Briewe van Peter Blum: Deeglike werk deur JC Kannemeyer en sy span oor ʼn voorganger van Breyten Breytenbach

  • 0

Titel: Briewe van Peter Blum
Redakteur: JC Kannemeyer
Uitgewer: Hemel en See Boeke
ISBN: 9780620426954
Formaat: Hardeband
Aantal bladsye: 346

 

Peter Blum – gebore 1925 in Wene, gesterf 1990 in Middlesex – het twee digbundels geskryf: Steenbok tot Poolsee (1955) en Enklaves van die lig (1958). Die tweede is aanvanklik geweier vir publikasie, omdat dit te radikaal en die taal te "onsuiwer" was vir keurders en uitgewers in die vyftigerjare: J du P Scholtz, DJ Opperman en Nasionale Boekhandel Beperk – alhoewel Blum vroeër in 'n brief aan Ernst Lindenberg gesê het hy hoop dat Opperman dit sou goedkeur vir publikasie: "Enter Dead-Eye Dirk and unties heroine from railroad track!"

Daarteenoor skryf Rob Antonissen in 1959, nadat dit uiteindelik gepubliseer is: "Enklaves gaan tegelykertyd tot vermeteler uiterstes én kom tot meer binding en ewewig as Steenbok."

En verder: "Die eintlike 'demaskering' ... van die 'skoonheid', van die 'metafisiese', van die mens, van die woord, is verby. Die ontmasker-wéés is feit, waarmee daar nou geleef en gewerk kan word. Deur die 'demasque', wat iets glad anders is as die Veertiger deurvorsing van die 'lelike' soos van die 'skone', het Blum in die Afrikaanse poësie die unieke Vyftiger geword; en as digter dan veral deur die manier waarop hy die táál gedemaskeer, die woord in al sy vesels verken en ontleed, woorde en woordonderdele op die ongelooflikste maniere opnuut gekombineer het" (292).

Die mooiste voorbeeld hiervan is die sonnet "Man wat mal word" uit die drietal "Man wat doof word" en "Man wat blind word".

Man wat mal word

Onbepeilboor die dag, maar die bewoespyn dààr
dat al-lis beslote is en slags ék oop
vir enige skerf nael, skermloos teen die oog
wat drin die werwel noulet, fynynig vaam

tort in die klier. War-om? Alluin 'n kwik haat
het hierdie verstrooide pynpuin in kontrole
nog somgehou. Waarvuur? Maar tussen gus knook
en wrig het die endtwoord in duisdelike taal

eindelig hoopgebron: Wie só uitgedeel
aan die al is, het die al in hom begryp –
en dit ís liefde: kán dus in die greep

van één drong woord kraal wat alle enkelheid
ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek
wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!

Binne die vaste konserwatiewe vorm van die sonnet, met wending aan die einde; maar met 'n "verdieping" wat betekenisloos is. Hier is die woord tot die uiterste gedwing, om uiteindelik sonder enige tekenwaarde te staan.

Ek dink Peter Blum is die voorloper van Breyten Breytenbach.

JC Kannemeyer het die boek Briewe van Peter Blum geredigeer en ingelei.

Dis uitgegee deur Hemel en See Boeke. Kannemeyer se medewerkers was Amanda Botha, Suzaan Hauman, Ruzelda Jordaan, Carolyn Meads, Marna Pretorius en Susan Smit. Hulle almal het 'n ongelooflik deeglike werk gedoen, met voetnote en invoegsels wat elke historiese verwysing, elke literêre verwysing (selfs die minste), elke woordverklaring gee.

Daar is 109 briewe, van 5 Januarie 1954 tot 6 Desember 1966. Die meeste briewe is geskryf aan DJ Opperman, JJ Human, WEG Louw, NP Van Wyk Louw, enkeles aan Jan Rabie en Uys Krige, en teen die einde aan Barend Toerien. Maar verreweg die meeste aan Ernst Lindenberg (Lindo). Hulle het ook bevriend geraak.

Dis jammer dat daar geen antwoorde aan Blum was nie. Dis seker onmoontlik om op te spoor. My afleiding is dat Blum telkens die eerste briewe geskryf het, die gesprek begin het.

Hierdie versameling is meer as net briewe, omdat daaruit 'n profiel kom van die mens Peter Blum; die mens wat feitlik sy hele bestaan in Suid-Afrika saamgeleef het met sy skryfwerk. Daar is soms verwysings na die natuur: reën en wind en sonskyn, na klein dorpies ("Calvinia, waar die enigste skaduwee die nag self is", 69), na sy werk in biblioteke; en min oor sy vrou – alhoewel hulle skynbaar gelukkig getroud was.

Dan het hy geskinder oor medeskrywers, sonder om doekies om te draai, want, sê hy, "... roemnyd ... is seker maar deel van die digterlike gevoeligheid." Oor Uys Krige: "... hy is in baie opsigte romanteties-konserwatief en is ewe geneig as die Heilige Indignatius om te kla oor 'duisterheid' en 'serebraliteit' by digters met 'n fermer geestelike greep as hy. Hy 'verwerp' dus my meer belangrike werk ... Net die Kaapse Sonnette bevat vir hom die kleinmens-patos wat hy self graag aan tokkel: waar hy prys, prys hy dus om die verkeerde redes" (81).

Uit hierdie aanhaling kom 'n eienskap na vore wat mens aanvanklik sou irriteer, naamlik sy self-gesentreerdheid, sy ego, wat hom gedurig dryf om sy eie werk te verdedig en ander s'n te verwerp, selfs diegene wat hom geen ernstige skade aangedoen het nie. Soos byvoorbeeld Bartho Smit: "hy is 'n windbuks en deksels lui. (Ook nie 'n bewonderaar van my werk nie, die opgeblase mollusk met sy swak ryme van 15 jaar gelede.) Ek is tog so 'n goeie hater" (284). Later, dié groet aan Ernst Lindenberg: "Jou bytende en verbete / Blum" (283).

Maar hierdie bitterheid, veral teen die Afrikaanse literêre establishment, is miskien in 'n groot mate veroorsaak deur die ontvangs van sy werk, en ook later (1948), toe Suid-Afrikaanse burgerskap aan hom geweier is. Hy het later vir WEG Louw gevra om hom te help om sy "sakie" weer te bepleit, veral omdat hy hom nou meer en meer probeer inleef het in die "Afrikaanse gedagtesfeer" – en "om hierdie redes voel ek dit met 'n mengsel van weemoed en bitterheid dat ek nog nie ten volle deur hierdie land aanvaar is nie" (298). Dit was natuurlik ook sy stormagtige gees, en 'n bewustheid van onreg teenoor homself, wat hom gemotiveer het. Op Mei 1960 vertrek hy en sy vrou, Hetta, skielik en geheimsinnig Londen toe.

Enkele ongeregverdigde oordele sal genoem word.

S Ignatius (!) Mocke skryf oor die pretensieuse titel van Steenbok tot Poolsee, oor die "naakte sensualiteit", "skuins slimmighede", "die neiging om geleerde woorde van buite te gebruik", ens (65). TT Cloete skryf van sy "lomp gekunstelde Van Deyseliaanse woordbou", "gesogte rymwoorde, rymdwang, growwe retoriek" (66).

Met die weiering om Enklaves van die Lig vir publikasie te aanvaar skryf hy aan Die Hoof, Algemene Publikasies, Nasionale Boekhandel: "U weiering van ENKLAVES kom as 'n verbasing, maar na drie maande se insae nie meer as 'n verrassing nie. U kon gerus al eerder openhartig daaromtrent gewees het" (168). 'n Verdere reaksie van hom is in 'n brief aan DJOpperman na aanleiding van die keurdersverslag van Enklaves (Blum het die manuskrip met kruisies van die keurders daarop): "Die bohaai oor neolog- en ander –ismes is vir my onoortuigend. Ek kon julle die moeite gespaar en hul self met kruisies gemerk het! Dit was juis my doel om my woordeskat, en dié van julle taal, te verfyn en uit te brei – dus om woorde te adapteer en te skep waar ek, uit kennis van ander tale, skakerings waarneem wat Afr nie dek nie" (171).

In 'n langerige bespreking van 'n resensie van WEG Louw oor Enklaves skryf hy in 'n brief aan Louw, waarin hy ook sommer die Afrikaner bykom: "As ek 'n nota van kwalifikasie mag byvoeg, sou ek sê dat u (soos die meerderheid kritici) miskien 'n bietjie te veel klem lê op die spot-en-spel element in my werk: asof dit nie moontlik was om ernstig te wees sonder om 'n lang gesig te trek en jou regterhand op jou hart te plak en uit te roep 'O Here dit brand' nie. (Verdomde ou Kermkous Totius: sy roem heilig een van die swakste karaktertrekke van die Afrikaner – die neiging tot selfbejammering, beide individueel en kollektief.) Dit is waarskynlik 'n kulturele fenomeen, te wyte aan 'n godsdiensvorm ..." (247).

Hierdie, en ander, briewe oor die foute van kritici met hulle interpretasies is volop. Wanneer hy satiries raak en byname gee (ook aan mededigters), is hy egter op sy beste.

Oor Cloete en Mocke: "My benamings vir Kloek en Mok kan ek nie meer onthou nie: was dit Sooibrand en Theopompus? Ek dink dit pas. Ek dink ek sal aan Pompie the Great skryf ..." (89). Cloete verewig hy later in dié satiriese versie (252):

Muse, maak jou uit die voete -
hier kom Theopompus Cloete
met sy verbryselende knewel
van 'n blink swart dopperstewel.

Oor Opperman, omdat daar nie vroeg genoeg 'n resensie van Enklaves in die Huisgenoot verskyn het nie (Opperman was op die redaksie, en hy was aanvanklik nie entoesiasties oor publikasie van die bundel nie): "Iemand hier vertel my dat die Volksblad sowat 2 weke gelede 'n gunstige resensie in gehad het ... Blykbaar strek Opperman se invloed nie tot in Bloemfontein nie. Waarop rus daai vet vark se mag? Tog nie net op sy bloemlesings en asst-redakteurskap van die Tuismuis nie? Of is hy miskien die plaaslike hoof van die Carbonari? In SA is alles moontlik" (234).

Oor Uys Krige: "Die ander afgunstige, Uys Krige, is seker ook maar te besig om die boekie in sy lyfblad te bespreek. Besig soos 'n grammofoonnaald in 'n groef – nog steeds met die Brasilianers en die Venezuelaners. Wragtig, ek gaan nie weer in Afrikaans skryf nie. Kakgatte, kakgatte, kakgatte – met te min uitsonderings" (237). Ook: "Uys het 'n frappante vermoë om sy jeugherinneringe nie te ontgroei nie ... Hy maak al die laaste 10 jaar boeke uit sy ouer boeke" (92).

Oor Jan Rabie: "Kwaai oor my vriende? Sekermaar: hulle is poeperds, daardie windgat van 'n potboiler van 'n Rabie – altyd te besig met stront om sens te praat ..." (240).

Oor AP Grové en Stoffel Nienaber (Blum was skynbaar op besoek in Pietermaritzburg): "Die verblyf in PMB was baie lekker, afgesien van die fokop met Aapgesig en Stoffelhond ... Noudat ersg in Prettypottytoria sit, sal jy sy version van die nimlike hy hoor"(282). Later praat hy weer van Grové: "En nou die Groviade! Ek het by Louize Conradie gewoon, en Grové en Stoffel was uitgenooi, gedeeltelik om my te ontmoet: Grové dink dan kastig so baie van my werk. My eerste skok het ek gekry toe Akwyn sy gesig by die deur insteek – inderdaad dié van 'n siek blou apie" (286). Arme Grové. Hy het tog geen skade aan Blum gedoen nie? Sy onnodige beledigings.

Gedeeltes uit die beskrywing van Pretoria, soos gesien in 1959: "Die stadjie is so vreedsaam en stadig en vol blomme: 'die koel bekoring van Engelse dinge' – aanhef vir nog 'n ongepubliseerbare Afrikaanse gedig ... Die universiteit tel 1200 studente, merendeels morone en Metodiste wat 'n kweekskool daar het. Ook landbouers: 'You know, Prof Durrant, I always thought poetry was a lot of crap, but you're beginning to make me see something in it after all.' 92% behoort aan die CSV: liberaliste wat geen bruines toelaat" (283). (Prof Durrant was prof in Engels in Pietermaritzburg.)

Oor WEG Louw: "Ek het nog altyd nie 'n tjek van Kleinboer ontvang nie. Dalk het hy my geld in die kerkboufonds of die orrelfonds gestort. Hy het nou in die openbaar 'n reinheidsapostel geword, soos dit 'n geredde siel betaam. Wragtig, SA kan enige man van religieuse neiging genees! (Moenie vir Human daarmee skok nie.) (100)

Oor Tristia: "NP het my 'n kopie van TRISTIA gestuur met 'n ietwat kruiperige opdrag, ek weet nie hoekom nie. By die lees het dit my teleurgestel en effens gewalg. Na NUWE VERSE is dit 'n terugslag, want dit beliggaam die bose ou NP van HALWE KRING met sy wrokkerigheid, subintellektuele nasionalisme, pseudo-profeetskap, ens" (315).

Daar is nog veel meer; maar daar is ook nog veel ander dinge in hierdie briewe waarop mens kortliks behoort te wys.

Daar is talle neologismes, beelde, kort beskrywings van persone (negatief). Byvoorbeeld: gedigte "temerig en vol goeiegoddery"; Die Halwe Kring: "Halwe Kringgkat"; "bebabade egpare"; "bekeffering"; "protopappoprofessoraal"; "heilsleerpoësie"; "promptitude"; 'n kat "gesny of nog-beknaterd"; "oë van 'n swaargewig-luislang"; "mondskyt van politici"; "Bartho Beeste-in-die-nag Smit". In 'n telegram aan Ernst Lindenberg met die afsterwe van die hoof van die Departement Afrikaans by Wits (C.M van den Heever):

Lindenberg
Jou baas in sy maai pryst den Heer. Kom Kuier. Blum

Peter Blum was geweldig belese, en alhoewel sy uitsprake oor Afrikaanse digters soms intuïtief was, kon hy sy argumente gestand doen, en dikwels is die beredenasies interessant. Maar ook moedswillig, en onnodig beledigend.

Soms het die tyd – die lot van digters binne die konteks van verskuiwende evaluasies - hom verkeerd bewys. Soos in die geval van Eugène Marais, wat hy as 'n swak digter, maar goeie prosaskrywer beskou het.

Die meeste van sy beskouings was in die briewe met Ernst Lindenberg. Lindenberg en Blum het aanmekaar oor letterkunde gepraat, en in daardie briewe is daar meer sinvol gesels.

Die verhouding tussen Blum en Lindenberg eindig met Blum se laaste brief aan Lindenberg (6 Mei 1963), toe Blum al in Londen was. Daarin skryf hy oor die mislukking van Tristia – wat natuurlik onsin was; en dan ook wéér oor sy werk: "Laat ek hoor wat jy dink van die 2de druk ... van ENKLAVES" (311). Lindenberg antwoord nie.

Deur sy kenmerkende deeglike navorsing oor die lewe van Blum in 'n ander publikasie, Wat het geword van Peter Blum?, gee Kannemeyer die rede vir die verwydering. Lindenberg het Blum gevra om deel te wees van 'n nuwe blad, Kriterium; maar vanselfsprekend het Blum geweier, met sy gewone tirade teen die Afrikaanse letterkunde – en sommer teen almal in Suid-Afrika. Hierop antwoord Lindenberg in April 1963. Gelukkig het Kannemeyer dié een reaksie op Blum se tirades kon opspoor. Lindenberg skryf, onder andere: "Jou argument amusant, maar skaars logies ... Voorbeeld: Blum se poësie vind nie genoeg waardering nie, ergo die Afrikaanse letterkunde het doodgeloop. Jy het miskien rede tot bitterheid, maar jy gaan lê ook so maklik ... As jy nie belangstel in medewerking nie, why not say so en daarmee basta? Teveel aan motivering is onoortuigend" (Wat het geword van Peter Blum?, 143).

Die laaste woord oor Blum is die samevatting van Kannemeyer uit bogenoemde boek. Met alles wat hy in sy navorsing oor Blum gedoen het, het hy waardevolle inligting gevind vir die agtergrondgeskiedenis van die Afrikaanse letterkunde; maar veral in hierdie formidabele werk:

Van watter hoek af 'n mens die saak ook al beskou, was die laaste dertig jaar van Peter Blum se lewe 'n leë, sinlose bestaan. Die skeppende impuls wat juis in die "klein taal" ten volle kon ontplooi, het opgehou om te bestaan of was nie sterk genoeg om in die wêreldtaal Engels vir hom 'n pad oop te skryf nie. Uiteindelik was daar niks, of dan slegs die "via negativa" wat hy in die "Drie Uiterstes" ... so pragtig verwoord het: die "klaarkom met min woorde" omdat daar geen "vertroudes" meer oor was nie, 'n lewe in 'n "bevrore tyd" met 'n durende duisternis en 'n onpeilbare dag waartydens die mens deur die "bewoespyn" in die verskriklike ellende gedompel word. Alles het ineengestort. (155)

In sy eie woorde eindig Blum sy skeppende bestaan. Hy skryf aan 'n Miss East van Penguin Books:

In conclusion I want to add that I am something of a trouble-maker and have succeeded in eliminating myself from more than one anthology ..." (332)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top