Honger

  • 1

Jy weet mos hoe dit voel as jy die dag ’n oproep kry en ’n beeldskone soet stem vra: "Weet jy wie praat? Raai bietjie." Jou eerste gedagte is mos altoos aan die wilde nagte en die skuldgevoel omdat jy nie eens haar naam behoorlik gevra het nie. En jy skrik jou nugter want jy weet dis die dae voor rubbers alom in gebruik was. en jy wonder of sy ’n snotneusklong wat jou gelaatstrekke dra gaan voorstel as sy sê: "Ek’s hier naby jou, kan ek kom kuier?" Jy wil die foon neersit want skielik is jy moer bang want daar was nagte wat jy regtig nie die details van kan onthou nie. Soos die ou storie mos lui van die baie blas seuntjie wat vir sy ma vra: "Mammie, hoekom is ek so donker en Ma so blond?" Waarop die ma mos beduie: "My seun, as ek terugdink aan DAARDIE partytjie kan jy bly wees jy blaf nie."

Sy daag hier op en met die groet sien ek ’n gesig wat ek ’n leeftyd gelede laas gesien het. Of, wel, die spieëlbeeld daarvan. "Is jy Sannie? Dit kan mos nie wees nie!" "Nee, ek is haar dogter. Hello neef." Ek laat maak koffie en gooi vir my ’n lange en ons probeer inhaal wat die tyd aan ons gedoen het. Maar ek sien sy is nie hier net omdat sy wil kom inhaal wie deesdae waar is en hoe dit met nog meer onbekende bekendes gaan nie.

"Is jy al getroud?"

"Nee, ek is nie."

En ek sien die kyk in haar blou oë en toe weet ek.

"Ons is baie gelukkig. Sy voltooi my," stroopsoet sy die ou cliché.

"Jy moet haar kom voorstel. Kom sommer môre-aand en dan maak ekke vir ons sommer pasta." En haar gesig helder op want hier rond vat ons nie notas van mense se doen en lates nie. Want wat jy doen waar ek nie by is nie en met wie jy dit doen, is regtig nie ter sprake nie.

"Ek moet bieg. Jy is my laaste opsie. Ons kan nie verder nie. M het gese jy sal help." Smeek sy baie later. "Daar is nie werk nie. Almal sê ek is oorgekwalifiseer en dan is my vel wit ook en ons het maar hierheen gekom want al die familie is hier ... Ons is honger, Oester."

Ek stop haar ’n paar bloues innie hand en beduie dat ons môreaand moet kuier. ’n Hond uit ’n bos uit. "Ja, ek het al gehoor dat julle woes kan kuier hier onner." Lag sy. Sy gee my bloues terug en beduie dat sy nie gekom het om te kom bedel nie. Sy het gekom want sy het verlang. En ja, gehoop ek sal weet van iemand wat dalk ’n werkie het.

"Tye is taai." Laat hang ek die stilte. Mens gee nie hoop waar daar nie is nie. "Kom môre, dan kyk ons wat ons kan doen."

En skielik besef ek hoe naby rykdom en honger eintlik aan mekaar verwant is. Hoe maklik jy van ’n Benz na ’n paar verslete tekkies kan oorgaan. En hoe maklik dit is om te praat as jy self nog nie regtig honger was nie. Ek kyk vir Duif en Vlos en hulle weet: Maak ’n pakkie op solank. Kos en sepies en roompies en goeters wat ’n vrou nodig het. Dis kak as jy nie ’n heenkome het nie te midde van skreiende rykdom wat jy rondom jou sien.

oester

  • 1

Kommentaar

  • Oester, dis voor 5 in die oggend hier in die heuwels  en ek kan nie onthou wanneer laas ek hierdie tyd vannie dag so hard gelag het nie, daai blaf storie gaan ek vandag vir die ouens by die werk beduie.

    Terselfdertyd sien ek daai diep storie ook raak. Jy is rats met die pen.

     

    Duitswester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top