Hy wil Japan toe gaan

  • 0

Ek en Sean sit nou die dag en tee drink toe hy skielik vra of ek iewers heen wil gaan, hy voel rusteloos. Ek sê toe ja, ons kan iets doen, waarheen wil hy gaan? Dalk die Johannesburgse dieretuin?

Japan, antwoord hy my. Hy wil Japan toe gaan.

Ek het altyd gedink die weggaan was die moeilike deel. Daardie eerste keer op ’n internasionale vlug met ’n maagdelike paspoort en ’n knop in my keel omdat ek my gradeplegtigheid mis. Soos regte Rhodes-studente het ek en Sean twee Singapore Slings bestel en minute later het ’n man in ’n uniform na ons toe gekom om uit te vind hoe oud ons is. Sean kon later darem baard groei, maar daar sit ons toe met ons skoon wit gesiggies, melktande skaars uitgeval, en vertel blosend dat ons eintlik al 22 en 24 is. Ek weet nie of hy ons geglo het nie, maar die drankies het gekom en ons het gevoel soos regte grootmense met visums en paspoorte en die reg om skemerkelkies hoog in die lug te drink.

Byna 22 uur later was ons in Suid-Korea waar ons ure lank in die lughawe moes vertoef. ’n Paar dae vantevore nog wou die tannies in Calitzdorp weet waarheen presies ek gaan, by watter skool ek gaan werk, waar ek gaan bly, en toe ek sê ek weet nog nie was almal vreeslik bekommerd oor my wat so die verte inspring sonder ’n idee wat vir my wag. Ag, het ek gesê, wat is die ergste wat kan gebeur?

Nadat die onderwysers van ander lande geland het, het die busse ons kom haal en was ons op pad na die kusdorp Busan, die tweede grootste stad naas Seoul. Na die relatiewe veilige en warm Incheon-lughawe het die koue ons skielik sonder waarskuwing soos ’n vuishou in die neus getref. Nog nooit vantevore het ek of Sean só verskriklik koud gekry nie en ons het besef hoe onvoorbereid ons was vir hierdie avontuur. Sean het darem nog sy oupa se weermagbaadjie gehad, maar ek dra toe mos Pep Stores-truitjies en punky shoes, oftewel nagemaakte All Stars.

Lente-in-Suid-KoreaDie ooreenkoms was dat ons die vliegkaartjies self sou betaal en ’n duisend Amerikaanse dollars elk sou saambring vir die eerste maand. Daarna het die regering die geld aan ons terugbetaal. Na die TEFL-kursus (Teaching English as a Foreign Language) kon ons skaars die vliegkaartjies bekostig. Hier en daar moes ons geld leen en aanmekaar las en my studentelening was heeltyd op my gewete, so ons het daardie eerste paar weke swaar geld uitgegee. ’n Duisend won was op dié stadium gelyk aan een dollar of dan ses rand. Nadat ons ons eerste salaristjek gekry het (twee miljoen won, ons is miljoenêrs! het almal dieselfde grap vertel) kon ons weer asem haal.

Die eerste paar maande was ek nog versigtig want ek was bang NSFAS kom haal my as ek nie my lening afbetaal kry nie, maar toe ek spoedig R10 000 ’n maand begin huis toe stuur, hier iets vir my ma, daar iets vir die lening, kon ek begin ontspan en myself in die kultuur inleef.

Ons was nie toeriste nie. Ons het soos die Koreaanse mense geleef – ons het op die vloer gesit en ons maaltye geëet, ons skoene uitgetrek wanneer ons die huis binne gegaan het; ons het geleer om Koreaanse kos te maak, maar ook besef dat dit dikwels goedkoper is om uit te eet. Westerse kos was natuurlik duurder – en tog was die versoeking groot om van McDonalds te leef. Gelukkig het my kollegas en die studente by my skool in Daegu dit nie toegelaat nie. Na ’n maand se gesukkel kon ek ’n hoenderboudjie kaal afkou met my tjopstieks en was dit vreemd vir my as daar nie kimchi (gefermenteerde kool) by elke maaltyd was nie.

Ons het kop eerste in die land in geval. Ek het Koreaanse klasse geloop, borsspelde tot by my nek geknoop om seker te maak my buuste gee nie aanstoot nie, en hand aan hand het ons die stad plat gedraf. Toe ons meer selfvertroue gekry het, het ons op toer gegaan na Jeju, die wittebrood-eiland van Korea. Noudat ons die busroetes en treinskedules beter begin verstaan het, was daar geen keer aan ons nie. Ons wou alles in Korea sien – tot by die 38ste parallelskeiding tussen Noord- en Suid-Korea.

Dit het nie daar gestop nie. Ons was bevoorreg om Thailand, Cambodia, Japan, die Fillipyne en Viëtnam te besoek. En hier het ek gedink ek sou nooit Calitzdorp verlaat nie, ek, ’n straatveër se kind.

Daar was ook baie trane, veral Kersfees, of nadat ek ver moes gaan soek na ’n internasionale telefoonkaart en een in die Pakistanse gedeelte van die stad opgespoor het, net om uit te vind my ma se nommer werk nie meer nie. Of toe Sean hoor dié oom en daardie tannie is dood en hy begin vrees het vir my ouma en oupa. Ons was in ’n motelkamer in Viëtnam toe ons uiteindelik besluit het om huis toe te gaan. Ek was teësinnig maar Sean was vasberade, hy het na sy huis verlang.

Ons het iewers in Maart 2013 by OR Tambo geland en toe ons deur die hekke loop en die tannie by die ontvangs sê welkom terug, toé loop die trane. Lank en hard en aanhoudend, ons is by die huis, ons het dit gemaak, ons kan op friekin gras stap en Cream Soda drink en Afrikaans praat. Die moeilikste deel was egter nie om weg te gaan nie, maar om terug te kom. Om weer in ’n roetine in te val, werk te soek, belasting te betaal, ure lank in verkeer te vertoef en kelners te tip. Ek het vinnig werk gekry, maar Sean het tot hierdie jaar nog gesukkel.

Dikwels in die donker ure wonder ons of ons ’n fout gemaak het om terug huis toe te kom, of ons nie weer Korea of dalk dié keer Japan toe moet gaan nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top