Grensoorlogstorie: Na - en van ...

  • 0

Hy onthou hy – weerman Hans Linde – het eers so 22:30 daar arriveer. Die treinrit van Kimberley was lank. En hy moes nogal lank op die stasie wag vir die hospitaal se diensdrywer om hom te kom haal. Die tang het nogals ’n blou berei gehad. So hy is ’n transport ou, wat mense vir ’n hospitaal rondry. Hoekom hulle nie maar die arme doos ’n medic se rooi beret gegee het nie, is ’n oop vraag. Hy ry tog vir die militêre hospitaal. So mens verwag ’n rooi beret. Dit kon erger gewees het. Hy kon daai kots-kleur van die MPs ook gedra het. So, blou is okay vir nou. Dis minder kots as die Militêre Polisie  s’n, maar steeds ’n effense kots-kleur.

Jirre, mens is so disoriënteerd in die bruin fokkin uniform, en met die mense met die dik Sasolburg-aksent. Linde skakel heeltyd af van verveling en absolute aversie. Dis hoekom hy nie kan onthou wie hom ingevat het nie. Seker maar ’n medic. Dis donker as iemand hom die saal inlei. Genade, almal slaap. Die iemand sit sy bedliggie aan en verdwyn.

Dis ’n gevoel wat hy telkemale, toe, en sedertdien, leer ervaar het. Die skok van ’n nommer wees, in ’n wêreld van niksheid.

***

Hy moet seker maar sy paar goedjies in die hospitaalkassie neffens die bed sit. Hy begin dit doen, en skrik as ’n stem hier by hom praat.

“Ja, pak maar alles in die kassie.”

Dis ’n klein outjie in ’n snaakse gestreepte pajamapakkie. Hy het ’n flits.

Linde verwelkom onderbewustelik die onverwagse irritasie.

“Hei, amper dag ek jy’s ’n spook!” sê hy.

“ Ek? Nog nooit. Hemel.” Die outjievroetel ongemaklik. Skaam steek hy sy hand uit. “Scully.”

Hulle skud hand. Scully is eensaam. Hy is van plan om die nuwe geselskap goed te gebruik.

“Dis lekker hier. Jy sal hou daarvan.”

“Okay.”

“Was jy al hier?”

“Nee.”

“Dis lekker hier.”

Die outjie klink vir hom af. “Hoe kan dit lekker wees?” vra hy.

“Ons lees …”

“Lees?”

“Ja, daar’s ’n bib. Jy kry lekker boeke daar jong.”

“ En …?”

Hy sing effe die gesprek, soos hy melodieus aandui hoe velerlei die aktiwiteite hier is.

“Daar’s bo-ekeeee …”

“Ja?”

“En ons speel Karem. Daar’s ’n bord daar.” Hy wys in ’n afgeskorte area daar diekant iewers.

“Wow.”

“En ons … lee-hees …”

“Rêrig?” is wat nie onbeskof sal klink nie, maar hy sal nie omgee as die gesprek – wat nou omsit in herhaling, ophou nie.

“Ja-ha. Ons mag buite sit. Daar’s ’n bankie. So mense wat rook sit nogal daar, want jy mag nie hier binne rook nie. Om almal hier gesond te maak, jy sien. Dis mos ’n hospitaal.

Hy pak die laaste goedjies. Scully vat sommer die leë sak. Linde reageer, deur met ’n vraende gebaar te vra:  Hei, wat doen jy?

Scully verduidelik: “Almal se sakke staan daar.” Weer die wys na die area waar die Karem-bord glo ook is. Linde knik. Scully gaan bêre die sak, en kom terug.

“Hier’s ’n bib ook. Hulle help jou boeke uitvat, en dan lees ons. Ons speel Karem. En jy kan hier buite op die bankie sit.”

Niemand sê niks nie.

“Okay. Ek gaan slaap,” sê Scully.

“Hoe laat staan almal op?”

“Voor Dokter se saalronde, net na brekfis. So brekfis is halfsewe. Dokter kom so kwart oor sewe. En in die middag ook party dae.”

“Halfsewe. Shit. Okay laat ek slaap.”

Hy sit sy bedlampie af. Dis grafstil. Scully staan net daar – bedroë. Na ’n rukkie skakel Scully die flits aan en vind sy pad bed toe. Van sy bed af, as als donker is, sê hy sag: “Lekker slaap.”
                                                                        ***
Hy onthou hoe welkom die dag se beligting teen die mure verander het na die geel-oranje van oggend. En die amperes agorafobie soos  algemene ligte opkom met die Nurse wat inkom en rondbeweeg.

Die pasiënte wat nie slaap nie, roep: “Nurse, hey Nurse”. Of:  “Stukkie!” Hy sal later agterkom die twee saalboorlinge wat reeds met mekaar gesels, is Steyn en Vlokkie.

Hy onthou … toe Nurse terugkom, het sy ’n rolstoel met ’n persoon ingestoot. Steyn en Vlokkie is op dieselfde golflengte en voer aangename geselskap. Van Steyn wat beweer na hy daai eerste bok geskiet het, moes hy die oog insluk. Vlokkie wat antwoord: “Wat? Soos in daai ou Boesman-leesboeke, van Jan J van der Post?”

Die nurse kom verby: “Daai badskamer, is duiwelsbadskamer.”

Linde onthou dit het te doen met die oordosis pille wat Nissen altyd daar gaan drink het.

Scully skud almal se hand met die wakkerwordslag. Hy kondig van doer af oor die vloer aan: “Hiers ’n nuwe ou. Hier’s ’n nuwe ou. Kyk.” Hans Linde onthou hoe die moerse Frankl opgestaan het, bo-oor die saal getoring het, en sy hand kom skud het.

Alhoewel almal se aandag getrek word deur einste Nissen se gekerm in die “doer” afgeskorte area, met die leë sakke,  Karem-stel, en selfmoordkandidaat, is almal al bietjie teë van Nissen se verhaal.  Plaas hulle hom net huis toe stuur.

***

“Nurse, bly hier! Tot dokter kom. Wanneer kom dokter?” vra Frankl.

“Dokter se rondes begin nou-nou.”

 Hy onthou hoe trots Frankl was.

“Dokter is vandag eerste by my.”

Uit die “doer”-area, waarheen Nursey met die man in die rolstoel verdwyn het, hoor ons Nissen roep. Hy vra ook: “Wanneer kom dokter?” Die nurse skel terug: “Wanneer die moffies ophou slaappille steel om mee dood te gaan.”

En toe is die dokter daar. Amper asof sy skuldig voel, verduidelik sy dadelik, met ’n knik van die kop na die “doer”-deel. Dis waar Nissen slaap. “Hy’t weer vanoggend probeer.”

Dok was vriendelik met weerman Hans Linde. Hy was ook vriendelik met skutter Steyn, alhoewel hy van die lêer kon aflees dat hy die weermagbasis in Kimberley se kombuis probeer afbrand het.

“En toe hulle jou kry, wat was jy aan die doen?” vra hy omdat hy nie die skrif lekker kan lees nie.

Gecrack, dok.”

Dokter Alberts herhaal skepties: “Gecrack?”

Dit was seker ook Dok se reaksie toe hy Annandale se leer gelees het.

“Gecrack? Jy is admin? Is daar baie druk op julle?”

 

Oor sy eie lêer was Dok se vraag dieselfde. “Spanning?”

Hy knik.

“Dit veroorsaak dan die Enurese, dink ek.”

In die weermag praat jy nie baie nie. So hy knik weer net.

“Welkom. Ons sal jou ’n rukkie hier hou en kyk wat ons kan doen.” En die dokter loop oor na die reuse-soldaat in ’n kleur-gestreepte weermag-issue kamerjas.  Als is mos standaard issue. Soos sokkies. Men/Standard/Cushion-sole/All sizes.

“Dok, ek dog ek’s vandag eerste,” is die openingswoorde van die reus in sy ice-cream pakkie, Frankl, terwyl sy klein verwelkomingskomitee van gisteraand, Scully, ook “Dok, dok …,” met sy vingers in die lug, kliekende soos ’n laerskoolkind.

Frankl se basstem klink voort: “Kom Dokkie, vandag is dit ek en jy.”

“Is jy al lus vir huis toe gaan Frankie?” vra die dokter.

Frankl grom opgewonde by die blote aanhoor van die gedagte!

“Sit jy eers net hier op Uncle Sam se bed vir ons.” Frankl wip kinderlik met sy groot lyf tot op die bed.

“Ek dink hy’s reg dok.” Hy skarnier sy been lustig.Frankl had so ’n kinderlike stempel, wat nooit duideliker kon wees as wanneer hy sy kitaar speel nie – sulke eenvoudige Afrikaanse liedjies –  baie mooi en eenvoudig. Onderwyl hulle twee se gesprek voortgaan, beginVlokkie onopsigtelik twee Karem-stukkies teen mekaar stamp. Dit pla oënskynlik niemand nie. Net vir Linde. Want hy’s nuut hier.

“Amper daar Ou Grote. Ons wil als net mooi service voor jy gaan.”

Volgende is Steyntjie. “Môre Dok,” sê Steyn.

Die foon lui weer, en die nursie sit af soontoe.

“Hoe voel jy vanmôre?”

“Fyn Dok, dankie.”

“Jy wens jy was op die grens, nè Steyn.”

“My maatjies is almal laasweek weg.”

“Nou’s jy miskien op pad huis toe.”

Die nursie roep die dokter vir telefoon.

“Steyntjie, net ’n oomblik. Ek is nou terug.”

Annandale, ’n ou wat lyk soos ’n tweedehandse car dealer, snou vir Vlokkie, wat die Karem-stukkies teen mekaar stamp, toe: “Shut the fuck up.” Nissen, steeds agter die afgeskorte deel, gil, nes die dokter teruggestap kom. Dokter knik net met die kop vir nursie om daar te gaan kyk, en sy skarrel soontoe.

Die dokter se aandag is weer by Steyntjie. “Jy sê liewers grensdiens vir jou, as huis toe?”

Steyn trek sy skouers op.

“Ek dink dit sal maar huis toe wees.”

 Is daar groot fout, Dokter?”

“Jy wil grens toe gaan?” Dok meet Steyn. Baie mense is nie so begeesterd nie.

Steyn knik.

“’n Week voor julle grens toe gaan slaan jy jou luitenant met ’n graaf plat?”

“Ek het nie geweet …”

“Toemaar, jy hoef nie te verduidelik nie. Die uitslae van ons toetse het gekom. Die skriftelike verslae waarvoor ons gewag het?”

“Ja, Dokter?”

“ Jou verslag sê jy was nie compus mentis nie.”

“En nou Dokter?”

“Wel, ek dink die mediese raad gaan nie ’n minuut nodig hê om te besluit dis huis toe met jou nie.”

Asof dit al is wat nodig was, spring Annandale op en loop die ent na Vlokkie toe. Vlokkie vries met die Karem-stukkies wat hy die hele tyd gekap-kap het.

“Watch it. Ek sê jou, shut the fuck up,” sê Annadale vir Vlokkie. Hy lyk amper ongemaklik met sy eie handeling.

Die nurse klink vaal met haar. “Toe, toe. Kom nou. Dis doktersrondtes.”

 Annandale sis vir Vlokkie: “Pasop Kabouter. Ek woon hier.”

Nursie probeer haar stempel op Annandale afdruk. “Kom nou troep!”

Die dokter gaan net aan met sy werk.

Annandale draai weg: “Jy kuier hier!”

As Vlokkie weer sy stukkies stamp teen mekaar, vlieg Annandale om. Hy skiet vorentoe tot omtrent op Vlokkie met ’n “I said shut the fuck up.”

Soos jy kan sê “mes” is Vlokkie regop en staan square voor hom. Vlokkie is korter as Annandale. Hy is doodstil. Klein Scully lag of huil ’n eienaardige, gefassineerde angs- geluid.

‘I said shut the fuck up with those pieces. You heard me, did you?! Vlokkie reageer nie. Hy staar net doodstil vir Annandale. Nursie het Annandale nou aan die arm en vat hom bed se kant toe. I told you, I know your address. I live here, you visit here.’

Nursie “toe, toe” en kalmeer hom op pad na sy bed toe.

Dokter het een keer onderdeur gekyk na wat aangaan. Sy aandag by Steyn bepaal.

“Steyntjie, jy moenie so bekommerd lyk nie. Kyk, wat gebeur …” Hy kyk besorg na Steyn. “Weet jy wat gebeur?”

“Nee Dok.”

“Kyk, mens se brein werk soos ’n rugbyspannetjie. Die spelers weet elkeen wat sy rol is, en almal speel saam. Maar op ’n warm dag, raak party ouens moeër as ander, party kan nie die hitte vat nie en wil sit, party kry krampe … Nou, seker deur julle harde opleiding – dis wat julle doen voor julle na die deurgangskamp daarbo gaan, né …?”

“Ja, dok.”

“Nou, dit lyk of ’n klompie faktore saamgewerk het om net op die regte dag op die regte tyd jou manne téén mekaar te laat speel. En toe …”

“Slaan ek die luitenant met ’n graaf.”

Dok trek sy skouers op.

“Ja, na jy die kombuis afgebrand het.” Hy vou die leer toe. “Ons praat weer môre.”

Dokter raadpleeg lêers, en stap na die volgende bed toe. Steyntjie stap stil na Vlokkie toe. Vlokkie kyk op. Steyn knik sy kop in Annandale se rigting.

“Nee, almal op hul beddens tydens doktersrondes,” laat hoor Nursie.

***

“Annandale  was hier so 5 weke terug,” vertel Steyntjie vir Vlokkie. Hy vertel Annandale het kom kuier by ’n ander ou wat ook agter Nissen se afskorting was. Daai ou was ook gay. Die ouens crack op, want die troepe, korporaals, almal by hul eenhede gee hulle ’n slegte tyd. Dis hoekom Nissen homself cut. Hy het al twee keer pille gedrink om selfmoord te pleeg. Een keer sy polse gesny. Hulle red hom altyd.

Vlokkie kyk net. Hy luister.

“So hulle gaan Nissen een of ander tyd huis toe stuur. Steyntjie gaan klaar huis toe. Annandale wil ook huis toe gaan. Maar hy makeer niks. Hy wou net ’n scene maak voor die dokter. Hy het daai tyd die malsaal een kyk gegee en gesê: ek gaan huis toe.”

***

Linde onthou - een aand is dit stil in die saal. Amper ligte-uit-tyd. Vlokkie, die klein recce, vertel Steyntjie van die dag op Bok se pa se bakkie.

Frankl het vroeër bietjie kitaar gespeel, en sit rustig en TV kyk.

Bok was Vlokkie se skoolpel. Hulle sien ’n bok. By hulle op die bakkie is die ou oom  - wat op 92 nog al die hekke moes oop-en toemaak; hy sien die bok. Bok, dis nou die mensbok, mik. Almal eerbiedig gewyd die oomblik, en hy skiet. Hy was in hulle skool se skietspan. Hulle het nogal ’n skietbaan by die skool gehad.

“Hy kwes hom - deur die rugstring; die bok sak net daar neer. Jy kon eintlik op die afstand sien en hoor hoe snork en blaas sy. Haar oë dop om van die vrees … of die pyn, maar sy kan nêrens.”

Bok se inisiasie na die grootmenswêreld was eintlik ’n mislukking … Sy senuwees was op, oor die outoppies saam met ons op die bakkie.

“Jissou,” deel Steyn die teleurstelling.  “Toe gee hulle hom ’n doodskoot?”

“Nee, die ou oom moes. Die oom wat die bok eerste gesien het. Wat die hekke oop-en toemaak. Om een of ander rede … seker oor hulle dit wou laat voel asof Bok se skoot gewerk het, laat hulle die oom toe die bok se rugstring afsny. Hier by die nek.”

***

Dis die aand, onthou Linde – toe skree Matrone: “Slaap nou! Die ligte gaan nou af en dis dit. Hoeveel keer moet ons dit sê? Het julle nie horlosies nie! As die stafsuster my weer moet kom roep, is die hel los!”

En sy sit die TV, wat hoog bo op ’n arm uit die muur uit staan, af deur op ’n klein voetstoeltjie te klim.

Frankl wat op ’n stoel reg onder die TV sit, vra, terwyl Matrone nog oor almal tuur: “Wat maak matrone nou?”

“Shut up en slaap.”

Frankl staan op en sit die TV aan. Hy het nie die voetstoeltjie nodig nie. Hy sit weer in sy stoel.

“Wat de hel doen jy troep?! Sit af die bliksemse TV!”

“Ek kyk nog Matrone. Dis my program.”

***

Matrone het daai TV seker 3 keer afgesit, elke keer met dieselfde moeite – uit met die stoeltjie, op die stoeltjie - met die swaar-erige lyf, terug met die stoeltjie. Elke keer staan Frankl op en sit die TV aan. Dit was glo sleg vir ’n TV in daai dae om so aan-en afgesit te word.

Hy onthou Matrone se taal het al hoe meer uitgerafel.

“Jirre! As ek my sonde nie ontsien nie! Fokken bliksem. Dink jy dis ’n sirkus?”

“Matrone, ek het nie vir matrone gevloek nie.”

“Sit af daai fokken TV.”

Toe sy weer op die stoeltjie wou klim, tel hy haar op en sit haar op die vloer neer. Hy kon daai opteltriek doen. Die een dag het hy ’n skoonmaker opgetel, op sy bed geklim, en die skaam, laggende man aan sy kraag aan die gordynreëling gehang. Daar het die man gehang, heimlik gelukkig oor die aandag, en almal wat saamlag, en oor die effense verandering in sy elke dag-daaglikse vee-roetine, tot Frankl hom self later afgehaak het.

Vanaand word stafsersant van die militêre polisie gebel, en man moet agter sy whiskey uit, voor sy TV op De Brug. Want hy is  genooi om kak te kom uitsorteer met ’n reus wat na 3 jaar as recce sukkel om aan te pas, en boonop kak het met sy knieë.

Terselfdertyd probeer Nissen weer selfmoord pleeg, omdat hy dit nie kan uithou tussen die militêre gespuis, wat hom veroordeel omdat hy gay is nie. Fok, hy’t nie gevra om hier te wees nie. “Stuur my dan net huis toe. Ek’t nie gevra om hier te wees nie,” het hy telkemale, met blou sakke onder sy oë, elke keer na ’n selfmoordpoging, gesê.

Matrone sal nie maaind om saam met Staf plaas toe gaan by De Brug nie. Linde dink aan die liedjie: “Gee my springbokbiltong, gee my boerbeskuit …”

Matrone slaan Frankl ’n moerse hou teen die skouer. Frankl bly kalm. Daar groter dinge om oor te worry as dit.

Die troepe het al vertel, hulle sien Staf baie oggende vroeg – by  die eenheid daar langs die bats s’n, soggens as Staf terugkom met die bakkie springbokke. Die bokke lê soos ’n hoop vullis agterop inmekaargevleg, moer toe stukkend geskiet met masjiengewere. Troepe moet boonop nog die goed vir hom slag en die kak van die derms en die vleis en die stukkies fucked up geskiete beenflentertjies skei ook.

Matrone skree vir Frankl: “Troep! Jy is in die DB, môre!” Sy draai om en loop. Frankl sit na ’n rukkie se stilte die TV af, klim in sy bed, en draai op sy sy. Hy lê doodstil. Frankl wat glo Jimmy Abbott op skool in hul gewigsgroep uitgeslaan het in boks …

***

Almal is teen dié tyd weer wakker. Als is donker. Scully sê:Staf sit bedags daar agter in die stoor van die hospitaal, en eet sy toebroodjies by daai coloured korporaal sonder tande. Daai stoor-korporaal suig mos sy toebroodjies, want hy kan nie byt nie. En baie keer gee Staf sy toebroodjies vir die korporaal, want dan is daar te veel splinters beentjies in die vleis, soos hulle dit met die machine guns stukkend geskiet het.

“As hy dit so suig, kan hy die been splinters uitfilter – soos ’n walvis,” sê Steyntjie. Na ’n rukkie: “Wat gaan maak jy by die stoor?”

“Ek het een keer op die bankie hier buite gesit, toe sien ek daar kom ouens daar uit. Toe gaan kyk ek.”

Weer stilte.

“Ja en die troepe steel elke aand op ’n naweek petrol by die Bedford-lorries wat daar park. So hulle maak pelle met die stoormanne.”

Stilte.

“Staf sit altyd daar en dan sê hy skielik, as hy sy bal krap - Hierts, daar’s al weer ’n hoer in die Kaap dood.” Scully maak sy stem skor soos hy Staf naboots.

***

Frankl het nie juis oor die recces gepraat nie. Een storie wat hy vertel het, was van 32 bataljon. ’n Pel van hom van varsity, kom doen ’n kamp in die universiteitsvakansie. Maar die ou is toe ’n kaptein, want hy is mos nou klaar met diensplig. Maar nou doen jy mos nog kampe. So Stellenbosch-kommando sleep hom daar uit die Dros uit, en ry hom Grootfontein toe. Daar kry hy vir Frankl. Frankl is op pad saam met 32 in Angola in. Hulle maak oorlog agter die opposisie se gevegslinies. En sy pel was in sy dienspligdae 18 maande by 32. Frankl reël die ou moet sommer saam met hom 32 toe vir sy varsity kamp. Hy’s skaars daar, toe stuur hulle hom in die bos in as bevelvoerder van ’n formasietjie. Hulle is pas in, toe hoor hulle terrs. Die terrs maak hulle kop se kak, hul skiet. Dis … ag, seker ’n kliek van die Khuka shop naby Savate. 32 skiet terug. Nou hardloop die terrs. Frankl se pel lei die hakkejag, en skielik is die terrs gone. Skoonveld. So die ou sê vir die paar ouens onder sy bevel: “Kom, ons donner hier in die bunker in, hulle is sweerlik daar.” Hulle doen so. Daar onder is ’n klomp mieliesakke. Hy sê: “Kom ons sleep die goed uit.”

Kyk, hy was toe onfiks, hy het die drills vergeet, hy het geskrik vir die oorlog – hy was mos nou lank weg – so hy was verward. En hulle sleep die sakke weg. Toe is dit ’n booby trap. Die ontploffing blaas die Unita Portugees se gesig weg – hy was reg agter die sak soos hy hom sleep. Maar hy lewe – nou nog. Frankl se buddy was so half sywaarts gedraai. So hy vat toe die slag sagter – maar hy het daarna vir altyd sulke groen vlekke in sy gesig gehad van die skrapnel. Hy kon rook deur sy ore blaas. Sy sig was ook sleg aangetas. Uit een oog kon hy 20% sien; uit die ander oog 80%. Hy was ’n kunsstudent.

***

Linde onthou - Scully het eendag agter die afskorting gaan gesels met Nissen. Toe kom hy af op een van Nissen se cutting sessies. Mens weet nie waar hy aan die lemmetjies kom nie. Dan lê hy daar en sny klein snytjies orals in sy borskas.

***

Scully het eendag vertel al sy pelle is grens toe. En toe gaan hy eendag siek rapporteer, en hy sê vir die dokter hy wil ook grens toe gaan – vir sy land, en vir sy ma en pa se trots. Toe sê die dokter hoekom is hy nie grens toe nie? Toe sê hy hy weet nie. Toe vra hy is Scully G4K4? Toe sê hy hy weet nie. Toe vra die dokter: “Staan jy partykeer en maak Pie-Po, Pie-Po as die ander ouens PT doen?

Scully sê toe ja.

Toe sê die dokter vir hom: Sien, dan is jy medies ongeskik. Dan klassifiseer hulle jou G4K3 of K4. Dan mag jy nie grens toe gaan nie. Hulle maak jou ’n admin klerk, of ’n stoorman of iets.

Hy sê hy het ’n gesin, hy sal nie lat Scully oppie grens kom en dan dink hy die gun is ’n toffie appel nie, en druk hy dit in ’n luitenant se hol op en skiet hom moer toe nie. Want dan  fire hulle hom wat dokter is, en wie kyk dan na sy gesinnetjie, as hy nie meer werk het nie?

Toe’s Scully kwaad jong. Hy’s na die kapelaan toe en hy sê: “Dominee, ek was my hele skool deur, tot standerd ag, ek het al gewerk, en nou wil ek grens toe.” Toe sê sy bevelvoerder hy moet basis toe kom. En die kapelaan bid en stuur hom terug. En toe hy daar kom wil die Majoor hom amper bliksem, want hy het nie die regte kanale gevolg nie. En hy wil ’n DD-1 invul dat Scully DB toe moet gaan. En jy weet wat dan gebeur nè?

“DB is tronk broer, tronk.”

“Ja, en as ek 30 dae in die DB was, dan klaar julle 20 Desember uit en ek eers 20 Januarie.”

***

Een oggend sê dokter Alberts vir Linde: “Jy het 3 oggende in ’n ry jou beddegoed geruil.”

“Ja, Dok.”

“Bednatmaak.”

In sy binneste slaak hy ’n sug van verligting. Die act werk. Hy moet huis toe.  Daarvoor pis hy die afgelope drie oggende regtig in sy bed, en dan maak hy of hy dit wegsteek van almal af.

“Ek wil jou toets daarvoor. Jy kan daarvoor ten minste dalk verplaas word nader na jou huis. Net dit.  Of dis net ’n nierafwyking. Dan is dit geneesbaar. Hulle sal jou nie van diensplig vrystel nie. Nie daarvoor nie …

“Moet asseblief net vir niemand sê nie Dokter. Ook nie vir my ouers nie.”

***

Dokter het aandag vir Matrone gesê hy weet nie vir wie hy die kwaadste is nie. Die “oorlog- entrepeneurs”, soos hy die ouens noem wat uit die army probeer uitkom,  of die donners wat die hele ou sous veroorsaak het nie. Maar dis al wat hy kon sê.

Wat hy by homself gedink het, was veel meer. Kan jy ’n mens kwalik neem as hy met als waaroor hy beskik probeer om uit hierdie kerker van oorhoopse skape te kom. Een ou, ’n pikkie, se meisie los hom terwyl hy nog op die trein is hiernatoe. Hy’s te jonk om te weet sy is anyway ’n player. Dis soos die einde van die wêreld vir hom, as hy nie by die huis kan kom nie. So hy speel mal, maak asof hy tonnelvisie kry, en asof hy byvoorbeeld nie langs hom kan sien nie. Waar de donner hy van die siekte en simptome gehoor het, weet niemand nie! Dis getuienis van hoe slim hy is. En hy het waagmoed. So hy loop voor ’n Ratel-pantserkar in om te wys hy is regtig blind aan sy kante. Maar die ratel ry vinniger as wat hy gedink het, en die ratel ry bo-oor hom. Hy is onmiddellik ontslae van die Transvalers en Sasolburgers met hul afgryslike aksente.

Nog ’n ou wriemel hom hier uit, om weg te kom van die lang drolle met die wieg in die knieë; wat elke Tronsvaalse woord wat hy sê soos varkoortjies omskulp. Niks hier in die Noorde is eg aan sy eie ras nie. Niks hier is eg aan sy provinsie nie. Of aan sy ma-hulle nie. Nie aan die 1 ste rugbyspan, of die tamboermeisies, of die skaaktoer, of fokkol van die dorpie van sy herkoms, waar hy nog onlangs iemand was nie.  

Nog een het ’n recce geword om wraak te neem op sy ouers. Nog een omdat hy lief is vir die natuur. Nie èèn oor hy swartes haat nie.

Nog ’n ander ou doen ook alles wat hy kan om hier uit te kom. By die huis kry sy ma swaar. Die skeisaak is wreed. Veel wreder as sy eie kak. Sy meisie is in die hande van ’n biker. Die ou het haar sommer aan dwelms ook voorgestel. Hy het gehoor as jy bednatmaak, is jy ’n verleentheid vir almal. Dan verplaas hulle jou nader aan jou huis. Dan kan jy saans by die huis slaap. By jou ma in haar beskeie plekkie; wat al is wat sy kan bekostig na Pappa haar kaal uitgetrek het.

***

Scully hulle speel Karem. Scully staan in die donker verlore met sy Karem cue, baie hartseer.

“Nee man, die ligte is te vroeg uit. Ons game is nog nie klaar nie. Hemel, man.”

Steyn het die flits.

“Ek sal vir jou op die bord skyn.”

“Nee maar nou wil Frankl nie meer speel nie. Hy slaap sommer.”

“Maak hom wakker.”

“Ek kan nie. Dis donker.”

Steyn skyn teen die gloeilamp wat uit die dak uit hang.

“Kyk, daar’s die lig nou weer lig.”

“Aag dis nie snaaks nie. Die ligte is te vroeg af.”

“Huh-uh.”

“Is. Ons speel elke aand na lees 3 games, en vanaand werk die tyd nie uit nie.”

Soms is daar regverdigheid in die hemel. Die ligte gaan aan.

“Ah! Sien jy. Ek was reg. Daar’s nog ’n game oor. Kom ons speel.”

Steyn is nie lus nie. “Ag nee, Hansie, ek lê nou lekker.”

Vlokkie is in.

 “Ek sal speel. Pak.

Niemand het nog ooit die necklace om Vlokkie se nek gesien nie. Tot Scully vanaand.

“Jis dis mooi. Wat’s dit?”

“Ivoorstukkies.”

“En die oranje?”

“Sommer ’n stukkie nylon van ’n lemoensakkie.”

“Waar kry jy dit?”

“Eh …”

Vlokkie gaan nie uit die een uitkom nie. Hy maak ’n duidelike gebaar of twee wat wys: toe ek in ’n hakkejag ’n terr doodgeskiet het, het ek dit van sy nek afgeruk.

“So jy het dit van ’n dooie terr se nek afgeruk?”

Nie Vlokkie se gunsteling-gesprek nie. “Demmit Hansie, los dit nou!” Hy stap na sy bed toe.

“Ag Vlokkie, ek sal nie weer vra nie.”

“ Nee.”

Die laaste lig word vermors deur ’n klomp bedremmelde ouens wat nie praat nie. Selfs die TV is af.

Steyn lag by homself.

Scully, wat soos ’n seuntjie op die rand van sy bed sit, vra deur die saamgeperste lippe: “Wat’s dit?”

“Ek kry mos eendag vir Frankl in ’n skietgat. Ons was onder, besig om die commissioned officers se teikens te doen. Daai Sammajoor Slingervel van die store by 2 Mob regiment – hy het mos ’n goue balkie. Wat wys hy’s ’n bobaas skut. Hy steek hom hier op sy stepout-baadjie vas. Weet jy waar kry hulle daai balkies?”

Scully: (Lag in antisipasie) “Nee?”

“Kan ek maar vertel, Frankl?”

Daar’s geen reaksie.

“Hy slaap. Vertel,” vra Scully.

“Ons staan almal daar onder in die skietgat, en Frankl is die onderoffisier. Nou skiet die outoppies daar bo. En ons moet met daai moerse rooi pyle wys waar hulle skiet. Later kom hulle vorentoe; na die skietwal toe. Hulle kom kyk waar hulle op die teikens geskiet het. Nou hoor ons die stemme hier bo. Slingervel kyk sy target so en sê: (Steyntjie maak ’n skril oumanstem) “Ag hel, bliksemse geweer. Ek skiet moer regs.”

Hulle hoor ver weg iewers ’n nurse gild at hulle moet shut up. Scully lag soos ’n kind.

Steyn praat effe sagter: “So nou gaan Slingervel en stel sy visier dat die geweer meer links moet skiet. Maar toe hulle skiet, skiet Slingervel redelik, maar Frankl wys met sy rooi pyl nog al die tyd regs. En daar’s ’n radio.  Nou sê hulle op die radio … (Steyntjie maak ’n skril oumanstem) Waar skiet Sammajoor Lingenvelder?

Want wat gebeur nou? Die outop verstaan nou nie? Hy het nou reeds met sy visier toegelaat vir die regs skiet. So hy moet nou op target wees. Maar nou sien hy die rooi pyl wys hy skiet steeds moer regs.

So op die radio hoor ons: “Lyk my Sammajoor Lingenvelder skiet steeds moer regs. Wys gou weer sy skietgate.”

So nou crack Frankl en wys weer regs.

“Agh!” hoor ons op die radio, “Sammajoor Lingenvelder skiet steeds moer regs!”

Nou mik Slingervel nog linkser, want hy vertrou nou nie meer sy visier nie reg. Nou sien ek hy skiet die teiken heel mis aan die linkerkant. Daar’s nie eens meer een skoot wat op die papier land nie. En die mense weet natuurlik nie of Slingervel links of regs verbyskiet nie. En as hulle moedeloos vra op die radio: Waar skiet Slingervel?, dan skree Frankl soos ’n malman …

Sammajoor Lingenvelder skiet moer regs.

Wel, hulle het nie eens na sy teiken kom kyk nie. Hulle is knorrig daar weg en reguit stoor toe om vir Slingervel die jongste Goue Balkie aan te sit. Hoekom nie? Dis sy stoor.”

Na ligte-uit, na ’n ruk se stilte, sê Scully: “Steyntjie. Ek gaan by jou en jou vrou kom kuier as ek uitkom. Nog net 18 maande. Een van die dae begin tel ek die dae.”

Na nog ’n rukkie se stilte sê Vlokkie saggies.

“Hansie, you can have my necklace when either of us leave here, okay.”

***

Dark horse. Steyntjie. Wat wou grens toe, maar toe klits hy die luitenant. Nou kan hy huis toe gaan. Maar hy wil nie. Hy sê om sy pa-hulle te help ja. Hulle is oud. Hulle mis hom. Hulle boer swaar. Steyn lees nogals die Bybel. Eer jou Vader en jou Moeder.

Hy het eendag stil net daar gelê en die brief gelees. Strain gevat. Sorry Johnny, ek het ’n ander ou. Ek skei jou sommer van hier af.

Vlokkie se  Karem-stukkies wat teen mekaar kap, maak soveel sin.

***

Die oggend kan Annandale dit nie meer vat nie.

‘Same bullshit story. No attention here. Hurry up and wait. Nobody does nothing. Everyone is fucking around.’

Die Karem-stukkies tik-tik teen mekaar.

“Jy kan op jou bed wag vir dokter, Annandale,” sê die nurse.

‘More people dying here than anywhere else. Even on the border.’

Annadale gaan sit op sy bed se rand, en sê vir Vlokkie: “Stop fucking around with that shit. Don’t you have ears?”

Almal was al die kap-kap van die Karem-stukkies gewoond.

Asof gestuur, klink dr Alberts se stem op.

“Verpleegster roep vir my vir Annandale asseblief.”

Net toe dink Annandale die tydsberekening is perfek. Hy wil vir dokter Alberts wys hy hoort nie tussen mense nie. Iemand wat nie tussen mense hoort nie, kan mens wegvat tussen mense. En Annadale het – daai tyd toe hy hier by sy buddy kom kuier het, gesien dat dit moontlik is om ontslag uit die weermag te kry. Hy was toe in die parabats. Hy het eers gedink hy gaan eendag ’n ‘legend’ terug huis toe.

Maar hy kon die afkak nie juis vat nie. Maar hy was destined om ’n parabat adminklerk te word. So, die volgende beste ding is – huis toe. Balbak in civvy straat.

So hier is sy finale scene. Die laaste strooi. Voor hulle hom gaan huis toe stuur, omdat hy wild is. Omdat hy mense aanrand. Gevaarlik. Onder die dokter se neus.

Hy storm Vlokkie. “Stop fucking around. I told you. Recce shit. Think you can irritate people as you like!” Maar die oomblik wat hy opdaag, en een vuishou swaai, kry  Frankl vir Annandale van agter beet, om hom uit sonde te hou. Frankl gryp al twee sy arms vas. Maar Vlokkie het ongelukkig klaar momentum met die hou, wat bedoel was as verweer teen die vuishou wat hy sien kom het; waarvoor hy nifty effens links geleun het. Uit Annadale se vuis se pad sou leun het. Sy eie hou is ’n pragtige hou, wat Annandale op die oog tref. Frankl los Annandale, en dié steier na die sykant waar dokter hom laas geroep het.

Die verpleegster skree: “Magtag mense, wat maak julle! Is julle kinders? Ek dag julle is seuns, maar nou sien ek julle is kindertjies.”

Dis die storie. Die storie van die vuishou wat Annandale se lewe verander het. Hy het verskoning vir almal gevra, is terug eenheid toe, en is seker vandag klaskaptein daar.

***

Hy onthou die einde. Voordat hy verplaas is na naby sy ma se  huis. Omdat hy bednatmaak.

Hy het sweerlik die idée gekry dat dokter Alberts weet dis ’n gippo. Maar die dokter het savvy gehad. Hy het gewéét …

Dit was die dag toe Scully agterkom daar’s weer iets met gay skutter Nissen aan die gang. Weer ’n selfmoordpoging.

Hy onthou Matrone was weer ’n scene aan die gooi, toe Scully verskyn daar van agter Nissen se afskorting.

“Nurse, Matrone, kom, GOU. ”

En hy loop bed toe en gaan lê op sy maag. Agter die afskorting hetNissen gedemp gekreun …

Matrone het die manne aangevat, een vir een.

“Aha, Frankl, hier’s jou worst nightmare. Jou matrone Olckers. Jy word al korter omdat jy nie slaap kry nie. Jy weet mens groei as jy slaap! Maar lê mos jou rug af op die stoel voor die TV!”

Sy was net lus vir kak praat. Dis anyway al wat sy kon doen.

Scully het weer van sy bed af geroep. “Kom GOU”.

Annandale was nog nie eenheid toe nie. En hy het opgekom vir Frankl.

“Matrone, hy kyk net een keer ’n week één program wat na ligtetyd is.”

How the world changes!

Waarop Matrone reageer het.

“Ag so, die parabat het sy tong terug. Noudat jy jou oog verloor het. Nou gaan ons maatjie huis toe?

“Eenheid toe,” was Annandale se antwoord. 

***

Scully het lê en bloei. Eers na Matrone klaar haar praatjies gemaak het, het sy by Nissen uitgekom. Sy polse was beide gesny. Dis waarmee hy besig was, toe Scully hom probeer keer het. Toe hy Scully met die moerse mes in die maag gesteek het. En sy polse verder klaar gesny het.

Scully het daar op sy bed gaan lê, en van die gedagtes wat deur sy kop gehardloop het, was iets wat Vlokkie vir hom gesê het, die dag toe hy buite by die bankie, in die son, vir hom die ivoor-stukkies-necklace gegee het.

“Toe ek die ou inhaal en hom skiet, het ek geweet dis ek of hy. Ek het hulle agternagesit, omdat hulle op my geskiet het. So ‘dog eats dog’. En toe ek hom het, dog ek seker ek wil dit vir mense kan vertel. Wie sal jou glo as jy vertel van al die kak wat aangegaan het. En toe ruk ek die stukkie tou van sy nek af.  Daar was kloooomp ivoorkraletjies aan. Maar die oranje toutjie het gebreek. En ek moes die stringetjie in my hand toevat. ’n Hele paar stukkies ivoor het weggeval. Want ek was haastig. Want daar was nog van hulle - die mense van die ander stam, wat my wou skiet …

“Dis maar eers toe ek in die states sit en dink: Fok, die kraletjies het mos aan iemand behoort! Aan ’n mens. Dalk was dit sy ma s’n, of sy meisie s’n. Sy boyfriend s’n? Of sommer net syne. Dalk was dit net vir hom mooi.”

Toe het hy besef: “Mens kan nie al die kraletjies ooit bymekaarhou nie. ’n Paar sal altyd wegval.”

Was die laaste woorde , onthou Scully, wat deur sy kop is, toe die bloeding sy finale  tol geëis het.

Albert Maritz

Stuur vir ons jou Grensoorlogstorie en wen Eye of the Firestorm deur generaal-majoor Roland de Vries, uitgegee deur Naledi-uitgewers. Klik hier vir nog besonderhede.

Koop Eye of the Firestorm nou by Kalahari.com  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top