Donker Liefde: Anoux Venter se donker wêreld van dwelmverslawing

  • 1

'n Donker liefde – My verhouding met heroïen
Anoux Venter
Human & Rousseau
Augustus 2007
ISBN-13: 978-0-7981-4816-0
Sagteband
144 pp

 

Anoux Venter begin reeds as jong tiener met drank en dwelms te eksperimenteer, enigiets om tog nie die “odd one out” (53) te wees nie. Tydens haar eerste ervaring met acid by ? rave kom sy agter dat “niemand enigiemand snaaks aankyk nie” (42). Die aantrekkingskrag van dwelms vir haar is dat dit almal gelyk maak.

Sy ontmoet haar eerste “donker liefde”, Raine, terwyl sy nog op hoërskool is. Toe sy betrokke raak by Raine, dink sy ironies genoeg dat sy “iets gevind het wat beter is as enige dwelm: Raine” (53). Dit is egter hy wat haar bekendstel aan haar tweede “donker liefde”: heroïen. Die eerste keer gebruik sy die dwelm weer eens om nie uit te voel nie, “net om in te pas, net vir die liefde” (79). Dit word egter veel meer as die eksperimentele dwelmgebruik van haar skooljare en later gebruik sy nie meer dwelms om populêr te wees nie, maar omdat sy volkome verslaaf is aan heroïen. Heroïen en Raine is onlosmaaklik van mekaar verbind. Elke keer as sy probeer om die dwelm op te gee, is dit Raine wat haar weer intrek in die verslawing. As sy uiteindelik probeer om iets aan haar verslawing te doen en deur die onttrekkingsimptome begin gaan, voel dit vir haar asof sy “weer afskeid neem van Raine op die lughawe” (169). Afskeid van heroïen is vir Anoux ? finale afskeid van Raine.

Iets wat uitstaan in die boek is die kinderlikheid van Anoux as sy as jong volwassene van ongeveer 19 jaar nie hulp wil vra vir haar verslawing nie, omdat sy te bang is om ? “grootmens” te vertel van haar probleem (90). Later in die verhaal bel sy dan uiteindelik vir Childline (147) in ? poging om hulp te kry. Anoux is op hierdie stadium emosioneel nog ? kind, vasgevang in dinge wat sy nie kan hanteer nie. Daar word gewys op die kompleksiteit van dwelmverslawing en hoe dit met reg ? verhouding genoem kan word wat die verslaafde met die dwelm het. Anoux se verhouding met dwelms beïnvloed ook haar verhouding met haar vriende en familie.

Mense wat veronderstel is om vir haar om te gee, stel haar wetend of onwetend daartoe in staat om haar verslawing in stand te hou. Haar ouers stuur soveel geld as wat sy vra vir “studies”, sonder om vrae te vra (91). Later is dit Jake, een van haar kêrels, wat sorg dat sy altyd genoeg geld het om heroïen te koop (153–4). Op hierdie stadium is sy heeltemal afhanklik van heroïen en dit laat mens wonder of Jake haar verslawing voed omdat hy nie weet wat anders om te doen nie, en of hy dit sien as iets wat haar afhanklik maak van hom.

Die verhaal word nie op ? kreatiewe en vernuwende wyse aangebied nie en ek stem saam met Maya Fowler, wat die Engelse weergawe van die boek resenseer het (LitNet, 3 Oktober 2007) dat die taalgebruik soms clichéagtig is. ? Sterk aspek van die boek is die navorsing wat Anoux Venter oor dwelmverslawing en die rehabilitasie daarvan gedoen het. Sy gee ? kort opsomming van hierdie navorsing in die nawoord en koppel ook die verskeie stadiums van haar verslawing aan eindnotas. Hierdeur kan die leser dus wetenskaplike verklarings sien vir haar optrede. Die boek raak interessanter hoe verder jy lees en ek het dit in ? paar sittings gelees omdat ek wou weet hoe dinge vir Anoux gaan afloop. Dit is dus geen meesterwerk nie, maar dit gee ? deeglike verslag van die donker wêreld van dwelmverslawing en is die lees werd vir belangstellendes en oningeligtes oor die onderwerp.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Annoline du Rand

    Ek het die boek baie vinnig gelees nadat ons gehoor het van ‘n familielid wat heroin gebruik. Ek dink die boek gee vir ’n mens ’n duidelike beeld van hoe verslawing ’n persoon affekteer en moontlike optrede. Die boek het “verdwyn” en ek sal dit graag weer koop indien dit beskikbaar sou wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top