Hierdie jakkals is mak ... of hoe?

  • 0

Nooit sou ek kon dink dat ek resensies op LitNet sou lees nie, en minder nog my eie mening lug oor gevestigde resensente se werk. Groot was my verbasing dus toe ek intense belangstelling toon in Johan Anker se resensie, "Dié jakkals laat jou vinnig lees".

Anker slaag daarin om 'n kort, dog doeltreffende, oorsig te gee in sy inleidende paragraaf, wat onmiddellik my aandag geprikkel het. Hy lig die belangrikste aspekte van die verhaal uit, sodat die leser 'n presiese idee kan kry van wat verwag kan word, sonder om die storielyn heeltemal weg te gee. Anker verveel dus nie die leser met 'n onnodig lange sieldodende ontleding van elke aksie en gevolg nie, maar behou die spanning deur kort en kriptiese leidrade te voorsien.

Dit is opvallend dat Anker noem dat die leser betrek word by die verhaal – die idee dat die leser (weereens) slegs 'n passiewe toeskouer is, word dus heeltemal uitgewis. Verder kan die lesers ook dan deel in die situasies en frustrasies van die karakters, aangesien identifiseerbare temas aangespreek word.

Alhoewel Anker met groot lof verwys na die tegnieke van die skrywer, soos bv om die leser suksesvol te betrek, is dit onduidelik waarom een enkele karakter in die resensie uitgesonder word en voorkeur geniet. Die mate van detail betrokke by die beskrywing van kaptein De Villiers Pelser skep die indruk dat die boek slegs oor hierdie karakter handel.

Dit is duidelik dat Anker 'n belese persoon is. Die resensie is boeiend, vlot geskryf en getuig van goeie taalgebruik. Soos Anker self uitwys – die spanningsverhaal is 'n "stilsit-eenkeer-deurlees-storie", en dit is presies die idee wat ek uit die resensie kry. Anker skryf 'n verstaanbare, oortuigende resensie wat toeganklik is vir die nie-letterkundige leek op straat.

Carla Ellis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top