou so sielsgelukkig maak?

Die vryheid, die vrede en die avontuur.

Jy en jou vrou Emsie doen begeleide toere in onder andere Uganda, waar julle mense uitvat om na die gorrilas te gaan kyk. Andersyds bly julle in ’n tent in Damaraland. Het jou vrou hare op haar tande?

Sy is een van daai meisies wat kaalvoet oor die Drakensberg sal trek solank sy kan warm stort elke aand.

Gepraat van toere: Geniet jy dit om met mense te werk (en ek is seker toeriste gee mens baie opdraande), of verkies jy eintlik die solitude?

Safari's met mense van oor die hele wêreld is verrykend, want hulle vertel hulle stories. Daar is ’n tyd vir saamwees en ’n tyd vir alleen wees.

Sal jy ooit weer in ’n stad kan bly, en wat mis jy van die stad as jy nié in die beskawing is nie?

Ek sal nooit weer in ’n stad kan bly nie. Ek dryf verder en verder weg van die samelewing. ’n Pizza en ’n bier by die Lighthouse in Swakopmund bly lekker.

Voor jou fratsongeluk met die krokodil was jy linkshandig, maar na dit moes jy leer om alles met jou regterhand te doen. Jy het onlangs ook weer begin teken. Was kuns nog altyd ’n passie of is dit maar net ’n stokperdjie?

Teken is ’n stokperdjie. Ek put meer genot uit skryf.

Dink jy soms terug aan daai dag en wens jy kan die tyd terugdraai?

Dit moes gebeur. Dit het my lewe in ’n baie interessanter rigting gestuur. Ek sal dit nie anders wou hê nie.

As jy een van jou eie avonture kan kies wat bo die res uitstaan, wat sou dit wees?

Die grootste oomblik van my lewe was 6 Junie 1989. Ek en my boesemvriend Simon Mayes het ’n bende ivoorstropers in die Wes-Caprivi-bosse vasgetrek. Daarna was die res van my lewe ’n antiklimaks.

Jy is een van ’n spul skrywers wat onder een dak gebly het. Is daar onderlinge kompetisie tussen jou en die ander familielede wat vlug is van woord?

As skrywer sal ek nooit kan kers vashou by my ma nie. My pa het hom onlangs as ’n woordsmid bewys. My broers was nog altyd my helde. Ek dink daar is tog ’n mate van goedgunstige kompetisie tussen my en Johannes.

Jy wou ná skool filmkunde gaan studeer om programme oor die natuur te maak. Jou een boet, Marius, werk wel vir die televisie. Het die Bakkes-broers nie genoeg ondervinding en kennis om saam aan daai oorspronklike droom te werk nie?

Dit is al vantevore probeer en dit het ontaard in die Slag van Kamanjab. Dan was daar die slag van Donkerhoek en die Slag van Verwoerdburg. Daar was ook die slag van Hatfield en die Slag van Dewagensdrif. Dit sal rof gaan ...

Sal jy en Johan (ook ’n skrywer) ooit saam aan ’n boek werk of sal dit te veel moeilikheid af gee?

Dit sal ’n helse klomp moeilikheid afgee. Ons sal mekaar waarskynlik bliksem in die proses, maar ek dink dit sal ’n wonderlike projek wees. Dit moet gebeur.

Kry jou ma nie soms die stuipe oor haar seuns wat so bosbef*k is nie?

Ek kan nie namens my broers praat nie, maar ek het definitief my ma help oud word.

Het jy sokkerkoors of is jy eerder ’n rugbyman?

Ek is ’n rugbyman, maar ek besef die waarde van sokker as ’n motivering vir minderbevoorregte Afrika-jeug. Dit leer spanwerk, dissipline en respek, en gee jong seuns iets om oor te droom.

Voltooi: Christiaan Bakkes is ...

Nou klaar vrae beantwoord en op pad woestyn in.

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top