Mooiloop | LitNet-skrywersdorp: Waar die wolke middag maak

  • 0

Daar waar die Stormberg en die Bakenberg jou in die Oos-Karoo se kom veilig hou, en waar die reën sy stippelgordyn oor die droë veld laat hang, is waar Hennie Aucamp se grootword lê. So tussen gister se herinneringe en vandag se onthou.

Dit kan gebeur dat ’n plek en ’n omgewing ’n herinnering word nog lank voordat jy formeel daarvan afskeid geneem het.

So het dit met my gebeur toe ek, baie, baie somers gelede, ’n lang vakansie by my ouers op ons plaas Rust-mijn-ziel deurgebring het. Soos jy soms in die hartjie van Januarie op ’n oggend ’n aanmaning van herfs ervaar, só het ek daardie somer gevoel dat iets aan die verbygaan is; ’n lewenswyse, ’n vermeende geankerdheid.

Ek het gaan sit en ’n dagboekverslag oor my somer geskryf; ’n elegie getiteld Rust-minj-ziel: ’n aandgesang.

“Brei jou verslag uit,” het Bill de Klerk gesê, “en skryf ’n boek in die Toergenjef-trant, getiteld ’n Maand op die platteland.” Maar my elegie het ’n streekboek geword, Op die Stormberge, met die medewerking van onder andere my suster Rina, Johannes Meintjes, Sandy Stretton en Ella Wagenaar.

My ouers was intertyd nog lewenskragtig, en het fluks en vrolik geboer. My pa kon my na interessante plekke vergesel, soos na Botterfontein in die Burgersdorpdistrik, waar daar nog ’n perfekte perdemeul was. Eintlik, het die boer verduidelik, is daar muile gebruik om ál om die as van die wiel te loop, want hulle krink korter as ’n perd.

Die plase wat ons besoek het, in die distrik Jamestown, Burgersdorp, Molteno, Dordrecht en Aliwal-Noord was bewoon, en oral het jy die indruk van gevestigheid en beleënheid gekry. Die kraalmure was nog in stand, die heinings was nog gesnoei.

Met ’n dorpie soos Jamestown was dit ’n bietjie anders gesteld. In my elegie Rust-mijn-ziel: ’n aandgesang (1971) teken ek byvoorbeeld aan: “In die dorp self, veral in die bo- en onderdorp, lewer straat na straat dieselfde onrusbarende en bedrukkende verskynsel op: onbewoonde huise, verlate huise met stukkende ruite, en deur- en vensterkosyne wat skeef hang. Onkruid slaan op in die nate tussen stoepklippe. Huise wat in my kindertyd bewoon was, is afgebreek. Vergete en weg die tuintjies met kombersblomme en oupa-se-hoed en ‘sweet Annie’; en van die erf het oorgebly fondamentklippe, ’n gedeelte van ’n stoep, ’n klossiepeer, ’n vlieërbos.”

Jy kon die ontvolking van die platteland grafies illustreer aan Jamestown. Kinders is na skole met meer geriewe gestuur, jong mense het elders werk gaan soek, kerkgemeentes het gekrimp, oumense het uitgesterf.

Vandag, so hoor ek vanuit Jamestown, is daar minder huise wat leeg staan: swart mense het ingetrek, en die hoërskool het ’n swart skool geword. En só is dit goed: nostalgie kan baie maklik ’n soet vergif word, en benutting is tog soveel beter as verval.

Die nuwe swart woonbuurt – bestaan die ou lokasie nog? – kruip aan op die begraafplaas. Ek sou so graag vir ’n laaste keer my ouers se dubbelgraf wil besoek, en armsvol swaardlelies op die ongenaakbare grou marmer lê. Ma was verdold op swaardlelies en het bolle regstreeks uit Nederland laat bestel. Dou voor dag in die gladioli-seisoen is sy en Pa Queenstown waar sy ’n geldjie vir haar blomme op die mark gekry het.

In die ouetehuis op Aliwal het sy nie meer ’n tuin gehad nie, en haar lus vir die lewe het sienderoë minder geword.

’n Mens besit net wat jy vir altyd verloor het, het doktor Con de Villiers dikwels gesê.

En eintlik besít ’n mens nie; nie grond of selfs jouself nie. Alles geleen, alles tydelik.

En tog ook nie só tydelik nie.

Toe ek onlangs ’n inval vir ’n verhaal kry, "Aletta van die oewererwe", kon ek alles wat ek vir my dorpsverhaal nodig gehad het in myself vind. Ek kon tant Nan Lübbe se vaal huisie met sy oop stoep van sandsteen sien, en die Leliekloofberge wat rookblou is in die laatmiddag, en waarna Aletta so graag gekyk het; en ek kon die swart turfgrond ruik waar die oewermense groentetuine en lusernlande aangelê het.

Eenmaal was die dorpie van my kindertyd ’n dinamiese dorp wat in sy eie kultuur- en sportbehoeftes voorsien het. Onderwysers het hul naweke ingeploeg in diens van opvoeding, en nooit daaroor gekla nie. Jan Lap, vader van professor Dorothea van Zyl, stigter en siel van die Stellenbosse Woordfees, het Vrydagaande Volkspele gelei, en onderwysers soos meneer Stander en uncle Steve Wagenaar het atletiek afgerig en atletiekbane help aanlê.

Atletiek was ’n groot ding in my skoollewe; oor voetbal het ek my nooit sorge gemaak nie, en vind die geweldsromantiek van hierdie sportsoort tot die huidige dag toe onaanvaarbaar.

Sport in my Jamestown-jare was doodgewoon ’n uitbreiding van die speel-kultuur. Ons het kennetjie gespeel, en veral blikaspaai, soms in die nag op die markplein, met volmaan. Ons het berg geklim en in die dorpsdam en in Skulpspruit geswem, en vir ’n kort seisoen was daar skattejagte in die veld, onder leiding van ’n energieke, en vir Jamestown bepaald eksentrieke onderwyser, genaamd Jan Rabie.

Meneer Wilke, ons geliefde en geesdriftige prinsipaal, het jaarliks ’n toneelstuk op die planke gebring, die bydrae van die skoolpersoneel tot die Dankfees. Ook Mona Vorster, jonger suster van oom John Vorster, het toneelstukke opgevoer.

Toneel was in die bloed van die Vorsters. As jong student het John Vorster, onder leiding van doktorCon , en in sy vertaling, die naamrol gespeel in John Gabriel Borkman van Ibsen, of was dit nou Boumeester Sollness?

En Joyce, jongste kind van oom Hans Vorster, ’n broer van John, het “weggeloop” met ’n toneelgeselskap, en later met Deon Vosloo getrou. Uit hierdie verbintenis is Arnold Vosloo gebore, tans ’n Hollywood-filmster.

Mona Vorster het my as hoërskoolleerling in ’n kameerol in haar opvoering van Die bekeerde Jodin gebruik. Ek is bruin gesmeer met kakao, want ek het ’n wrede barbaar gespeel wat uit ’n bos spring en ’n onskuldige wit vrou die skrik op die lyf jaag.

Daar was darem ook ’n heroïese rol in my kort loopbaan as toneelspeler, naamlik dié van Japie Greyling in Die wit muur van Uys Krige. Teen die einde van die stuk staan meneer Wilke met my in sy arms; ek, Japie Greyling wat nie sy eie mense wou verraai nie. En wat gebeur toe? Meneer. Wilke breek uit in ’n volkstoespraak, en ek, dig teen sy boesem, luister verskrik.

Min het ons as kinders vermoed dat sekere fasette van ons dorpskultuur ’n vals boom gehad het. Daar was iets vreemds omtrent al die motors wat om vieruur Saterdagmiddae, of was dit Sondagmiddae, in tant Bettie Vorster se straat gestaan het wanneer oom John Vorster op besoek was. Vooraanstaande boere was daar, soos oom Andries Coetzee; ook onderwysers en selfs ’n dominee.

Maar ons het toe nog niks van die Broederbond geweet nie, al het ons al van Bokryers gehoor.

Die retoriek van Dingaansdag-toesprake, of die bombastiese preke van gas-arties Koot Vorster, het ons gruwelik verveel. Die donker subteks van hierdie orasies sou eers dekades later tot ons deurdring.

Op Stellenbosch is ek as dosent deur ’n Broederbonder – hoog op in die hiërargie – gevra om ’n aanbeveling vir ’n wankel kandidaat te skryf. Ek het geweier, want die kandidaat was akademies glad nie geskoold en gereed vir ’n professoraat nie. Die Broederbonder het my met drillende wange verskree: “Eendag, my maatjie, gaan ek groot klippe in jou pad rol.”

En hy het.

Wat onveranderd bly, is op die ou end natuur.

Is daar nog ’n kontrei waar die wolke so monumentaal aanswel op somermiddae as op die Stormberge? Ag, ja, seker in die Karoo; maar mý Karoo was die Stormberge.

Een van my lieflikste herinneringe aan wolke op Rust-mijn-ziel gaan terug na ’n dag toe die reën my vasgekeer het teen die Bakenberg. Ek wou waaibesems vir my ma gaan pluk, daardie elegante blomme (familie Dierama) wat lyk of hulle soos fonteine opspring uit splete in die kranse; lang, soepel stele wat buig van die gewig – veerligte gewig – van ligpers klokkies; soms, maar seer selde, ook wynpers.

Ek het verlangend na waaibesems teen die agtergrond van wolke opgekyk, en my toe na die beperkte skuiling van ’n bakkransie gehaas; die een waar ’n San-kunstenaar ’n pruimswart bokkie geskilder het, met ’n onherkenbare plant daarnaas.

En toe kom die reën, ook lieflik, en hang sy stippelgordyn tussen my en die droë veld.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top