Humor en taalplesier is vertellings se hoekstene

  • 0

Spekskiet
Samesteller: Dineke Volschenk
Kategorie: Fiksie: Humor
Formaat:
Sagteband; 152 x 222 mm
Bladsye: 304
ISBN: 9780799342611

 

“Hierdie boek skiet nie spek nie, hy gooi met heel varke,” sê my 70-jarige pa.

Ek het Dineke Volschenk se versamelbundel eers vir hom aangegee omdat hy uit ’n vorige geslag kom waar grootlieg ’n algemener kuns was. Ek het verwag dat die meeste stories ’n outydse klap sal hê, en dat ’n mens dit sal moet lees met daardie selfde half meewarige, half verwonderende bril waarmee baie deur ’n museum stap (“Sjoe, die oumense het darem vir jou wonderlike goed uitgedink”), en dan kan ’n mens uitstap en aanstap met die verligting dat die rekenaar met ons is en nie meer die perdekar nie.

Groot was die verrassing dat die meeste stories nie in die skadu van die Anglo-Boereoorlog geskryf is nie, maar meer onlangs. En hoewel die samesteller erken dat die meeste ’n nostalgiese klap het, bevestig die moderne verskynsels wat onder woorde kom, soos Cash Crusaders (Kêsj Kroesyders) en toeriste op ’n wynplaas, dat ’n Voortrekkerkappie in die kas nie nodig is om leesgenot te verseker nie.

Die boek spring wel weg met die oudste en seker grootste liegstories, dié van Renier de Winnaar en Toon Prens, en ’n mens wil vermoed ’n nugter gees gaan sukkel as daar reeds in die eerste paragraaf van die boek ys “vasbrand” op ’n vuur en ’n lewende perd oornag kliphard vries, maar kort voor lank word die dominee ingeroep om perspektief te gee aan “van die leuens wat ek kan kwansuis sou vertel”. En as Minnie Postma opteken hoe Toon Prens onmiddellik sê hoe allerverskrikliks bemind hy was en dat sy burgers se trane oor hul bebaarde wange “biggel” as hulle oor hul kommandant lofliedere sing, besef jy humor is die kierie wat dié stories dra.

Teen die tyd dat jy kom by “julle sal my nie glo nie” en “Prinses, dank jou sterre dat Toon Prens vandag hier beland het”, sit jou sitvlak al breed om die kampvuur van hierdie vertellings en is jy net so gereed soos die verteller in Jast kôl mie swiethart om vir Knypies met sy poep-ogie stil te maak as hy dalk gaan keer dat ’n grootliegter sy lieg klaar gelieg kry.

As ’n leser uit die staanspoor weet iemand gaan jok soos ’n tandetrekker, of is ’n grootprater, dan weet jy mos die kuns en plesier gaan lê in hoe oortuigend of speels hy lieg, of nog beter, hoe onverbeterlik hy vir homself lieg. As jy jou daarvoor oopstel, kan “valse getuienis” hoogs vermaaklik wees.

Nog ’n plesier in die boek is die taalgebruik wat blyk net so natuurlik saam met dié soort stories te kom as die blikbekers met versterkvog in die hande van die direkte luisteraars wat in baie vertellings teenwoordig is en wat eweneens ’n gewaande geloofwaardigheid help versterk. Op dié manier kry “kleurvol gesels” (p 162) nóg ’n betekenis.

’n Mens praat van proewoorde soos aljimmers, vreemdegyt en uitgespaar. Baie keer lieg elke verteller ook soos hy lekkerkry: die Kalahari raak byvoorbeeld sommer die Kalharie of die Kelehêrie, afhangende van die storie en verteller.

’n Mens weet natuurlik dat sinsnedes soos oorle Pa en die jag van ’n “tier” (of ’n paar) in so ’n boek te wagte is, maar daar is ook vondste soos ’n "aanvoorkuggie" en "publiek of jy aan hunning loop en suie" (47) of "ook ge-niks om seker oor te hoeso nie" (109). In die langer verteltrant is daar heerlikhede soos “Min weet ek toe dat die einste leegte eintlik die dal van doodskadu is” en “Die noodlot daar in die trope is baie erger as die mak soort wat mens op die Hoëveld kry” (216).

Onder die skrywers is van ons voorste vertellers, soos Pirow Bekker, PG du Plessis en George Weideman, maar ook die minder bekende woordmense kry dit reg om lekker rojaal en volksvriendelik te lieg. Baie van die stories het al voorheen ander staanplek gehad, soos in Bloujare se stories en Toorop-stories, maar van hullesien hier die eerste keer die lig.

’n Mens moet ook onthou dat ’n storie soms in verskillende vorme ’n langer raklewe kry, veral as die volksmond eers van hom besit geneem het. So was Madelein van Biljon blykbaar mooi verontwaardig dat Abraham H de Vries haar voorgespring het om "Kowie Brönn van Montagu" te vertel, die bekende storie van die boer wat by Buckingham-paleis gaan kuier het. Desjare het die studente van die toe nog PU vir CHO se Alabama-studentegeselskap dié storie opgevoer met iets soos “Betjie, pomp die praaimus!”. Maar luister net na meester Braam: “In die groot troonkamer ... gaan sit die koning op sy troon en hy trek die springbokvelletjie met sy swart kerskoen ? kerkskoen? haaks” (134).

Hierdie leser het haar nie ewe veel verkneukel in elke storie nie. Van hulle is ’n te sterk kousel twak in die kies, sodat ’n mens jou dalk nie op een aand moet laat diklieg deur die bundel in een sitting klaar te lees nie. Maar weer, ’n mens wat kan uitdink dat ’n meermin "Prys den Heer" sing of dat ’n man ná ’n jaar 150 Tommies lewendig kan uitploeg, maak dat minstens ’n paar dae per jaar liegdag kan wees (om by PG op bladsy 42 vas te lê). En as Pieter Strauss ’n hond besluitloos in die lug laat hang, kan jy hom net so duidelik daar sien, en vergewe, as wat ’n mens ’n strokiesprent se oor-idioom sou waardeer. Dié stories is Spies en Plessie op papier.

Moenie dat die klapperys-pienk op die voorblad jou afsit om die boek te lees of dat die oumense se "te dik vir ’n daalder" jou leesplesier bederf nie – die diamante lê daarvoor te dik gesaai.

As jou sinisme jou hand in die sy laat sit, herhaal ek nou maar vir jou die woorde waarmee Koos Jordaan in "Outeniqualand" vir Klein Barnardjie op sy plek gesit het toe dié durf bevraagteken dat hy in Noordwes “voet aan wal” met ’n “stiemer” kon sit:

“Maar Oom, daar’s mos nie ’n see in Potchefstroom nie."

Koos Jordaan vies hom en vra: “Is ék in die army of is jý in die army?”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top