Dag Hans
Ek reken – ek mag verkeerd wees – dat jy saam met my stem dat die kweek van dagga gedekriminaliseer behoort te word. Dit beteken nie ek beveel aan dat die goed heeldag gerook moet word nie. So, vat nou die blaaskans wat jy self voel jy nodig het en dan stel jy jou vrae eenvoudig en nugter en vermy om vraagtekens agter stellings te sit; ek weet nooit wanneer jy eintlik 'n stelling maak of 'n vraag stel nie.
Neem nou byvoorbeeld die volgende sin, net so geplak uit jou brief van gister:
"Jy [Jan Rap] argumenteer dat die 2de fase van ABO nie dié wêreldbekende guerilla/ terroriste fase, na 1900, binne gegaan het nie, na val van Bloemfontein en Pretoria?
Stel jy dit as 'n feit of vra jy my? Hoe dit ookal sy, jy maak 'n duimsuig-aannames. Ek moet, ten einde te reageer op hierdie stelling/vraag ook 'n paar aannames maak. Ek neem aan met ABO bedoel jy die Engelse Oorlog en ek neem aan met "guerilla/terroriste fase" bedoel jy "guerilla-/terroristefase".
Indien hierdie aannames korrek is (laat my weet as ek 'n fout gemaak het) dan is jy verkeerd wat die terroristefase betref. Terreur is nie 'n relatiewe begrip nie, met ander woorde, die ou gesegde waarvoor die liberaal-demokrate (Piet Croukamp en Max du Preez se mense) so lief is, naamlik die een se vryheidsvegter is die ander se terroris, is snert (Piet Croukamp se gunstelingwoord). 'n Terroris val sagte teikens – siviele bevolking naamlik vrouens, kinders, bejaardes, die soort van ding – aan om 'n volk te demoraliseer. Die Engelse was hier met hulle geallieerdes, almal onder wapen en dus nie sagte teikens nie. Die Éngelse en hulle geallieerdes was skuldig aan terreur.
Die Boere het hul wel tot guerilla-taktiek gewend – en was so suksesvol daarmee dat Neville Shute in sy outobiografie dit noem dat, gedurende sy militêre opleiding, hulle hoofsaaklik op Boeremetodes gekonsentreer het.
Nou die ander ding van die Kaap wat nie die Hollanders s'n was nie maar wel die Britte s'n. Hoekom sê jy so; is dit omdat die Hollanders nie gesê het "ons debs hierdie land" nie en die Engelse dit wel gesê het?
Dan die ding van die Anglikaners, wat bedoel jy daarmee? Klink vir my na 'n joiner soort van storie en moet dus vermy word soos varkmis op 'n toebroodjie.
Terloops, ek het ook nou die anderdag my hand met die grinder erg gesny. Ek sny 'n stuk metaal amper deur en plaas die slyper in my linkerhand terwyl ek die stuk yster se laaste stukkie met my regterhand afbreek. Die ding was toe meer deurgesny as wat ek gedink het en kom toe met 'n spoed los, tot so 'n mate dat ek my regterhand, net bokant die duim, in daai grinder slaat wat toe nog aan die loop was. Gelukkig geen senings raakgesny nie, regterduim is net so half dood. Wys jou, mens moet maar altyd, selfs met die kleinste joppie, mens se veiligheidsgoed aantrek.
Nog waar daar raakpunte tussen ek en jy is: My ouma was as 14-jarige in die konsentrasiekamp. My oupa, die Boer met die Skotse van, was 16-jarige Penkop. My Pa was is 1914 met die Rebellie gebore. Ek hou van ou klere; saagsels en olie maak dan nie saak nie. Klerewinkels vir mans bo 50 is nie nodig nie, daar is Metz of Meltz en Mr Price en Pep en Jet. My vrou het al vir my duur goed by ander winkels gekoop en eerste ding wat gebeur is 'n gaatjie ontstaan deur pyp-, sigaret- of braaivleisvuurkool of verfspatsels of so-iets. Dis nou als bo en behalwe bamboes in die Karoo met gryswater en die soort van ding.
Waar ons NIE ooreenkom nie is wildskiet. Toe ek op laerskoolkoshuis was, was ek dikwels naweke saam met 'n maatjie na sy huis toe (elke keer op 'n ander plek, padkamp, sy pa het 'n lehorrie gehad) en baie aande dan gaan ons saam met sy pa en dié se broer poach. Elke keer het die outjie gesmeek dat ek en hy moet saamgaan en dan het die ma die pa omgepraat, die kinders wil dan so graag saam. As hulle nie 'n bok kry nie dan skiet hulle sommer 'n boer se skaap. Eenkeer het hulle die skaap gewond en toe moes ek en die outjie die ding inhardloop en vang, dis net snot en bloed gewees. Ek besef ek is bietjie van 'n huigelaar; ek eet vleis maar is nie bereid om 'n bok te skiet nie. Ek vermy ook 'n slagpale, ek dink ek sal dadelik vegetariër word as ek die slagting daar moet aanskou.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan
Ek tjip in. Ek weer het so 'n weersin aan enige vorms van drugs, dagga inkluis, dat ek met die Moeslems eens is (oa. Pagad) dat mense wat daarmee smous of kweek, ge-sharia behoort te word. Ek het eerstehandse kennis met mense te doen gehad wat verslaaf was en die gevolge van drugs moes dra, oa. depressie wat tot selfmoord lei; breinskade; beheer van sintuie verloor tot so 'n mate dat dit meerendeels tot kriminele optredes oorhel, in baie gevalle die oorsaak van ander onskuldiges se dood. En met 'n verhoor, word sodaniges onder die invloed van drugs se gedrag as versagtende omstandighede beskou!!!
Ouboet se oudste seun Andre, het op Wits geswat. Die druglords het sy kamervriend se arm afgekap, wat sy drug-skuld nie kon betaal het nie, as les vir ander verslaafdes. Nou wonder 'n mens oor Hans se omsamehangende skrywes hier op die Net?
Maar ja. Die verhaal van jou oupa en ouma aan die anderkant, gedurende en na die tweede EO kan heel interesante skrywe uitmaak, wat ek glo baie hier, myself inkluis, sal kan waardeer.
Jaco Fourie
Jaco
Jy's welkom om in te tjip
As drank verbied was, het die bootleggers dalk meer ouens as net jou broer se seun se kamermaat bygekom. Ek reken al hoekom dagga nog steeds onwettig is, is omdat daar 'n hele sub-ekonomie in Lesotho tot niet sal gaan.
Jan
Nou dagga, oormôre cocaine, LSD, ens. gewettig. Daar's reeds ’n "lobby" in die VSA, en veral Nederland, wat sodange drugs gewettig wil hê.
In Meksiko en Brasilië is dit so erg dat daar "no-go" zones is vir die weermag en polisie. Mitchell's Plein in S.A. is op pad soontoe.
Op die internet, oop vir almal om te besigtig, is videomateriaal wat wys hoe die "druglords" mense lewendig van hul gesigvel afslag, kastreer, met stomp mes onthoof, en daarna alle ledemate afkap. Die word daarna bymekaar geskraap en langs ’n hoofweg gepak as waarskuwing vir ander.
Kyk onder "Mexican cartel executions", en jy volg die een gruwelike skakel op die ander.
Jaco Fourie