Red die leser inderdaad. Ons is die mense wat boeke aan die gang hou, is ons nie? Omdat ons ons kosbare tyd opoffer om 'n boek te neem en te lees, kan ons tog verwag om daardeur geboei te word en plesier daaruit te haal?
Ek is lief om ‘literêre boeke’ te lees, maar ek doen dit nie graag in Afrikaans nie. Ons is seker die enigste taal waar daar nog gereken word dat die lees van ‘literêre boeke’ 'n saak van sug, vasbyt en ‘maak gereed vir verduistering’ moet wees. Jy sit met die prysliedere van literatore op die een kant en die boek op die ander. Die sprong tussen wat die resensent kwytraak en wat jy self tussen daardie blaaie ervaar, verskil hemelsbreed. Die literatore sit blykbaar almal op die draad en wag vir die eerste uitspraak van 'n eweknie en dan val hulle gelyk óf vooroor óf agteroor van die draad af.
... en ons, die leser, die rede waarom 'n boek hoegenaamd lewensreg het, bly sit met bekroonde werke soos Eilande en enigiets geskryf deur Ingrid Winterbach (wat pas 'n Hertzog-prys gewen het vir Die aanspraak van lewende wesens). Ek het dit nog nie gelees nie, maar ek dink nie ek gaan myself weer deur die tydmors sit om een van hierdie skryfster se boeke te probeer lees nie. Só nuuskierig is ek tog nie. Ek dink 'n groot persentasie van die lesende publiek sal dit ook nooit lees nie. Die wat dit wel lees, sal dit afmaak as boete betaal aan die ‘literatuur’.
Die ware kreatiewe werke blyk die resensies oor hierdie boeke te wees. Ek skryf hierdie mening vanuit die oogpunt van die Die aanspraak van Lesende wesens.
Anton

