Inseklopedie van Suider-Afrika: 'n treffer

  • 1

Inseklopedie van Suider-Afrika
Erik Holm
Uitgewer: LAPA
Kategorie: Natuur / Naslaan
Formaat:
Sagteband; 156 x 222mm, 384 pp
ISBN: 9780799342727
Prys: R225

Die raak titel, Inseklopedie …, vang dadelik mens se oog en wek belangstelling vir die boek. Dit is nie ’n veldgids vir die uitkenning van insekte nie, maar eerder ingestel om deur ’n beknopte oorsig van die algemene biologie van insekte die leser ’n kykie te gee in die komplekse wêreld en belangrikheid van insekte in die natuur.

Hierdie gids is die eerste redelik omvattende handleiding oor die biologie en klassifikasie van insekte van Suid-Afrika in Afrikaans en beskryf aan die hand van 12 hoofstukke verskillende aspekte van die biologie, lewensgewoontes en belang van die grootste enkele groep diere op aarde.

Die inleiding verwys kortliks na die aantal beskrewe en geraamde getalle van insekte en gee ’n kort uiteensetting oor die naamgewing (insluitend volksname) en algemene klassifikasie van insekte.

In hoofstuk 1 word die fossielgeskiedenis van insekte aan die hand van ’n stamboom en ’n paar lewende fossiele kortliks bespreek. Dit word gevolg deur ’n bespreking van die bou van ’n insek deur diagramme en tekeninge – laasgenoemde, soos die ander swart-wit sketse regdeur die boek, ontleen uit Insects of southern Africa, ’n standaardwerk (met vele herdrukke) deur die skrywer self (Erik Holm) en prof Clark Scholtz. ’n Kort bespreking van die spierkrag, bloedsirkulasie, suurstofvoorsiening, senuwee-, spysvertering-, voortplanting- en kliersisteme van insekte word in leketaal verduidelik. Die hoofstuk word afgesluit met ’n kort uiteensetting van die redes vir die sukses van insekte asook vele interessante feite oor die grootste, swaarste en kleinste insekte, hul lewenslengtes, voortplantingsuksesse, swerm- en kolonievorming, spoed, migrasievermoë, krag en sintuiglike waarneming, fisiese weerstand, kleure en vorm.

In hoofstuk 2 word voortplanting by insekte behandel. Dit sluit in normale sowel as ongeslagtelike voortplanting en verskeie aspekte wat hiermee saamgaan, soos advertering, paringsdanse, gevegte, bruidsgeskenke, gemene spel en maniere waarop paring plaasvind. Uit dié bespreking volg ’n bespreking van die eierlêgedrag in, op of naby voedselbronne, die beskerming van eiers en verskillende maniere van eierlegging. Die aard en voorsiening van voedselbronne vir die komende nageslag volg met uitgesoekte voorbeelde (soos by miskruiers, graafwespe, spinnekopjagters edm).

Die metamorfose van insekte word in hoofstuk 3 bespreek. Eerstens word na die (vier) verskillende maniere van gedaanteverwisseling verwys. Aandag word spesiaal gewy aan die misterie van papies (en kokonne) by volkome gedaanteverwisseling. Die tempo van ontwikkeling verwys na die lang lewensloop van sommige houtkewerlarwes, spoedvoortplanting soos by plantluise, en die verskynsel van russtadiums tydens ontwikkeling van onvolwasse insekte. Aansluitend volg ’n kort uiteensetting van die treksprinkaanmisterie, polimorfisme, wondheling en truratontwikkeling.

Hoofstuk 4 hanteer die beweging van insekte op land, insluitend loop, spring, lyfrukkery, en op of in water. Die rol van vlerke en hulle dravermoë en spoed word kortliks bespreek. Ander uitings van beweging, byvoorbeeld die zoem van muskiete, en vreemde maniere van beweging word gevolg deur ’n verklaring van die klou- en houvermoë van insekte. Migrasie as ’n verspreidingsmetode word aan die hand van treksprinkane, die witgatwitjie-skoenlapper, kommandowurms en treintjieruspes geïllustreer.

Nesbougewoontes en nesstrukture van insekte word in hoofstuk 5 behandel. Eerstens word verwys na die bousisteme by miere, termiete en die molkriek, gevolg deur die aard van die boumateriale soos hout, grond en karton wat gebruik word, die rol wat klierafskeiding van sy en was by nesbou speel, en die maak en gebruik van tonnels in plante deur verskillende insekte.

Die gebruik van insekte se oë vir omgewingsverkenning word in hoofstuk 6 hanteer. Eerstens word na die verskillende tipes oë verwys, gevolg deur aspekte van sig soos spoed-, afstand-, kleur- en nagvisie, waarskuwingskleure en nabootsing, kamoeflering op verskillende maniere en lignavigasie, soos by heuningbye, miskruiers, miere, en nagsig by insekte. Die hoofstuk word afgesluit met ’n kort relaas oor landmerknavigasie, ligproduksie by vuurvliegies en ander insekte, en die voorkoms van blinde insekte.

Die rol van klank en gehoor word in hoofstuk 7 aangespreek. Die redes vir en maniere waarop klank, insluitend die sosiale funksies van geluid, by sekere insekte voortgebring en ervaar word, word bespreek.

Reuk as lok- en afweermiddels word in hoofstuk 8 bespreek. Die sitrusswaelstert se larwes maak gebruik van sitrusolie om ’n afweerstof te vervaardig en af te skei, terwyl miskruiers na die reuk van moontlike voedselbronne aangelok word. Sekere parasietwespes is in staat om houtkewerlarwes diep in hout te ruik; ander insekte probeer reukloos te wees vir hulle vyande! Reuke wat deur blomme, soos die aasblom, afgeskei word, sal bepaalde bestuiwers lok, terwyl roofwantse en weeluise op hul eie besondere maniere gebruik maak van afskeidings van kliere of die asemhalingsisteem om hulle prooi te verdoof of te vind. Ander insekte beskerm hulself deur refleksbloeding wat ’n slegte smaak aan die insek self gee en hulself so teen vyande beskerm. Die gebruik van reuk by geslagsaanlokking, as lokmiddel na geskikte eierlê-plekke, vir samedrommings en in sosiale insekkolonies word uitvoerig bespreek.

Die bestandheid en verdraagsaamheid van insekte vir óf oormatige hitte óf koue word in hoofstuk 9 bespreek. Sommige insekte, soos heuningbye en termiete, is in staat om nestemperature binne bepaalde grense te reguleer.

In hoofstuk 10 word na superorganismes, synde termiete, papierwespes, bye en miere, verwys. Hulle algemene lewensloop, kaste-sisteem, voeding en natuurlike vyande vir elk van die groepe word bespreek.

’n Wêreld sonder insekte is ondenkbaar en in hoofstuk 11 word hulle rol in die algemene ekologie uitgelig. Baie (die meeste?) plante en diere sou uitsterf as daar geen insekte was nie. Sommige plante het spesiale aanpassings in blomvorm, -kleur of -reuk vir bestuiwing of selfs bemesting deur insekte. Sekere miere en plante het spesiale aanpassings vir saadberging en -verspreiding. Die nut van insekte vir die mens dek van natuurlike vyande van plaaginsekte, as bestuiwers van blom- en vrugtegewasse, bronne van sy, heuning en byewas of pylgif, gebruik as medisyne en as voedsel, tot as aanduiders van die omgewing se gesondheid. Die probleme veroorsaak deur bepaalde insekte betreffende die gesondheid van die mens en sy huisdiere of as landbouplae rond die hoofstuk af.

In hoofstuk 12 word aan die hand van talryke illustrasies en oorhoofse klassifikasie die belangrikste insekte kortliks bespreek. Soos die skrywer tereg opmerk, is dit prakties onmoontlik om in ’n boek van dié aard en formaat die inligting te gebruik vir gesaghebbende identifikasie van ons insekte, maar die skrywer slaag nogtans daarin om ’n redelike oorsig te skep.

Die boek sluit af met ’n algemene indeks van terme asook ’n indeks van populêre en wetenskaplike name.

Dit is amper vanselfsprekend dat, gesien die omvang van en hoeveelheid inligting in die boek, daar hier en daar ’n paar foutjies ingesluip het. Baie van die foto's neig om effens uit fokus te wees, wat miskien verbeter kon word deur gebruik van nuwere rekenaartegnologie. Die gebruik van nommers én identifikasie by die foto's sou wenslik wees; soms word foto's vanaf elders gedupliseer en dan weer in hoofstuk 12 gebruik (byvoorbeeld 1.9 en 12.162, 1.18 en 12.68, 2.10 en 12.15). In die skema op p 4 word na Grilloblatodea en nie na Grylloblattodea nie verwys. Foto 3.15 is onderstebo – alle swaelstertskoenlappers se papies “staan” teen ’n voorwerp (sien 12.181). ’n Meer aanneemlike naam vir die Mantodea sou bidsprinkane wees. Die hegting van die voor- en agtervlerke by motte is effens anders en word bewerkstellig deur ’n enkele of veelvuldige borselhaar (frenulum) (mannetjies en wyfies, respektiewelik) aan die onderkant van die agtervlerk wat inhaak by ’n retinaculum op die onderkant van die voorvlerk (bladsy 113). Foto 8.28 verwys eerder na ’n lid van die Ichneumonidae. Foto 11.45 is ’n larwe van die borselpootskoenlapper en nie van ’n pluimhaarrusper nie, terwyl foto 11.67 na Striphnopteryx edulis (Eupterotidae) verwys en nie na Busseola sp nie. In enige algemene klassifikasie (hoofstuk 12) behoort vlooie (Siphonaptera) (p 295) eerder verwant met vlieë (Diptera) (pp 329–35), die kokermotte (Trichoptera) (p 296) met motte en skoenlappers (pp 338–47), en Strepsiptera (kreukelvlerkies) (p 296) met Coleoptera (kewers) (pp 313–28) geplaas te word; die plasing van Orthoptera (krieke en sprinkane) en Hemiptera (besies, wantse, plantbesies, plantluise en verwante) tussen endopterygote ordes is vreemd en verwarrend. Die gegewe voorbeeld van die Limacodidae (p 340, 12.168 bo) behoort tot die Lymantriidae (Knappetra fasciata stellata), dié van die Lasiocampidae (p 342, 12.173 bo) behoort tot die Noctuidae (Chrysodeixis acuta), terwyl die larwe (12.173 onder) eerder ’n tiermotlarwe afbeeld, dié van die Lymantriidae (foto's van mot en larwe 12.176) (p 344) is beide lede van die Lasiocampidae, die voorbeeld van ’n mot van die Notodontidae (12.177 bo) is egter ’n uilmot (Acontia caffraria), en die foto van die gegewe larwe (12.183) is eerder dié van ’n slakmot (Limacodidae). Die korrekte spelling is Ichneumonoidea (p 351).

Nieteenstaande bogenoemde, slaag die skrywer daarin om met sy kenmerkende vertelstyl in die beperkte bestek van die boek ’n magdom interessante feite van die diergroep aan die leser oor te dra en om verdere belangstelling vir insekte te wek. Hopelik sal bostaande regstellings in ’n verdere druk gemaak word.

Die boek is ’n treffer, veral omdat dit vir die eerste keer die betrokke vakterminologie in Afrikaans gebruik, met ’n netjiese en logiese uitleg en verloop; beide skrywer en uitgewer moet gelukgewens word met die uitgawe.

Ek beveel die boek graag aan – die prys is uiters billik (R225). ’n Engelse weergawe is ook beskikbaar.

* Prof Henk Geertsema is ’n entomologiese konsultant en lid van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, Universiteit van Stellenbosch

Een LitNet-leser staan die kans om ’n kopie van die Engelse weergawe van hierdie boek, Insectlopedia of Southern Africa, te wen deur die volgende maklike vraag te beantwoord:

Wie is die uitgewers van Inseklopedie van Suider-Afrika|Insectlopedia of Southern Africa?

Stuur jou antwoord, naam en posadres aan naomi@litnet.co.za voor 16 Februarie 2009.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top