Huldeblyk aan ’n belangrike boek wat my soos ’n fokken idioot laat voel het

  • 0

Titel: Alles mooi weer
Skrywer: Karin Cronjé
Uitgewer: Genugtig!
ISBN: 9780980260687
Publikasiedatum: May 2008
Bladsye: 232

Genugtig! Uitgewers is een van my gunsteling Afrikaanse uitgewers. Hulle gee boeke uit wat waag, wat mense laat praat, boeke deur skrywers wat dinge anders en nuut doen.

Ongelukkig het ek genoop gevoel om die vorige Genugtig!-boek wat ek moes resenseer – dit was vir Rapport se Boekeblad - af te skiet. Ek kan nie onthou wat die boek se naam was nie, maar die taalgebruik was so slordig en die editing so sloppy dat ek dit nie eens klaar kon lees nie. Ander resensente na my het tot ’n mate my skeptisisme gedeel.

Nou is ek deur LitNet gevra om Genugtig! se jongste boek te lees. Ek kon dit ook nie klaar lees nie. Hierdie keer is my redes egter subjektief, so subjektief dat ek LitNet gaan versoek om my nie vir die werk te betaal nie. As mens dit werk kan noem; ek het net tot by bladsy 96 gevorder.

Hier is egter die ironie der ironieë: Alles Mooi Weer deur Karin Cronjé is nie ’n swak boek nie.

Inteendeel, dit is uitstekend geskryf. Die karakters is uniek en interessant. Die taalgebruik is foutloos. Die issues wat aangespreek word, is relevant tot Suid-Afrika vandag. Die literêre tegnieke wat gebruik word, is oorbluffend skerp, dog nie oordoen nie. Dis ’n belangrike boek: onpretensieus, slim aanmekaar gesit, en vernuwend.

Maar dis eenvoudig bo my vuurmaakplek. Die boek het my oortref. Ek kan dit nie lees nie. Ek erken dit ruiterlik: Karin Cronjé het vir Koos Kombuis ore aangesit.

Die hele situasie – ’n resensent wat te stupid is vir die boek wat hy moet resenseer – is nogal snaaks, al moet ek dit self erken. Daarom hoop ek LitNet publiseer wel op die ou end hierdie “resensie”. Want daar is nog nooit in Afrikaans so ’n “resensie” geskryf nie. Nog nooit een keer in my lewe het ek iemand soos André Brink of JC Kannemeyer sien skryf: “Ek het so-en-so se nuwe boek gelees, maar ek kop dit glad nie.” Nie eens oor Etienne Leroux se mees esoteriese werk is ooit so ’n uitspraak gemaak nie.

Dit sou vir my ook baie maklik gewees het, en ek het ’n dag of twee die opsie oorweeg, om ’n kwasigeleerde resensie oor Alles Mooi Weer te doen. Ek ken genoeg ingewikkelde woorde – minstens soveel soos Joan Hambidge. Ek sou vir ’n paar paragrawe lank kon voortborduur oor goeters soos “stream-of-conciousness”, “jukstaposisies”, en dies meer. Dit sou ’n pluimpie gewees het vir Genugtig! – waarskynlik goed verdiend – en Karin sou dit in haar plakboek kon plak of in haar CV gebruik het.

Maar ek sou nie met myself kon saamleef nie. Ek sou nooit weer met ’n skoon gewete na ’n rugbytoets op TV kon kyk nie.

Nadat ek die boek op bladsy 96 toegemaak het, het ek drie dinge gedoen (want dit was nodig vir my verlore selfbeeld om myself te pamperlang met enkele dinge uit ’n verwysingsveld wat ek as onnosele, doodgewone, middeljarige mansmens van die suburbs verstaanbaar vind.)

Een. Ek het ’n bottel rooiwyn oopgemaak. Twee. Ek het probeer terugkeer na Jonathan Kellerman se jongste speurverhaal, waarmee ek besig was voor Karin se boek my tussen die oë getref het. Drie. Ek het besef ek mors my tyd: Kellerman het my nie meer geboei nie. Dis toe dat ek effens paniekbevange begin word.

Ek het na antwoorde in myself begin soek. Waarom spook hierdie boek by my? Waarom kan ek, selfs nadat ek dit op bladsy 96 gefrustreerd toegeklap het, dit nie uit my kop uit kry nie?

My desperate selfondersoek en my gekrenkte ego het my gelei tot by een of meer simpelrige dog interessante gevolgtrekkings.

Een rede hoekom ek die draad van die storie verloor het, hoekom ek dit nie kon internaliseer nie, was dat dit te LITERÊR was. LITERÊR, moet ek herhaal, nie soos in “duister” of “ontoeganklik” nie, maar LITERÊR in die sin dat die boek eise aan my verstand gestel het wat my verstand eenvoudig te dom of te lui was om aan te gryp.

En dis dalk omdat ons (en ek is amper bang om dit te sê, want ek was self jare lank ’n kampvegter vir hierdie situasie wat nou bestaan) jare laas ’n ware literêre tradisie in Afrikaans gehad net. Sedert die sestigs – toe ons as gewone sterflinge ons weg moes baan tussen die hoë bome deur van dik wroeg-en-walg-tekste soos Orgie en Een vir Azazel deur, was dit omtrent net Marlene van Niekerk wat ons hoegenaamd uitgedaag het om verder te dink. En selfs dit het sy nie altyd gedoen deur middel van kompleksiteite nie; Triomf was ’n diep, dog basies (op die eerste vlak) heel verstaanbare storie.

Daar was’npaar redes vir die Sestigers se onbeskaamde literatuur-beheptheid. Hulle kon die luukse van woordspelery bekostig. Hulle is geïnspireer deur soortgelyke Europese tradisies soos byvoorbeeld die Simboliste. En hulle moes soms doodeenvoudig hul politieke sentimente verbloem vir die heersers. Gelukkig vir hulle het die Vorsters en die Bothas nie eksistensialisme verstaan nie. Nou ja.

Na Sestig is die tradisie van “middelmoot” (kak benaming, nice idee) gevestig. Boeke het meer verstaanbaar, meer onmiddellik boeiend begin word. Dit was natuurlik ’n nodige reaksie teen die feit dat die Sestigers hulle lesers vervreem het. Een van die slagspreuke van tagtig was juis “terug na die volk”.

Ek vermoed – en ek sê dit met bewondering en respek – dat Karin Cronjé se boek Alles Mooi Weer dalk die begin is van die daarstelling van ’n broodnodige nuwe literêre tradisie in Afrikaans. Een wat minder Eurosentries is as wat die Sestigers was.

As dit so is, is dit ’n boek wat ek hartlik aanbeveel (al het ek die bus gemis). En een wat ek hoop iemand een of ander tyd vir my kan verduidelik.

Want ná bladsy 96 weet ek nóú nog nie wie’s die goeie ouens en wie’s die slegte ouens nie …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top