Huis toe

  • 0

Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer, kry soms ‘n nuwe betekenis in my gedagtes. Dié stof is jy en tot dié stof moet jy terugkeer. Karoo-stof, huisstof.
Dis dan wanneer ek my voertuig laai (met wie ook al wil saamgaan), en die 500 kilometer huis toe aandurf. Na waar ek gebore is, waar my pa nog is, waar my spore tussen ganna en kambro, karoobos, vanwyksbrak en olifantpootjies lê – waar my hart lê, waar my verlange heen is.

Om uit die stad te kom op ‘n Vrydagmiddag, met die vooruitsig van geboortegrond, grootwordplaas, natuur en mense vir wie jy lief is, kan soms senutergend raak. Maar, die vooruitsig gaan die frustrasie ver te bowe.

Die padwerke by Lenasia is nog nie klaar en maak die pad stadiger en langer en die geduld heelwat korter. Selfsugtige en onnadenkende bestuurders wil-wil ‘n demper op jou opgewondenheid plaas, maar jy dink aan die yskoue boorgatwater, die volryp granate wat oopbek na die son smag en die geblêr van skape op ‘n windstil Karoonag. Dan vergeef jy maar en jy fokus op dit wat ver anderkant die gejaag na wind is.

Die enkelbaan kronkel tussen padwerke deur, en voertuie wat die skouer van die pad tot op die uiterste beproef kom by Soweto se drie-rigtingverkeerslig tot ‘n einde, maar dis asof wets-ongehoorsame bestuurders net nêrens afdraai nie. Hulle is voor jou, langs jou, voor-jou-in, amper-agter-jou-in, oor rooi ligte en oorhaastig by vierrigtingstoptekens. Ek hou by spoedgrense, en hou links as die geleentheid hom voordoen, sodat die haastige Noordwesters met hulle luukse motors en dubbelkajuitbakkies die voorrang van die vinnige baan kan geniet.

Die mistroostigheid van die myndorpies, ingeryg soos ‘n ou string pêrels wil aan my moeë skouers kom vat. Betonstrukture en mynskagte versuur die mooi van die natuur. Ek merk Danie Theron se gedagtenis op die koppie, en ek delf deur my geskiedenisboeke op skool, om agter die verhaal te kom. Sy Berede Verkennerskorps sou seker nie so baie omgegee het oor die slaggate, soos my sedan, wat kort-kort moet koes om nog ‘n leemte in die gelykte te vermy nie.

Potchefstroom is besig, soos altyd as die kampus oop is. Die verkeerspersoneel is afwesig en 80km/h word bietjie meer onder my voet, want ek wil nog graag die verskalfie gaan soengroet wat haar bekwaam om ‘n geleerde professionele persoon te word. Ek sou haar wou inlaai, en saam met haar in die ronde sinkdam by die druiweprieel wou swem, maar die boeke roep en die eksamens wink.
Klerksdorp is nie te ver nie, maar in die kort stukkie dubbelpad verby Stilfontein raak mens stil oor die vervloë rykdom van ‘n eens polsende myngemeenskap. Die reusemynhope langs die pad kom half beskuldigend voor oor die vergrype en die hebsug van die mensdom. ‘n Toesighouer wat blyk onnadenkend te wees oor die impak op die omgewing van wie hy so afhanklik is. Met die donker reuse in my truspieël gly ons oor die dubbelpad na waar een of ander reusewinkelsentrum sy staanplek kry by die ingang van die dorp. Verby moskees, motorhandelaars en ‘n skitterblink casino laat ons haar ook agter - die landskap verander van ‘n savanne-bioom na grasvlaktes. Wild en stoetvee se uithangborde ets dramaties teen die hemelruim af, waar wolke traag saampak om verligting teen die hitte te bring.

Wolmaransstad se strate is nog net so vuil soos laas, hoewel die een vulstasie by die ingang darem ‘n nuwe gesigsmasker kry. KFC is besig, soos altyd, en die biltongwinkel se deure is al dig toe wanneer ons daar verbygaan. ‘n Armoedigheid hang saam met die rook aan die einde van die dorp en dit strook nie met die voorspoed van sommige magnate en kudde-eienaars in die omgewing nie. Ek wonder en ek dink maar sonder antwoorde.

Bloemhofdam se reservaat is vol geel gras wat skeef lê in die wind wat oor die watermassa swiep. Enkele volstruise se nekke en ‘n paar sebras se rûe is skaars sigbaar bo die ruigtes. Ek wonder oor die impak wat ‘n weerligstraal op die droë gras sal hê. Veldbrande blyk Suid-Afrika se nasionale wintersport te wees deesdae. Die sanger wie se stem stil is, word nog steeds geëer voor die dorp, en die Ruiter van die Wind (sonder verkleining) jaag papiere, leë bierblikke en blare in die straat af. ‘n Stowwerige dorp, waar snotneuskinders jou motor omsingel, met soekende oë jou elke beweging dophou. Jy koop ou slaptjips en ‘n brood vir die bedelaars en drinkgoed vir die passasiers.

Ons mik hierdie keer by Christiana verby, gaan kyk gewoonlik graag na die huis waar ons vroeër gebly het, maar nie vandag nie. Anderkant die Vaal is daar ‘n koolstoof wat rooiwarm bak aan ‘n rugstring, aartappels, losrys en boontjies met uie gemeng. Daar is ‘n boer wat sy oë stukkend kyk in die grootpad af: “Nou waar sal die kinders dan so lank draai vandag?”

Warrenton lewer nie veel opwinding op nie, en ek steek my ryding se getroue neus in die lekker breë pad na my geboortedorp toe - of is dit al ‘n stad? Pienk flaminke staan eenbenig in die vlak water van Kamfersdam, terwyl die weer dawerend dreun en groot druppels plof in die altyd-dors-aarde van die Noord-Kaap. Bekende paaie is verlê, standbeelde staan nog stewig gemessel, terwyl nuwe winkelsentrums met neonligte ‘n erewag staan op die Kaapse pad. Ek swenk oos, verby die lughawe, die krygskool en De Beers se wild-weivelde. Toe dit nog ‘n grondpad was, het my pa my hier leer bestuur. Noudat ek groot is en dié ‘n teerpad is, ry ek in myself soms nog grondpad, maar die lesse hier geleer, hou my nog steeds op die pad.

Die wêreld raak bekend, ek ruik die stof waaruit ek geskape is. Ek sien Perdeberg se baken, die treinspoor langs die pad, elke bekende draai. Nie ver van hier, gaan ek afdraai, indraai en myself losdraai van die stad, sy uitdagings en sy gejaag. Gaan ek ontlaai en myself weer vol laai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top