Titel: My Life With The Duvals
Skrywer: Tim Keegan
Uitgewer: Umuzi
Formaat: Sagteband
ISBN: 9781415200476
Publikasiedatum: Maart 2008
Aantal bladsye: 320
Bo en behalwe ? roman oor die wel en wee van ? groep eienaardige, soms eksentrieke karakters is My Life With The Duvals, dieper as op die oppervlak, ook ? roman oor kennis: akademiese kennis, die hunkering daarna en die obsessie daarmee, en kennis van die alledaagse, wat elkeen van ons waarneem, en meer belangrik, dit waarvoor ? mens hom blind hou.
In die middel van alles is die skatryk Edward, pateties en absurd, in so ? mate verwar deur die besluite wat namens hom geneem word, insluitend daardie besluite wat die belangrikste aspekte van sy lewe bepaal, dat hy dit nie bevraagteken nie en dit heel moontlik ervaar as normaal - bygesê, slegs tot op ? punt.
Edward is grootgemaak deur ? beginselvaste ouma, die George Soros van Hermanus, wat oordeelkundig en sekerlik ook ietwat gelukkig geld belê het in korporatiewe reuse wat destyds in hul kinderskoene was: Anglo American en Ouma-beskuit. Op ? reis in Engeland ontmoet hy twee susters: een van hulle sal sy bruid word, die ander die letterkundige Rex s'n. Die simbiotiese vriendskap tussen die vier, en hul wel en wee, is die storie.
? Mate van Edward se aanvaarding jeens sy omstandighede en lot kan toegeskryf word aan kinderjare sonder versoekings, met streng reëls dog sonder die geringste behoefte om te rebelleer. Maar jy bly tog wonder waarom ? man verlig en gelate sy skoonsuster se verduideliking aanvaar dat sy bruid, nes hy, die sondes van die vlees verafsku.
Vreemd is dit ook dat Edward, so clueless in sy omgang met mense, ? vertelstyl het wat soms hoë akademiese woorde insluit wat buite sy verwysingsraamwerk val.
Hy is byvoorbeeld verbysterd deur die konsep Zen, want dit is ? woord wat hy nog nooit gehoor het nie. Hy bieg dat sport, lees, uitgaan en seks hom nie aanstaan nie. By ? ander geleentheid kan hy iemand se optrede beskryf as "quixotic". Daar is ook ander insidente waarin sy woordeskat en poëtiese beskrywings nie strook met sy ongekunsteldheid nie en dit in sulke gevalle waar die leser voel die skrywer, ? voormalige akademikus, is aan die woord, miskien ontevrede, miskien gefrustreerd met die beknopte wêreldbeskouing en dinkraamwerk van sy protagonis.
? Mens sou aan Edward byvoorbeeld eerder wou toedig juwele soos dié een wat hierdie resensent in sy kort maar roemryke loopbaan in die subkantoor van die spogkoerant Kaapse Son in ? lesersbrief raakgelees het: "Ek wil ook net graag ? eier in die stywerbeurs gooi oor die hele Dina-storie."
Les bes, met so ? vormlose hoofkarakter is die satire nie so vlymskerp soos die bebaarde walrus op die boek se voorkant verkondig nie, en die relase oor Rex se hekeltjies aan sy kollegas word met Edward se oorvertel óf afgewater tot iets wat ? mens te sien sal kry op die Hallmark-kanaal, óf was selfs in sy oorspronklike vorm nie eintlik veel om oor huis toe te skryf nie.
Die gevolgtrekking waartoe hierdie leser gekom het teen die middel van die roman is dat Edward so ? buitengewoon talentvolle en effektiewe leuenaar is dat sy lewe, ? gemaksone soos min, op foutiewe veronderstellings gebaseer is, en van hierdie punt af begin jy jou regmaak vir ? openbaring, noodwendig ten koste van Edward, ? ontnugtering wat hom uit sy dop, dalk selfs uit die kas, sal laat kruip. Kan ? leser vir so lank met so ? karakter empatie hê? Die beste waartoe ek in staat was, was om Edward te duld.
Ter opsomming en samevatting (soos ? kennis van my sê - en dan trek hy los met ? bergrede): jy gee die voordeel van die twyfel vir die gehawende kêrel wat weekliks by jou deur aanklop vir treingeld na Touwsrivier. Na die sowat sewe-en-dertigste keer, want jy het Job se geduld, doem die vraag op: Wat is immers so befok aan Touwsrivier?

