- “isiBhulu” beteken “die taal van die apartheidsonderdrukker”. Taal ís identiteit.
- Die meerderheid Afrikaanssprekers is nie apartheidsonderdrukkers nie, was nog nooit nie, en sal hopelik ook nooit wees nie.
- “isiBhulu” ignoreer grondwetlike voorskrifte, waarin alle amptelike tale gelyke status verleen word en daar teen geen taalgemeenskap gediskrimineer mag word nie.
- Wat die Taalraad betref, hulle het duidelik geen probleem met die term nie en hulle Afrikaans is dus die pre-1976-Afrikaans, die 1975-Taalmonument-Afrikaans, die taal van Verwoerd en PW Botha, die taal van die Burgerlike Samewerkingsburo, die taal van die Robbeneiland-tronkbewaarder, van die ATKV, die AB, Dames Dinamiek, Solidariteit, Afriforum, eksklusief, slegs vir voorheen bevoordeeldes, die taal van apartheid met al die onmenslikheid en onreg daarin gesetel. Dis nie my Afrikaans nie, dis nie die Afrikaans van die meerderheid Afrikaanssprekendes nie, dis nie die Afrikaans van Gloria Bosman, Amanda Strydom, Elsa Joubert, Don Mattera, Koos Kombuis of Karen Zoid nie.
- Ons moedertaal word dus retrogressief degradeer deur diegene wat onder apartheid die pyn en lyding moes verduur wat deur Afrikaanssprekers aan hul toegedien is.
- Nou verduur die hele taalgemeenskap die vernedering van hierdie skelterm, terwyl hulle aandeel tot onderdrukking, al dan nie, nie in berekening gebring word nie.
- Geen Afrika-taal behoort aan enige spesifieke kultuurgroep nie.
- Indien die “nie-rassige” ANC die term “isiBhulu” gebruik, indien die Afrikaanse Taalraad tjoepstil bly daaroor en hul bondgenote, Solidariteit en Afriforum, ook aanvaar dat hulle as “amaBhulu” bekend staan, is dit duidelik dat die meerderheid Afrikaanssprekers en hul identiteit deur hierdie sogenaamde verteenwoordigers gewetenloos geminag word.
Kobus Faasen


Kommentaar
Kobus Faasen
mbt Par 8 hierbo. Liewe mens. Hoekom moet die genoemde organisasies standpunt inneem wanneer hulle taal vyand die rashatige anti- Afrikaner-Taal ANC die Afrikaanse taal as die taal van die "isiBulu" taal met die apartheid onderdrukker voortdurend wil vereenselwig.
Dit pas mos in met hulle propagandamasjien. Maak nie saak watse standpunt genoemde organisasies inneem, selfs soos dit wat jy van hulle verwag, gaan dit die ANC nie pas nie en sal hulle steeds apartheid onderdrukking aan die taal heg,en dit isiBulu noem.
Wat is JOU voorstel vir goeie samewerking tussen blank, bruin en swart Afrikaansprekendes in hierdie land vorentoe, want jy hamer op die griewe van die verlede wat vir altyd verby is. Ek, en ek is weet menigtes blankes wil met ons bruin en swart mede taalgenote die taal saam vorentoe propageer.
Afrikaans is die taal van blank, bruin en swartes oor 'n wye spektrum politieke sieninge, ANC-ondersteuners onder hulle; AWB-ondersteuners; DA-ondersteuners; Inkhatha-ondersteuners; ens. Ek is anti-ANC, en dit traak my glad nie wat my taal-vyand my dit wil noem nie. Die anti-Afrikaner Engelse meer as 100 jaar gelede het die taal "kitchen Dutch" genoem. Die plaaslike "Dutch" van die tyd het geen kapsie daaraan gemaak nie, want hulle het geweet vanwaar dit kom.
Dit kom vir my voor jy wil Afrikaans uitsluitlik in jou eie politieke kamp sien. Dit gaan nie gebeur nie, want soos jy reeds gesê het, die taal is die besit van enigeen wat dit praat, beide vriend en vyand s'n, en wat taal-vyandiges dit anders wil noem, behoort ons ons nie daaraan te steur nie, want ons weet vanwaar dit kom.
Jaco Fourie
Terloops
Vergeet om verder te sê. Selfs blanke Afrikaners sê nie hulle praat "Boers" of "Boertaal" nie. Max du Preez (ultra-liberaal) praat Afrikaans, en sy vyand Dan Roodt (ultra-regs) praat ook Afrikaans; Nico Smit praat ook Afrikaans, Kobus Faasen praat Afrikaans. Elkeen hemelsbreed polities verskillend van mekaar, maar taalgenote van mekaar.
Op Engelse skool was ek al "Hairyback"; "Rockspider" en "Fucken Dutchman" genoem. Vandag sal hulle my miskien "isiBhulu" wil noem. Dit het my geensins gepla nie want ek weet vanwaar dit kom. Dit kom nie van my taalgenote af nie. Ek sien geen nood om standpunt daarteen in te neem nie.
Jaco Fourie
Beste Jaco, nes Jan Rap vermeld u geensins die rol wat die sogenaamde Taalraad moet vervul nie. Indien die regering die Grondwet herskryf en ons taal die nuwe benaming van "Apartheidstaal" gee, sal u en Jan Rap rondskarrel na 'n Taalraad, maar dit sal te laat wees.
Kobus Faasen
Beste Kobus
Eerstens. Dit is verblydend om te sien jy neem nou deel aan die hoof arena van SêNet. Ek het altyd die indruk dat jy in 'n eensame hoekie skryf, en ek bedoel niks leliks daarby nie. Ek hoop van harte jy neem van nou af gereeld aktief deel. Ons deelnemers het dit nodig dat daar gekrap moet word waar hulle liefs nie gekrap wil wees nie, myself inkluis.
Miskien verstaan ek jou verkeerd wanneer jy praat van hierdie persoon se Afrikaans is nie die ander persoon se Afrikaans nie. Vir my is Afrikaans Afrikaans, maak nie saak wat die kleur van sy vel is nie, sy godsdiens aanhang, sy groepskultuur, of sy politieke ondersteuning nie, hetsy vriend; oponent of vyand. En totdat die teendeel aan my feitllik bewys word, het ek die definitiewe indruk dat die Taalraad daar is vir almal wat Afrikaans praat, en veral wil propageer, sonder om enigsins partydig te wil wees teenoor enige van genoemde persone. (Inteendeel. Die gemiddelde persoon wat Afrikaans as huistaal praat, is nie eers van 'n Taalraad bewus nie).
Ek en jy se uitgangstandpunte verskil. Indien ek verkeerd is mbt jou, help my asseblief reg. Ek kry die indruk jy is histories gespits met klem op die ongeregtighede wat blanke Afrikaanssprekendes aan hul bruin broers in die velede gedoen het, en soek derhalwe regstelling. Ek lees nêrens verwysings na enige moontikheid van vereeniging van veelkleurige Afrikaanssprekendes vir die toekoms in jou skrywes nie.
My uitgangspunt is pragmaties toekoms gerig. Ek kan geen gemene-grond vanuit die verlede vind waar die verskillende rasse wat dieselfde taal praat uiteindelik samehorigheid ooit gaan bereik, soos in Brazil waar velkleur hoegenaamd nie ''n faktor in die sosiale samelewing is nie; solank elke kultuurgroep in SA homself op die ongeregtighede van die verlede toespits. In Brazil is dit opvallend hoe jy pikswart mense; merendeels bruin mense en 'n minderheid blankes sien saam sosialiseer, waar hulle ook ooglopend nie van enige velkleur bewus is nie. Almal praat dieselfde taal (Portugees), en almal neem deel aan dieselfde feeste. Dit is hoe ek Afrikaans vir die toekoms graag sal wil sien. Dus, indien jy van my kant min belangstelling en entoesiasme oor die verlede vind nie, is omrede die verlede na my mening niks vir Suid Afrikaners se toekoms bied nie.
Jaco Fourie
Lees asb. my reaksie op Jan Rap se brief "Vir Wouter oor loutere snert" van deeske week.
Kobus