Hier is vir ’n verandering wysheid oor literatuur. Daar word andersyds dikwels gevra dat "relevante" boeke (wat genoem word "leesstof" of "materiaal” – en dis verse sowel as verhale en dramas) vir kinders gekies word. Ook vir swart plattelandse kinders.
So het apartheid gewerk: ek onthou die polisiekoerant wat aangekondig het dat bepaalde films uit Hollywood nie aan swart mense in hulle afsonderlike bioskope (soos die Lyrivc en die Avalon) vertoon kon word nie. Een bepaalde misdaadfilm was The Yellow Canary. In daardie tyd was ek konstabel in Fordsburg. Ek het soms op pad nagdiens toe in een van die movies gaan sit.
In 1984 het ’n inspekteur van Onderwys en Opleiding (wat helaas later die hoodfdepartement van onderwys laat word is) aan letterkundiges en skrywers, na ’n rassistiese grap waarop gehoorlede "beswaar" uitgeroep het, al die goed belys wat nié in boeke moes voorkom wat vir "hulle" (swart leerlinge) voorgeskryf of aanbeveel moes word nie. Misdaad, verhoudings of situasie oor die kleurskeidslyn, tot Madeleine van Biljon uitgeroep het: "Nee-a, mnr A! Wat bly dan oor vir my kinders? Sondagskoolboekies?"
Nog steeds vra mense ernstig dat kinders moet leer lief raak vir lees. Sonder dat spesifieke boeke met opwinding, aandoenlikheid, uitdaging voorgestel word. Die kremetartekspedisie of Asterion word nooit genoem nie. Soos Robin Skelton uitroep, droewig: "Only dullness can kill art."
Die mense bedoel dit goed, maar maak dood tot ’n kind self toevallig ’n Ursula le Guin, Paul Poppespeler of Tolkein in die hande kry. En sweef! (Party.)
Mens sou graag wil hê die stuk van Hennie moet verpligte leesstof ("lektuur"?) word vir die voorskrywers, aankopers, en onderwysers. Ook dat die sg letterkunde-vraestel vir matriek ophou om net begrip te toets, wat in elk geval nie deur begripsonderrig voorafgegaan word nie. Dis sonder ’n sweem van letterkundigheid of blyk van waardering.
Lewe die lewende literatuur en die weg van die vonkelteks na die vonkelleser. Die skrywer kan bepaald ’n prys vir hierdie essay kry!
Ian Raper

