Hofmakery in die sterreryk

  • 0

Titel: Vermaning
Outeur: Lucas Malan
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN-nommer: 9781869192280
Publikasiedatum: Februarie 2008
Aantal bladsye: 44

Klik op die foto van die bundel se omslag om jou eksemplaar by kalahari.net te bestel.

In Lucas Malan se jongste bundel, Vermaning, hoor mens op ’n nuwe en verrassende wyse die stem van die mens wat betower is deur die kosmos en spesifiek deur die maan en die sterrehemel. Die maan behoort tot die romantiese tradisie wat die Romantiek as ’n spesifieke periode in die geskiedenis van die wêreldletterkunde oorspan en oorstyg. Die afdruk op die voorblad van die bundel van ’n skildery van Nicolaas Maritz, Ysterrooi naghemel, berei die leser voor op die deurlopende tema van die bundel waarvan dit die perfekte visuele teenhanger is: ’n volmaan hang in ’n vuurrooi hemel bo ’n donker berg en geel koringland.

In “Mars”, die sublieme inleidingsvers van die bundel, probeer die digter die ontsaglike afstand tussen ons planeet, die aarde, en die ander planete ophef deur visuele uitdrukking te gee aan hoe die planeet naaste aan ons hom in September 2005 (onderskrif by die gedig) duidelik vertoon het in ons hemelruim. In die gedig beteken dié sigbaarheid ’n kortstondige opheffing van die mondige 21ste-eeuse mens se kosmiese eensaamheid: die planeet beweeg nader aan die aarde en verloor “iets/ van sy afsydigheid”:

En daar sal ’n rooi planeet
in die hemelruim hang
in die laaste togte
van ’n onstuimige winter.
Dan sal hy nader kom,
fors ons gesigsveld binnedring
dat ons hom goed kan sien:

die kloot daar uitgeslinger
tussen ander in bane gevang
waar hulle stadig óm en óm
bly wentel, vir ons begrip
lewenslank drentelaars
van die nagruim bly.

Nou die rooie, die een wat smeul
en bekoor met sy kleur;
dié vername gestalte sal iets
van sy afsydigheid verloor
en nader aan ons kom, ysig
maar tegelyk met sy oker glans
hemelhoog uitgestal,
soos ’n seldsame bloeiwyse
in die náwinter blom.

Die titel van die tweede gedig, “Die sterre voorspel”, is ’n duidelike sein vir die leser dat die digter hom in sy poëtisering van die sterrehemel nie by astronomiese feite – die resultate van die wetenskaplike bestudering van die hemelliggame – gaan hou nie. As ’n gereelde rubriek in tydskrifte en dagblaaie pretendeer “Die sterre voorspel” om ’n week of ’n maand in die lewe van ’n mens na aanleiding van die sterreteken in die Diereriem waaronder hy gebore is, te voorspel, veral ten opsigte van die wel en wee van die romantiese liefde. Ook sluit dit dikwels vermanings (vgl die bundeltitel) in oor moontlike gevare wat met sekere tye saamhang.

Al hierdie gegewens verwerk Malan op subtiele wyse in sy gedig “Die sterre voorspel”. Die moontlike invloed van die sterrehemel op die aarde neem binne die verloop van die gedig die vorm aan van ’n veronderstelde kosmiese liefdesverhouding wat deur metafore met sterk erotiese konnotasies gesuggereer word. Dit is die sleutel tot die bundel in sy geheel. Die interaksie tussen die hemelse en die aardse word eerstens aan die orde gestel deurdat dit herfs word sodra die Bul langsamerhand in die hemelruim verskyn. Die verkleuring van die prieel (of wingerd) word vermenslik met ’n duidelike seksuele ondertoon: Die Bul laat die “geil wildedruif/ rooi van skaamte” opkrul totdat sy haar “nuttelose drag/ blare” afgeskud het – “nutteloos” omdat dié druiwestok die hele jaar “vrugloos” was.

Die wete van die son se invloed op die planteryk lei in strofe twee tot die bespiegeling of die “wufte maan” as “silwerling/ van die nag” dalk ook aan dié beïnvloeding ’n aandeel so gering soos die waarde van ’n “stuiwer” kan hê. Die ontkennende antwoord in strofe drie is die verdere uitwerk van die beeld van die maan as ’n verleidster: dit is suiwer romantiek dat sy haar vorm verander om die Bul te behaag, want die maan verander vanuit ons waarneming slegs omdat dit om die aarde roteer. Binne die Diereriem-siklus verteenwoordig die Ram (Aries) die periode vanaf 21 Maart tot 20 April en gaan dus die periode van die Bul (Taurus) vanaf 21 April tot 21 Mei vooraf, sodat die maan se wag op die “koms van die Ram” geen wetenskaplike grondslag het nie, maar deel is van die kosmiese liefdesverhouding wat Malan in die gedig uitbeeld.

Hierdie kosmiese liefdesverhouding word op gemeensame toon deur die digter as waarnemer beskryf. In “Die sterre voorspel” besluit hy dat die maan geen invloed op die plantegroei het nie, met die versugting: “Ag, sy grimeer maar na gelang van dit/ wat die Bul verlang. Saans bak sy mooi/ broodjies …” In “Sterrenag” word die verleidelikheid van die Pleiades – wat alreeds deur hul populêre naam, die Sewe Susters, vermenslik is – se verleidelikheid soos dié van die maan op dieselfde gemeensame toon beklemtoon: “Ag hulle gesels maar oor ditjies en datjies …”

Soos die bundeltitel en die Maritz-afdruk op die stofomslag te kenne gee, is die maan die sentrale gegewe en metafoor in die bundel. Die digter ondergaan as ’t ware ’n “vermaning” – word een met die maan. Van vers tot vers word die maan op verskillende wyses benoem: ons hoor agtereenvolgens van ’n “deftige maan” wat “nukkerig” sink (“Nuwejaar 2007”), ’n “lydsame maan” ( “Boodskap”) en ’n “buitensporige maan” (“Profete”). “Nocturne” (’n komposisie wat nagtelike indrukke en stemminge weergee), met as subtitel “(Op. 37 nr. 1 in G-mol mineur)”, word geïnspireer deur dié bepaalde nocturne van Chopin en ’n “voldragtige maan”, terwyl die Melkweg in die slotstrofe tevergeefs wag op poëtiese en musikale uitdrukking. Binne die kenmerkende romantiese sfeer is dit een van Malan se sterkste maan-gedigte.

Die bedreiging van eenselwigheid deurdat die tema van kosmiese verwondering die bundel van aanvang tot slot oorspan, word in ’n mate teengewerk deur gedigte oor ander onderwerpe. In die tweede afdeling rig die digter sy blik meer op die aarde. Die digter word ’n spysenier van woorde wat hy uit sy liggaam haal (die ware digter dink, soos Yeats gesê, het in “the marrow bone”) en vir ’n feesmaal aanbied vir die ontvanger wat hy vra om hulle verhouding te onthou (“Spysenier”).

Daar is ’n speelse vers oor duiwe wat mens eerder as bodes aan jou deur sou wil ontvang as diegene wat amptelike posstukke aflewer (“Bodes”). “Hartsake” gaan oor ’n ondersoek van die “kosmos” van die hart en “Nagskof”, wat daarop volg, is ’n bitter ironiese vers oor die onverskilligheid waarmee ’n nagverpleegster haar pasiënte behandel. Die maansverduistering waaroor die inleidende gedig van hierdie tweede afdeling handel, verkry in die slotverse die betekenis van die dood: ’n troeteldier verdien ’n elegiese vers ( “Uitvaart”); “Weer op Pearston” is ’n herinneringsgedig aan Ernst van Heerden; en drie gestorwe meesters van die Afrikaanse woord word in die laaste drie verse gehuldig: Ina Rousseau (“Weerwoord”), Barrie Hough (“Deurnag”) en Elisabeth Eybers (“Afspraak”). “Afspraak” is van hierdie huldigings¬verse die sublieme hoogtepunt.

Nie radikaal anders nie, maar tog met 'n effens ander aanslag, word daar in die derde en slotafdeling van die bundel teruggekeer na die aarde en die hemelruim. Die gedig “Voorbarig” is ’n pragvers oor die vroegtydige uitbundige uitbarsting van die lente, terwyl dit nog “by Ceres” “sneeu”, en die gedig “Geselskap” – oor twee eende wat hulle kom tuis maak op die digter se werf – is in al sy geledinge die poësie waardig.

Lucas Malan se jongste bundel het my onmiddellik getref omdat ek daarin vir die eerste keer in Afrikaans kon lees oor ? liefde vir die kosmos by die bewussyn van die grootsheid daarvan. Die mondige 21ste-eeuse mens met sy kennis van die heelal voel hom juis in dié oneindige universum – sonder die beskermende bewussyn van ’n versorgende Skepper – soos nooit voorheen nie, alleen gelaat en eensaam. In Malan se bundel vind mens nie ’n sterk bewussyn van die ander (die ewenaaste) en geen bewussyn van die Ander (God) nie. Nogtans kan hy die kosmos liefhê soos ’n Chesterton. In sy dun boekie uit 1908, Orthodoxy, tree Chesterton in debat met die natuurwetenskaplikes wat konstateer dat die heelal oneindig is, maar sonder die uitspreek van enige liefde daarvoor: “(T)hese expanders of the universe had nothing to show us except more and more infinite corridors of space lit by ghastly suns and empty of all that is divine …These people professed that the universe was one coherent thing; but they were not fond of the universe. But I was frightfully fond of the universe and wanted to address it by a diminutive.”

Dít is wat Malan in wese doen deur op gemeensame wyse – soms met treffende metafore – ’n liefdesverhouding tussen die aarde en die hemelse sfere te vergestalt: hy “benoem die heelal met ’n verkleinwoordjie”, omdat hy so intens veel daarvan hou. Nogtans staan hy in die twee slotgedigte van die bundel as postmoderne mens weer voor die koue afsydigheid van die universum, waaraan die slotstrofe van die voorlaaste gedig “Reënwoud” uitdrukking gee:

Maar die aard van ons planeet
maak selde voorsiening vir dit
wat menslike hartstog vra

Die krag van die bundel is terselfdertyd ook sy swakheid: die afwesigheid van die menslike hartstog en van die ander mens en dus van die liefde van ’n “ek” vir ’n “jy” wat die aarde laat draai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top