Met lisensie om te tuur,
die son se glibberige kaats
oor deining, golf en brander
deur lens en retina in te katrol,
te hoor hoe branders,
elk met eie stem en snaar,
tog in magtige mineur
akkoord gaan met mekaar,
aan eie vel te voel
as die gety dan skielik langbeen maak,
en speel-speel teen my knieë spat,
en stuitig aan my bobeen raak
te proe juis hoe
die soutsmaak van die see
op lip en aflek-tong kom lê,
te ruik hoe seebamboes en skulp
die see se waterkruike
soos op ’n wonderbruilof
die soutvog van die ebgety
in geur van laat-oes wyn verander;
dan wonder ek hoe enigeen
hierdie tapisserie,
geweef deur tong en vel,
neus en oor en oog, kan verruil
vir nog ’n kraaines op katrol?


Kommentaar
Pragtig, André, ek het dit baie geniet om weer 'n slag 'n waarlik meesterlike gedig te lees! Soos altyd, met baie verskuilde guitigheid! Skryf tog asseblief meer gedigte, toe?