Ek onthou die dae, destyds, wanneer dit asblikdag was. Die werkers het gefluit en gelag en geskree en vir almal gewaai, die honde het geblaf en die buurt se kinders het op en af gespring en gewaai. Eendag het een van die werkers, ’n half skalerige kêrel, ’n pienk rok in en ’n breërandstrooihoed, soos die wat vrouens in die tuin dra, in die hande gekry, moes in een van die asblikke gewees het.
Hy’t die rok aangetrek en die hoed opgesit, seker om seker te maak niemand anders eis sy vonds op nie; sý meisie gaan dit kry en met dié gewaad hardloop hy toe die wêreld vol, die lang pienk rok al wapperende terwyl hy heen en weer met ’n asblik op die skouer hol.
Nou die Sondag kom maak die aslorrie uiteindelik die asdromme leeg. Dit moet eintlik Donderdae gebeur maar ek vermoed hulle doen dit Sondae vir oortyd. Die werkers is oor die algemeen stug en stamp sonder seremonie die dromme teen die outomatiese hyser. Sodra die hyser die drom laat sak word hy ongeërg sypaadjie se kant toe gegooi en baie dromme maak dit nie, lê net daar in die pad so half verwese tussen skille en papiere. ’n Triestige gesig, veral op ’n Sondag.
Dié dat daar van die ’goeie ou dae’ gepraat word; die mense was toe gelukkig en vrolik. Deesdae is hulle misrabel en hoe minder dienste en geld hulle kry, hoe meer word almal daaraan herinner dat hulle nóg misrabeler in die ou tyd was wat hulle natuurlik nóg meer misrabel maak, tot so’n mate dat hulle in hulle swartgalligheid biblioteke afbrand en karre met klippe gooi.
Jan Rap

