Hoe om 'n tamatietoebroodjie te maak

  • 3

Vervelig, verbeeldingloos en oninteressant.  Twee snye witbrood, ’n leksel botter, tamatieskywe, sout en peper is nouliks ’n kulinêre meesterstuk. Tog, wanneer ek aan hierdie eenvoudige toebroodjie dink, sak  ek weg in ’n diepe gevoel van veilige geborgenheid, wat ek laas teen my dierbare moederknie ervaar het. My oorlede moeder, nou ook al  langer as twintig jaar saliger, was ’n bobaas tamatietoebroodjiemaakster.

Nou kyk, tamatiebroodjies soek witbrood, en ook nie sommer enige keffiebrood nie. Vergeet ook van bybelbladjiesnytjies;  slegs twee behoorlike skaapwagter-sooie, van die heerlikste tuisgebakte brood sou die werk behoordelik kon verrig. In my grootwordjare was daar, behalwe vir Siembamba in die oggend op die Afrikaanse radiostasie, nie juis veel media-afleiding vir opgeskote kindertjies nie en was tandetel die volgende beste ding.  Televisie nog ver in die onbekende toekoms.  Vir my as ses- of sewejarige kind, was dit dus heerlike afleiding om vir Ma dop te hou terwyl sy ons weeklikse brood geknie het.

Die blou erdeknieskottel, plek-plek al afgeskilfer,  was saam met die koekmeel, -Ma het nooit broodmeel gebruik nie, dit het blykbaar die tekstuur belemmer-, sout, suiker, ’n koekie nat-suurdeeg, ’n beker sterk louwarmwater, broodpanne en ’n kombers op die witgeskropte kombuistafel uitgepak. Met my kennetjie so in die bakkies van my hande gestut, het ek oopbekkie met verwondering gestaar na hoe Ma die sout en ’n hele hand vol suiker, met haar hande deur die meel meng. Sy het haar hande diep onder die meel ingegrawe en dan handevol van die mengsel opgelig en dit soos water by ’n krans af deur haar vingers laat gly. Ek onthou goed hoe Ma dan, met ’n lag in haar stem, iets soos,” Fredriek …”,- my doopnaam is Frederika, maar sy en Pa se troetelnaam vir my was ‘Fredriek’; Kan my nounog vererg sou iemand anders homself aanmatig om my so te noem. “Fredriek, maak toe jou mond my kind, dis brommertyd.” Nadat die koekmeel, sout en suiker goed gemeng was, het sy die meel soos ’n klein Kilimandjaro opmekaar gestapel en dan met haar hand ’n netjiese vulkaanholte reg op die kruin gemaak. Nou is die koekiesuurdeeg van ’n bekende fabrikaat, uit die foelieomhulsel gehaal. Die  gevoel van trots wat ’n mens kry as jy jou landsvlag sien wapper, wel, dieselfde trotsgevoel het altyd by my posgevat wanneer Ma daardie suurdeeg gebruik het. Sien, Pa was die fabrieksvoorman en laterjare die fabrieksbestuurder by die bekende handelsnaam.  Droëgis, was toe al beskikbaar maar Ma het vasgekleef aan die nat-koekiesuurdeeg. Opgelos in genoeg louwarmwater, word die dan binne in die vulkaanholte gegooi. In my kinderverbeelding was dit nou nie meer ’n vulkaan nie, maar ’n dam waarvan die walle neig om enige oomblik te breek. Behendig het Ma die meel en suurdeegwater begin meng; nog nie geknie nie. Net so met die een hand, die ander hand het sy gebruik om die skottel om en om te draai  tot die water en meel ’n deegbal gevorm het. Nou het Ma in ’n bokser verander en sy het daai deeg met gebalde vuiste gemoker todat daar nie meer ’n krieseltjie deeg aan haar hande vasgesit het nie. ’n Soort oorgroot, stortkappie van plastiek, asook die kombers is oor die skottel  getrek, waarna dit op ’n warm plekkie, gewoonlik in die sonnetjie op ons agterstoep, buite die bereik van Proppie, ons steekbaardbrak -Proppie en ek het eendag die pakslae van ons lewe gekry, toe Ma ons op die einste stoep vang waar ons besig is om ’n hele blok tuisgemaaktebotter te verorber -  gelaat is om te rys. Klaar gerys het Ma die deeg in vier eweredige dele verdeel. Drie dele is in gesmeerde broodpanne geplaas, en die vierde deel het VETKOEK! saam met daardie aand se groentesop geword. Die drie brode het nog so halfuur gerys en dan oond toe gegaan om later te verskyn as uitgebakte goudbruin ghoemabrode!

Twee snye van hierdie heerlikheid is van hoek tot kant besmeer met botter. Beslis nie margarien nie, tuisgekarringde botter, gemaak van room wat so drie dae  tevore,  met ’n roomafskeier, van die melk geskei is. Dit was altyd Pa se werk. Hy het vars volroommelk bo in die ronde kom van die afskeier gegooi en dan die lang slinger begin draai, eers stadig  en dan al vinniger. “Ping, Ping” het die kontrepsie gemaak en dan later wanneer Pa op sy  vinnigste draai, het die ping-geluid verdwyn en ’n straaltjie spierwit skuimmelk het by die een pypie uitgeloop en die room by die ander. Soms, het Pa my toegelaat om my mond daaronder oop te hou en dan die koel melk direk van die pypie te sluk, maar slegs wanneer Ma nie in die nabyheid was nie. ’n Bottel, wat vir die inmaak van vrugte gebruik is, is halfvol room gemaak en dan het Pa geskud asof sy lewe daarvan afhang, totdat die room ’n botterklont gevorm het. ’n Melkerige vloeistof wat karringmelk genoem word, het in die bottel agtergebly. Die karringmelk het Ma in ’n bakkie gebêre om later karringmelkbeskuit mee te bak. Die botter is dan in ’n mengbak, met skoon water gewas en gespoel. Net die regte hoeveelheid sout is so proe-proe, bygevoeg. Hierdie sagtegeel smeer is dan in ’n glasbotterbakkie  op ’n koel plek gestoor -natuurlik ook buite my en Proppie se bereik.

Lekker dik met botter gesmeer was die mooiste, rooiste, varsste, proe-nog-na-die-plant, tamaties - van die opskietplante om Pa se komposhoop, gepluk - in dun skyfies op die brood gerangskik. Rojaal, dis immers, ’n tamatietoebroodjie! Laastens, maar net so belangrik soos al die ander bestanddele, sout en witpeper, van die goeie soort, voorafgemeng,  sê maar so, twee derdes sout op een derde peper, uit ’n soutpotjie met groot  gaatjies, ruimskoots gesprinkel om die smaak van die tamatie te bevorder.

“Eet my!” het geen reghoekig gesnyde toebroodjie nog vir my geskree nie. Met ’n skerpmes so skuins oorlangs in twee ewegroot driehoeke gesny … so het Ma altyd ons broodjies op gewone eetborde voorgesit. Die boerbroodsnye was in elk geval te groot vir broodbordjies. Ek het altyd die deel met die donkerbruinkorsie eerste in albei my kinderhandjies toegevou en dan die skerpste hoek heeltemal in my mond laat verdwyn … die tekstuur van die brood en die geur van die botter wat binne-in my mond, met die sout-en-pepertamatie getrou het … Vervelig? Verbeeldingloos? Oninteressant?  Ek dink nie so nie … water my mond nou …

Verskoon my! Ek moet nou eers gou winkels toe, vir wit koekmeel en ’n koekie suurdeeg.

Rika Viviers

  • 3

Kommentaar

  • Rika, jy laat my ook nou na goed verlang wat lankal nie meer is nie. 'n Mens kom eers agter wat jy mis aan die klein dingetjies wat jou ma of pa vir jou gedoen het. Ek het my pa maar ses jaar geken toe hy oorlede is maar my ma het my alleen moes grootmaak. Ek kan onthou sy het ook brood gebak. Sulke grootes wat uit die broodbakkies gerys het. Sy het ook altyd melkkos  gemaak. Sy het alles self moes maak, soos botter, konfyt ander ingelegde goed. Ons het altyd gespot my ma sit enige ding in 'n bottel, of hy nou wil of nie. My ma is sowat 13 jaar gelede op die ouderdom van tagentag oorlede. Sy het haar dood getreur na my broer se dood. Ek het myself eendag betrap waar ek agter ou tannies geloop het en ruik hoe hulle ruik. Nou nie my snoet teen hulle vasgedruk nie maar oumense ruik mos anders. Ek het dit een dag aan die etenstafel genoem toe familie by ons gekuier het en is ek erg daaroor gespot. Maar ek mis my ma erg.

     
  • Haai skoonsus, jy het my sintuiglik sooo meegeneem op jou broodjiemaakreis!! Ek wag vir 13h00, dan's ek ook weg winkels toe!! Welgedaan!

  • Rika

     
    Jou storie het my herinneringe baie jare teruggeneem  toe ek my moeder dopgehou  het,   wat op dieselfde wyse wat jy beskryf, geknie en brood gebak het.  Sy het sulke fris witbrode gebak  want haar broodpanne was lee 1-gelling paraffienblikke  [net die een lang kant van die blik is weggesny] .  Waar die prop van die kannetjie was, het die deeg so 'n bietjie uitgerys en ons seuns het altyd gestry wie daardie spesifieke korsie sou kry.
     
    'n Eenvoudige lekkerny vir ons kinders was om daardie vars brood op te breek in 'n diepbord en dit met vars melk te eet.
     
    Baie dankie vir jou storie.
     
    Enjee
     
     
     
     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top