Hierdie groen heks verdien goud

  • 0

Titel: Arboreta die heks met die groen hare
Outeur: Riana Scheepers
Illustrasies: Vian Oelofsen
Uitgewer: Protea Boekhuis
Formaat: Sagteband
Bladsye: 44
ISBN: 978-1-86919-146-7

 

Arboreta is 'n heks wat met groen hare en al tot diep in jou hart sal kruip én boonop sal sorg vir 'n weer lees én 'n weer lees. Riana Scheepers se beskrywende en atmosfeerryke taalgebruik, aangevul deur prettige illustrasies vol opmerklike besonderhede deur Vian Oelofsen, sorg vir 'n unieke leeservaring wat selfs die mees siniese leser hoendervleis van lekkerte sal gee.

Arboreta het 'n wilde boskasie groen hare en 'n sagte glimlag wat skuil tussen boomtak en bas en is nie, soos haar medehekse met haakneuse en harige moesies, 'n heks wat kindervingers sommer vir brekfis sal opeet nie. Nee, Arboreta is gawe groen heks wat net wil hê kinders moet veilig en gelukkig in haar woud speel. Soms, wanneer die kinders te lekker begin speel, moet sy hulle ook uit allerhande penaries red. Só help sy byvoorbeeld 'n seuntjie uit die woud wanneer hy verdwaal en verander sy 'n dogtertjie in 'n pragtige groen varing wanneer 'n nare hond haar wil byt; maar Arboreta is 'n goeie, gawe heks en wanneer die dogtertjie uiteindelik buite gevaar is, verander sy haar weer terug.

Arboreta is egter nie net gaaf en baie beskermend teenoor haar woud nie, sy is ook innoverend. Rommelstrooiers se papiere waai terug in hulle gesigte, koeldrankblikkies wat net so neergegooi word, tel sy op en laat val dit op hulle koppe, en nare boomkappers verander sy in stokstywe boomstompe. Wanneer Arboreta die dag verveeld is en net lus is vir iets anders, verander sy in 'n wilgerboom, eikeboom of selfs 'n palmboom. Tog bly hierdie gawe groen heks wonder oor wat van die woud gaan word die dag wanneer sy nie meer daar is nie. Haar wens vir 'n groener toekoms word waar wanneer sy op 'n dag 'n nuuskierige dogtertjie met 'n ligte groen gelaat en die groenste oë onder die son ontmoet. Silvie en haar ouers gaan hou op 'n dag piekniek in die woud en, soos dit 'n goeie groen dogtertjie betaam, dwaal sy af en ontmoet 'n hoë boom wat op 'n blaar na net soos 'n ou vrou lyk. Silvie ontmoet die "boom-tannie" Arboreta en die avonture begin.

Hierdie kinderverhaal is inderdaad 'n groen storie met 'n kinkel, geskryf vir kinders én grootmense met groen harte. Scheepers hou haar lesers (streng gesproke vir kinders tussen 7 en 13 jaar oud, maar wie steur hulle aan sulke reëls in Arboreta se immergroen woud?) letterlik in verwondering van flapteks tot flapteks. Sy slaag daarin om met eenvoudige dog stylvolle taalgebruik haar lesers vasgenael te hou. Die geure en kleure van die woud word treffend beskryf, terwyl lesers byna saam kan smul aan heldergroen kruisementkoekies, mosbolle, olywe en allerhande lekkernye. Sonder om vir 'n oomblik te begin preek, bring Scheepers die groen tema op interessante wyse na vore en omskep sy haar twee hoofkarakters Silvie en Arboreta in unieke rolmodelle.

Scheepers se unieke styl en raak beskrywings maak van die storie oor Arboreta, Silvie en die karakters van die woud 'n oorspronklike en realistiese verhaal. Die gawe groen heks raak op vernuwende wyse ontslae van rommelstrooiers, boomkappers en skelm rokers. Hierdie kinderboek is geheel en al aksie-belaai met boomkapper-boewe en 'n burgemeester wat gefrustreerd aan sy telefoondraad kou. Terwyl die slot van die verhaal lesers net vir 'n wyle sal laat dink aan die "gerimpelde, wyse ou gesig van 'n vrou" tussen die bome wat ons so gewetenloos afkap. Om die groen tema selfs verder te neem, is daar teen die einde van die boek 'n regte boomresep om kinders en volwassenes aan te moedig om sommer self 'n boom te plant. Dié boomplantresep word spesifiek op kinderlike wyse oorgedra, met bygaande illustrasies, sodat kinders soos Silvie en grootmense soos Arboreta, met towerspreuk en al, al groener sal word.

Vian Oelofsen, welbekende illustreerder, is verantwoordelik vir die kleurryke illustrasies wat, met ongelooflike bedrewenheid, vir pret en plesier op elke bladsy sorg. Die groen tema word van begin tot einde deurgevoer met heldergroen woorde, blare van alle kleure en groottes en selfs 'n groen spatsel op die boomkapper-boef se neus. Dit wil inderdaad voorkom asof niemand aan groenwees kan ontsnap nie.

Oelofsen slaag daarin om die eenvoudigste karakters 'n persoonlikheid van hulle eie te gee. 'n Eekhoring kyk verbaas toe hoe 'n paar groen tone onder 'n boomstomp uitloer, die naaldekoker bekyk sake met 'n verbaasde, bekommerde en soms tevrede uitdrukking, en 'n stomgeslane slak bekyk vingers wat een-een uit die grond groei. Klein Silvie met haar koddige stewels, rooi skoenveters en fyn blaartjies wat uit haar poniesterte groei, dra natuurlik by tot die beskrywende illustrasies. Saam met Scheepers sorg Oelofsen dat elke moontlike leser van bladsy 1 af verlore raak in die lewe en avonture van Arboreta, Silvie en die diertjies van die woud.

Die bekroonde skrywer Riana Scheepers is hoofsaaklik bekend vir haar volwasse literatuur, maar het al suksesvol in 'n wye verskeidenheid genres gepubliseer. Haar eerste kinderboek, Die avonture van Wilde Willemientjie, verskyn in 2006. Hierdie kinderboek is as musikale blyspel in 2007 by die KKNK opgevoer, en het ook die gesogte Kanna-prys vir Beste Kinderproduksie verower. Met haar jongste kinderboek bevestig sy opnuut haar posisie binne die literêre sisteem. Arboreta die heks met die groen hare is 'n kinderboek wat beslis bekroon moet word, want hierdie groene verdien 'n goud!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top