Haikoe-kompetisie: Haikoes vir God deur Cecile Cilliers

  • 0

Digby God rus ek,
veilig opgekrul in
die stil skulp van sy oor.

Blink-silwer plotseling
die grys lood van die baai:
alchemie van God.

Op die sinkdak ruis die reën.
in my dors hart
drup-drup sy seën.

Die son breek die water
in duisend skerwe –
kaleidoskoop van God.

Vraagtekenende fyn varing  
krul oop, vingerpunt
wat wenk na God.

Noordewind bring reën,
koud stoot die suidewind.
Die Gees waai waar hy wil.

Hoog in die droë boom
Sit die langstert-suikerbek.
God sien hom raak.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top